Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie!

Eff 6:10-17

 INLEIDING

Liewe gemeente, ons was die vakansie in Mosambiek tydens ‘n uitreik van ons gemeente.   Daar het geod gebeur wat  my weer laat dink het aan wat Paulus aan die gemeente in Effese geskryf het.  Teen wie veg ons in hierdie lewe, terwyl ons nog nie in die hemel is nie?  Moet ons die wapen opneem teen almal wat ons lewe bedreig?  Moet ons hulle haat met ‘n passie, soos Dawid in Ps 139:21[1] die vyande van God gehaat het?  Wie is ons eintlike vyand?

Effese

Paulus skryf aan die gemeente in ‘n tyd toe hy in die tronk gesit het omdat hy die evangelie verkondig het.  Hy skryf hierdie brief aan die gemeentes in Klein-Asië in ‘n tyd waarin die Christendom vervolg is.  Klaudius was die keiser en het die Christene en Jode die skuld gegee vir elke moontlike oproer wat daar was.  Van een so oproer lees ons in Hd 19 wat deur ‘n silwersmid begin is.  Efese was die kultiese-hoofstad van Artemis, die god van die tyd.  Aanbidding van Artemis het gepaard gegaan met baie seksuele promiskuïteit en magiese towery.  Onder Nero se bewind was die vervolging so erg, dat selfs die nie-Christene hulle jammer gekry het oor Nero se boosheid.  Dit het niks beter met hulle gegaan as met ons nie.  Hy het waarskynlik net so ‘n goeie rede, miskien selfs ‘n beter rede as ons gehad, om die wapen op te neem en ‘n oorlog te voer vir God. 

Lees ons ooit dat hy die gelowiges aanspoor om die wapen op te neem teen die bose?  Nêrens?  Inteendeel in 2 Kor 10:4 skryf Paulus: Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig.  Daarmee vernietig ons die redenasies en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak. en in 2 Kor 6:7 – Ons wapen vir aanval en verdediging is om die wil van God te doen.

Paulus se stryd was ook nie teen die owerheid van sy tyd nie.  Die gelowiges in klein-Asië se stryd was nie teen die mense rondom hulle nie.  Hulle stryd was nie teen keiser Klaudius of Nero nie, maar teen die bose geeste in die lug.  Onsigbare vyande, nie iemand wat hulle met ‘n wapen kan gaan aanval en in ‘n geveg betrokke mee kan raak nie.

Ons Stryd

Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie…!  Dis wat die Woord van die Here vir ons wil sê.  Dis nie ons stryd hierdie nie.  As mense so boos geword het soos ons die afgelope tyd gesien het, – nie net in Amerika nie, maar selfs die moorde en aanvalle hier by ons – is dit nie hulle velkleur of hulle fanatisisme wat hulle so gemaak het nie.  Dis gewoon die bose gees, die magte van hierdie wêreld.  As mense boere sommer net vermoor, mense dood skiet vir geen rede, of vir ‘n paar rand; as anargie heers, as iemand ‘n magtige land en 6000 onskuldige mense se lewens so probeer ruïneer, is dit niks anders nie as die bose gees wat mense wil verwoes nie.  Dis wat ons vandag moet raak sien.  Ons is in ‘n geestelike oorlog betrokke; ‘n oorlog wat nie nuut is nie maar wat al geveg word van die begin van die sondeval af.  ‘n Oorlog waarin die duiwel reeds verslaan is, maar waarin hy probeer om so vir oulaas, nog te kyk wie en wat hy kan verwoes.  Dis soos ‘n gekwesde buffel – hy’s aan die vrek, maar tot dan is hy uiters gevaarlik! 

Dis ons vyand!  Nou wil ons met gewere en allerhande menslike wapens hierdie oorlog veg?  Is dit ons Groot Opdrag uit die Bybel om die wapens op te neem en hierdie boosheid uit te roei? 

Ons Wapens

Moet ons die wapen opneem?  Die Bybel sê ja, maar nie soos óns dink nie.  Nie ons rewolwers en gewere om te begin skiet en reg in eie hande te neem nie, al voel ons so!  Die Bybel sê ons moet ons bewapen met God se wapens.  Ons moet onsself bewapen as ons enigsens hierdie stryd wil oorleef.  Ons vyande staan nie onder beheer van die Heilige Gees nie.  Hulle word aangehits deur die duiwel.  Dis teen wie ons veg, en ‘n rewolwer gaan geen duik maak in die duiwel en sy magte nie.  God se wapens wel!

God rus ons toe vir hierdie oorlog.  Die krag wat ons vir hierdie oorlog nodig het, gee God deur Sy Gees met die wapenrusting wat Hy voorsien:

  1.  Die waarheid
    Dit is die belt met die rewolwer wat ons om ons heupe dra.  In die ou tyd was dit die heupgordel wat die soldate se harnas bymekaar gehou het.  Die duiwel is meester van die leuen.  Sy werk is om ons om die bos te lei.  Ons moet die leuen rondom ons ontmasker.  En die enigste manier hoe ons dit kan doen, is met die waarheid van God se Woord.  Die waarheid ontbloot die leuen waarmee ons om die bos gelei word.
  2. Vryspraak
    Die duiwel juig as ons twyfel oor ons vryspraak in Christus, want dan het hy een soldaat vir Christus geëlimineer.  God verseker ons, as ons in Christus glo, is ons vrygespreek van die aanklag van die duiwel, en ons kan hierdie oorlog teen hom veg. 
  3. Verkondiging:
    In plaas van om die misdadiger, wat onder beheer van die duiwel staan, uit die weg te rym, klink dit vir my asof ons hom moet probeer wen vir die evangelie.  Maar, ons haat hulle met so ‘n passie dat ons nie eers kan dink dat hulle dalk ‘n Christen moet of kan word nie.  M.a.w., hierdie wapen raak aan die kern van Christen-wees – liefde.  As ons nie ‘n liefde het vir die verlore wêreld nie, gaan daar geen bereidheid in ons wees om die evangelie aan hulle te verkondig nie.  Voor óns tot bekering gekom het was ons niks anders as een van hierdie waarteen ons nou wil veg nie.  ‘n Mens is óf vir Chrusts, óf teen hom!  En toe ons nog teen Hom was, was ons niks anders as ‘n misdadiger en ‘n terroris nie!  Een van God se wapens is ‘n innerlike liefde, wat net God kan gee, om die evangelie aan hierdie ouens wat ons so haat, te verkondig.  As hulle tot bekering kom, is hulle nie meer moordenaars, verkragters en terroriste nie, en is die duiwel verslaan!  Daar’s ‘n gesegde wat sê: “Die bloed van die martelare is die saad van die kerk”; wat beteken dat, nog altyd waar daar mense vir die evangelie dood gemaak is, die evangelie juis daar gegroei het.  Die getuienis krag van mense wat gedood word ter wille van die evangelie, is onkeerbaar.
  4. Geloof as skild:
    In die ou tyd was ‘n skild ‘n belangrike wapen teen brandpyle.  Geloof is ons skild.  Geloof dat hierdie stryd nie ons stryd is nie.  Ons is maar net soldate in Sy diens.  1 Joh 5:4 sê: want enigeen wat ’n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof.
  5. Helm:
    ‘n Ander lewensbelangrike deel van ons liggame is ons kop.  Selfs ‘n sagte klip of stamp aan ons kop kan ons lewenslank buite aksie sit en selfs doodmaak.  Verlossing is ons helm.  As ons eers begin twyfel aan ons verlossing, is ons net so buite aksie, geneutraliseer soos wanneer ons twyfel oor ons vryspraak. God gee ons die versekering in Sy Woord dat ons verlos is en daarom nie aan die kant van die duiwel is nie.  Ons vrees vir die dood, maak ons kragteloos; of laat ons met die verkeerde wapens veg.  Die Woord sê nie ons moet onverskillig raak nie, maar veg met die wapens van God sonder vrees en twyfel aan ons verlossing.
  6. En dan ons hoof-wapen –  die swaard.  Dis die enigste aanvalswapen wat hier genoem word.  Die ander is almal vir verdediging.  Ons aanvalswapen is God se Woord.  Met God se Woord en kennis daaroor kan ons al die aanvalle van die duiwel afweer.  Trouens, dis net deur God se Woord (Heb 4:12) dat ons kan weet van die ander wapens soos verlossing, waarheid, vryspraak, geloof. 

Paulus sê aan die Effesiërs:  soek julle krag in die Here – biddend!  Kry die wapenrusting van God biddend.  Veg hierdie veg met God se wapenrusting, maar nie sonder gebed nie.

 SLOT

Beteken dit nou dat ons niks moet doen nie en toelaat dat hulle, al word hulle dan nou aangevuur deur die bose, ons en ons familie se lewens moet kom verwoes.  Sê die Bybel regtig dat ons niks moet doen nie.  Ek weet nie liewe gemeente, ek het nie ‘n antwoord op hierdie vraag nie.  Ek weet nie watter rol selfverdediging moet speel nie.  Maar die Bybel sê duidelik dat ons wel in ‘n oorlog betrokke is, maar nie ‘n konvensionele oorlog nie!  Ons stryd is teen die duiwel wat rondloop soos ‘n brullende leeu wat soek wie hy kan verslind (Jak 5). 

Ons stryd is nie teen swart mense, misdadigers, plaasmoordenaars, moslems, wit mense, of wie ook al nie.   Ons stryd is teen die duiwel wat mense in besit geneem het en hulle soos besetenes laat optree.  Ons stryd is teen die duiwel wat mense gebruik om God se Koninkryk te probeer afbreek.  Ons stryd is teen die bose geeste van hierdie wêreld wat God se kinders, vir my en jou wil elimineer sodat ons kragteloos is en die stryd gewonne gee, of die stryd veg soos hulle – … met die gevolg dat ons dan word soos hulle.

Kom ons veg saam teen alles wat ons lewe bedreig, wat verwoestend inwerk op ons lewe en veiligheid.  Maar anders as wat almal verwag! 
[Lees ook Rom 12:10-17 Riglyne vir die Christelike lewe]

AMEN

 


[1] Moet ek u haters dan nie haat nie, Here, moet ek nie ’n weersin hê in mense wat teen U in opstand is nie? 22Ek haat hulle met ’n uiterste haat, want hulle is ook my vyande

2 responses to “Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie!

  1. Ek het lank gesoek na hierdie verduideliking.Dit is egter absolute waarheid wat nie deur almal ontdek word nie.Hierdie Waarheid bevry ons van baie dinge.Ons kan nou duidelik sien dat die mense maar net as n tool deur Satan misbruik word.Ons kan ook nou mense makliker vergewe,want hulle vra nie om bose dinge te doen nie,maar word egter net verlei.Ons hoef nou nie dinge te glo wat ons eie gedagtes kom nie,maar kan weet dat God se Woord se dat ons se stryd is nie teen vlees en bloed nie.God sal wel hierdie Waarheid aan ons deeglik bekend maak sodat ons dit kan verstaan.Dis hier waar die liefde in kom,want ons het nou medelyde met almal wat in die hand van die bose is of gevang is in sy strik.Dit is n geveg met die Satan en nie n geveg met mense nie.Ons as gelowiges reken nou ons liggaam dood,maar lewend vir Christus se doel en werk.Ja.ek voel verlig,want mense het ook slegte dinge aan my gedoen,maar eintlik het ek nou begrip deur se God se Woord dat dit die duiwel is en die owerhede en magte in die lig wat my leed aangedoen het.

    Like

Lewer kommentaar