Objektivisme

 Objektivisme

Ayn Rand word beskou as die hoof eksponent van Objektivisme, maar daar is vir my nogal baie raakpunte met Immanuel Kant en sy tydgenote se “realisme” en rasionalisme.
Objektiwiteit as filosofiese denkrigting lui dat waarheid waarheid is ten spyte van individuele voorkeure of subjektiewe interpretasies, gevoelen of geloof.  M.a.w., iets is objektief war wanneer aan objektiewe feite voldoen is sonder inmenging.  Objektivisme sê dan dat daar net een objektiewe beskrywing is van die realiteit en dat dit onafhanklik is van die rede.  Eties beteken dit dat die waarheid van morele waardes en norme is nie afhanklik van enige geloofsbasis, gevoelens of religieuse konsepte nie.

Ayn Rand se objektivisme lui dat die mens se grootste strewe en rede vir bestaan is die bereiking van geluk en, volgens Rand kan dit alleen bereik word deur objektiewe beginsels soos morele integriteit, respek vir die regte van ander.  Die skepping, tesame met die innerlike vermoE van die mens bied alles wat die mens nodig sou hê om geluk na te jaag.  Dit klink heel reg, maar haar teorie verder uitgewerk, volg eintlik ‘n heel ander rigting.
Haar objektivisme verwerp byv. opoffering en individuele prysgawe.  Dit vir haar is presies niE die pad na die bereiking van persoonlike geluk nie.  Daardie geluk kan alleen bereik word deur juis selfsugtig eie belang na te jaag.  Slegs dit wat in eie-belang is, bring geluk.  Die rede is ook, soos rasionalisme, die setel waar alle vorm van irrasionaliteit (soos geloof) verwerp moet word.  Verder, die doel van morele normes en waardes is nie om ‘n trasendente wese se wil uit te voer nie, maar om jou eie geluk te bereik.

Rasionalisme

Rasionalisme in kort is ‘n filosofiese denkrigting waarin die “rede” die hoofbron van waarheid is, onafhanklik van enige intuitiewe of sensoriese waarneming.  Mistiek, openbaring, intuisie, sensoriese ervarings, belewenisse, onder-bewussyn het geen bydrae te lewer tot algehele waarheid nie en behoort daarom ook nie ons gedrag te beinvloed nie; aldus rasionalisme.  Ook die bestaan van iets moet rasioneel verklaar kan word, anders bestaan dit nie.  Descartes se bekende: “ek dink, daarom is ek” is hieruit gebore.
Die rede, dit wat rasioneel verklaar kan word, moet die uitgangspunt wees van al ons dade  en opinies; nié emosies, ondervinding en beslis nie religieuse geloof nie.  Die rede moet ook dedukties aangewend word om waarheid te ontdek.
Rasionalisme filosowe uit die geskiedenis sluit in Socrates, Plato, René Descartes en David Hume.  Rasionalisme het ook ‘n spektrum; van ‘n baie streng definisie (Socrates, Plato) tot ‘n breër definisie wat selfs ondervinding en intuisie as deel van rasionalisme kan insluit (Descartes).  Jy kan jouself ‘n rasionalis noem as jy:
  1. glo dat sekere konsepte by verstek reeds in jou rasionele natuur vasgelê is; dat bloot ervarings en ondervinding hierdie konsepte van jou onder-bewussyn na die bewussyn bring.
  2. glo dat sekere kennis alreeds van nature in jou rasionele natuur vasgelê is; dat ondervidning ‘n “trigger” is wat jou dan help om deur deduktiewe argumentasie jou tot waarheid begelei.
  3. glo dat alle kennis en waarheid verkry kan word deur aan te hou deduktief redeneer vanaf ‘n sekere premis (sommige rasionele filosowe het erken dat hierdie premis deur intuisie of sensoriese waarneming verkry is).

 

Empirisisme

Empirisisme en rasionalisme staan eintlik teenoor mekaar omdat empirisime verklaar dat ons al ons kennis en waarheid vind  alleen deur ondervinding.   Hoewel rasionalisme en empirisisme aanvanklik teenoor mekaar gestaan het, is ek van mening dat dié twee filosofiese denkrigtings aanleiding gegee het tot die empiriese navorsing wat oor soveel eeue die hoofbron van waarheid geword het.  As rasionalisme afhanklik is van die “rede” om tot absolute waarheid te kom, kan navorsing (empiriese) die rede help om tot daardie waarheid te kom.  ‘n Goeie artikel wat die verskille tussen dié twee verduidelik kan hier gelees word.

Realisme

Immanuel Kant het kritiek gehad met die rasionalisme en empirisime denkrigtings van sy tyd deur te sê dat waarheid nie verkry kan word deur rasionele denke (a priori deduksie) nie, en ook nie empiries (post priori) nie.  Kant wou nie aanvaar dat die rede ‘n pasiewe “blank slate” is wat wag vir informasie of idees (empirisme), of dat dit ingebore idees bevat wat wag om na die oppervlak gebring te word vir deduktiewe rasionele verklaring (rasionalisme) nie.  Die rede is, volgens Kant, ‘n aktiewe “skepper van ondervinding” in plaas van ‘n passiewe “ontvanger van persepsie“.  Persepsie wat deur die rede ingeneem word, moet volgens Kant, verwerk word anders is dit net “geraas“.  Kant het dus klem gelê op die outonomiteit van die menslike denke en rede deurdat die mens se verstaan die bron is van alles wat bestaan en wat al ons menslike ervaring en intuisie struktuur gee.  Ons ervaar dinge soos dit bekend is aan ons (die realiteit; realisme).
Oor godsdiens en God:  God en die “divine” skepping kan nie wetenskaplike feite en dus waarheid wees nie, want beide is afhanklik van onvoorwaardelike (transendente) “feite / kennis” terwyl wetenskap en navorsing nét moet en kan werk met voorwaardelike feite, met realiteit!  Kant werk dus met empiriese realisme – die rede kom tot waarheid deur objekte; regte egte fisiese dinge. Maar interressant is dat Kant se “Critique of Pure Reason” juis ‘n antwoord probeer gee het tussen die geweldige optimisme en vertroue in die menslike rede om tot alle kennis en waarheid te kom en tradisionele morele wardes en norme vanuit die religie.  Die rede en denke was oppad om alle religie en geloof te verwerp.  Kant het gereken daar kan ‘n sintese kom wanneer die rede alles sistematies kan ondersoek en verklaar en dán ‘n “verklaarbare” basis vir moraliteit en religie kan bied.  Kant wou dus dat rede ook moraliteit en geloof sou “verklaar”; en dus ‘n sintese bied tussen die twee pole: rede en menslike vermoeë vs moraliteit en geloof.  Daar is baie ander interressante inligting oor Kant se realisme; soos byv. hoe die mens objektiviteit kan bereik deur ‘n self-bewussyn, moraliteit, vryheid, maar dit val buite hierdie post.
Interressant, een van die konsekwensies van Kant is dat byv. ‘n tragiese kinderlewe nie ‘n volwasse misdaad kan verskoon nie – latere kom tot kennis van wat reg en verkeerd is, is nie verskoonbaar nie.  ‘n Ander wins van Kant se kritiek teen rasionalisme en empirisisme is die “toestand van slaap” of onderbewussyn.  Rasionalisme se konsekwensie is dat die rede nooit kan rus nie omdat dit deurentyd passief besig is om waarnemings en impulse te verwerk terwyl Kant se aktiewe rede die gevolg gehad het dat, vir die eerste keer, erkenning gegee is vir die bestaan van ‘n toestand waar die rede nié “werk” nie; die toestan van slaap of bewusteloos.  Kant se teorie het wel sekere winspunte gebring, maar het ook verskeie kontradiskies gehad.

Gevolgtrekking

Ek wou nie so baie skryf nie, maar dis hoe dit gewoonlik gaan – een ding lei na ‘n ander.  Eintlik moet ‘n mens ook hierdie filosofiese denkrigtings binne hul konteks lees en verstaan.  Rasionalisme en Empirisisme was duidelik nog in die paradigma van die “Enlightment” (Verligting).  Die verligting was ‘n soort van uitvloeisel op die geweldige optimisme wat ontwikkel het oor die menslike denke en rede en die vermoeë om dinge te bevraagteken (wat ook die politiek van die tyd getref het) en dinge te ontdek (Newton, wetenskap ens.) deur rede.  Die mens kan dus, deur rede, die natur beheer en definieer, wetenskap beoefen en dinge verklaar en uiteindelik lewe verbeter.  “Hoekom het ons politici en religie nodig om ons te vertel hoe om te leef en te dink, as ons self kan dink” was die kreet …. en sommige van hierdie menslike outonomie is vandag nog ewe sterk.   Die verligting het mense vir hulself laat dink, i.p.v. ander wat vir jou dink.  Kant se Realisme is ontwikkel in sy kritiek op rasionalisme en het ook plaasgevind in dié tyd; die paradigma skuif wat plaasgevind het vanaf die “Verligting” na “Romantisisme”.
Vir my is daar ‘n verband tussen al hierdie filosofiese ontwikkelings selfs Ayn Rand se objektivisme want objektivisme verabsoluteer in ‘n sekere sin die verklaring van alles d.m.v. die objek.  Kant het ook gesê dat ‘n mens op ‘n sekere manier optree omdat daar ‘n gegewe agtergrond, wet is, en nie noodwendig omdat iets bereik wil of moet word nie.  M.a.w., vir Kant moet ‘n mens goed doen teenoor ander, nie omdat dit voordele vir my inhou nie, maar omdat dit universeel “reg” is, die regte ding om te doen.  Kant het egter ook erken dat ‘n mens onwillekeurig, juis oor die vermoeë van die rede, bedag is op die konsekwensies van ons dade – wat natuurlik belangrik is: dis die vermoeë om verantwoordelikheid te neem.  Ayn Rand se objektivisme neem dit verder.
As ek so na die perspektiewe, die filosofie van ons tyd kyk, sien ek so baie objektivisme en wonder of dit nie die nuwe teologie is waarvolgens die moderne mens en wêreld funksioneer nie?
###

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s