Vreemde Wêreld

6de Lydensondag
Rom 8:18-30

Inleiding:

Dis vandag 6de Lydensondag, die laaste Sondag voor die Paasgebeure.  Vrydag herdenk ons die laagtepunt in die kerklike jaar – die kruisiging van Jesus Christus, die seun van God.  Om te dink, God se eie seun, God self, kom na die aarde op wonderbaarlike manier.  Op kersdag vier ons fees oor God se geskenk vir hierdie stukkende deurmekaar wêreld.  Vir 33 jr loop God se Seun op aarde, leer Hy mense oor die nuwe hemel en die nuwe aarde, oor God se Koninkryk wat aangebreek het, maak Hy mense gesond.  Vir ‘n kort tydjie kom herstel Hy iets van die nuwe hemel op aarde.

En dan breek die swartste nag in die wêreld se geskiedenis aan.  God se Seun, die wonderkind van die kersverhaal, die man wat lewens verander het, word verwerp en ingeruil vir ‘n moordenaar.  Hy word bespot, verneder en vervloek.  Hy word aan ‘n vervloekte kruishout opgehang omdat Hy … wel omdat Hy God is; omdat Hy iets van die nuwe hemel kom wys het.

Dis vandag meer as 2000 jr later.  Dinge het nie eintlik beter geraak nie.  Steeds is Jesus ‘n “steen des aanstoot” vir die wêreld.  Steeds breek stukkies van die Koninkryk deur waar Sy Gees mense se lewens verander.  Maar ook die teendeel is steeds waar.  Vandag nog is daar verwerping en vervolging van hierdie nuwe hemel en Sy volgelinge.  Vandag nog kan ons rondom ons kyk na hierdie lewe en maar net vir mekaar sê: “Iets is erg verkeerd.”  Iets ontbreek!  Iewers is dinge darem net nie reg nie. 

Sommige mense staan elke dag met ‘n lied in die hart op, met hoop en visie vir die lewe.  Baie word sommer vroeg in dieselfde dag terug geruk na die realiteit rondom ons; die realiteit van die deurmekaar wêreld waarin ons leef.  Dis asof hierdie 2 teenpole elke dag ons lewe vul: aan die een kant is ons optimisties en vol verwagting oor geleenthede wat ons pad mag kruis… aan die ander kant tref die teëspoed en harde werklikhede ons tussen die oë.  Misdaad, moord, swaarkry, vervolging, verwerping.  Ons ken die swaar van die lewe.  Ons sien dit selfs in die natuur; droogte, brande, vloede.

Dis soos Paulus hier aan die Romeine skryf… “Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting.  En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook.” (Rom 8:22-23).

Vreemde Wêreld – Versugting:

As dit vir gewone mense ‘n vreemde onwelkome wêreld is waarin ons leef, dan vir Christene nog erger!  As daar nou een groep mense is wat swaar kry oor die lyding, wat swaar kry om te sien hoe mense seer kry, onregverdig behandel word, wat dit nie kan “vat” nie en wat begeer dat dinge beter moet word, dan behoort dit Christene te wees.

Hoekom?  Omdat ons die Gees ontvang het, sê Paulus.  Ons het die Gees ontvang, die Gees wat die nuwe hemel, die nuwe toekoms saam met God verteenwoordig.  Dis Hy wat al die trane kom afvee; wat geregtigheid terug bring, wat kom heel maak wat stukkend is.  Die uitstorting van die Heilige Gees was vir die wêreld ‘n vreemde gebeurtenis, want iets van God se nuwe hemel, iets van die Koninkryk van God het daardie dag aangebreek in hierdie stukkende wêreld. 

Daarom kan ons vandag vir mekaar sê: hoe meer Geesvervuld die kerk is, hoe meer sal ons bewus wees van die verkeerdheid van hierdie wêreld.  Hoe meer sal ons graag hierdie wêreld wil verander in God se droom vir die wêreld.  Hoe meer sal ons begeer dat die dag aanbreek waaroor Jesaja geprofeteer het: “… wanneer die wolf en die lam sal saam wei.” (Jes 65:25).  Hoe meer sal ons sug en pleit saam met die Gees, dat dinge sal verander, dat God se Koninkryk sal aanbreek en deurbreek in hierdie deurmekaar wêreld.

Die Teendeel!

Die verskriklike is natuurlik wanneer die kerk nié meer sug nie, nie meer verlang na die beter nuwe hemel en aarde nie; nie meer vreemdelinge en bywoners op hierdie aarde is nie.  Wanneer ons so tuis raak in hierdie wêreld, liewe gemeente, dat ons nie meer seerkry oor die stukkendheid van die wêreld nie, wanneer ons nie meer saam met Joh wil bid: “Kom Here Jesus, kom gou” nie.  Dan het hierdie deurmekaar wêreld vir ons gerieflik geraak.  Dit gebeur op 2 maniere; óf deurdat ons genoeg middele het om die swaarkry en lyding weg te koop; óf deurdat ons so afgestomp geraak het vir die seer en verkeerdheid in hierdie wêreld, dat dit ons nie meer skok nie. 

Baie mense se lewe is so gerieflik ingeklee dat hulle al heel tuis is hier.  Hulle het gearriveer en het hulle lewenswêreld so ingerig dat daar nie eintlik sprake is van lyding en swaarkry nie.  Meestal is dit diegene wat genoeg geld het om hulleself so in te rig dat hulle die swaarkry en onreg, die lyding en vervolging kan afweer.  Dis vanselfsprekend dat hoe makliker hulle leef, hoe minder hulle bewus is van die swaar en onreg van hierdie wêreld, en hoe minder sal hulle natuurlik sug na die koms van die Koninkryk.

Die ander groep is die groep wat deur kondisionering nie meer geskok word nie.  Ons hoor elke dag van die verkeerde en slegte dat dit ons nie meer verbaas nie.  Die eerste “hijack” was skokkend gewees.  Vandag hoor ons dit nie eers meer oor TV-nuus nie.  Nou neem dit ‘n erger brokkie nuus om ons te skok.  So word ons afgestomp sodat dit wat ons skok, al hoe erger raak. 

Slot:

‘n Geesvervulde kerk is ‘n kerk wat daagliks sug, steun, swaarkry oor die lyding en swaarkry van hierdie wêreld.  Dis ‘n kerk wat verlang na die nuwe hemel en nuwe aarde, die Koninkryk van God.  En hoe meer Geesvervuld ons is, hoe meer sal ons saam met die Gees pleit.

Maar hoe meer tuis ons is in die wêreld, hoe meer gewoond ons raak aan lyding, swaarkry en onreg, hoe minder “vreemd” ons in hierdie lewe is, – want om Christen te wees is ‘n vreemde lewenstyl, dis bywoners op aarde – hoe minder gaan ons saam met die Gees pleit.

Lydenstyd wil ons 1x per jaar weer opnuut herinner aan die verskriklike van hierdie wêreld, aan die uiterste verwerping, seerkry, Godsverlatenheid waardeur Jesus moes gaan; wil ons herinner dat hierdie wêreld nog nie die nuwe hemel is nie, sodat ons kan aanhou droom en pleit vir God se Koninkryk waar alles nuut sal wees, waar daar geen traan meer sal wees nie.

Lydenstyd wil ons herinner om vreemd te wees; om te onthou dat hierdie wêreld eintlik nie vir ons bedoel is nie.  Hier sal ons altyd vreemdelinge en bywoners wees; verwerp word, vervolg word, lyding ervaar.  Maar terselfdertyd sal God deur Sy Gees ook alle sleg ten goede laat wees. 

Maar dis hier waar ons God se droom, God se visie vir hierdie wêreld moet help realiseer.  Dis hier waar ons stukkies van God se Koninkryk moet laat deurbreek sodat ons met volharding kan bly hoop.  Dis hier waar ons pleit, selfs wat ons nie eers weet wat of hoe nie, maar wetend dat die Gees namens ons by God vir ons intree.

AMEN

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s