Ons behou alleen deur weg te gee

Fil 1:3-11 (Advent)

Inleiding

Dit lyk asof die NG kerk in allerlei identiteitskrisisse is.  En natuurlik gee die media vir ons al die sousige detail van die binne-gevegte, van die verskil in opinies.  As jy alles lees wat NG leiers, dominees en lidmate sê en skryf oor die toepassing van die evangelie op ons moderne lewe, oor die opstanding, oor interpretasies van die Woord, staan jy verstom oor hoe wyd uiteenlopend die standpunte is.  Dis so wyd ‘n mens sou eerder kon sê dat dit 2 verskillende kerke is wat teenoor mekaar praat.  En tereg wonder baie mense, en miskien juis die wêreld wat afsydig teenoor Jesus staan, hoe is dit dan moontlik.  Hulle lees 1 bron, maar praat uit 1000 monde.

Behalwe vir hierdie verskillende interpretasies van dieselfde 1 waarheid, is daar ook nog ander sake wat maak dat die NG Kerk ‘n identiteitskrisis deurloop.  Wanneer enige organisasie in so ‘n bestaanskrisis is, is die eerste vraag wat jy jouself afvra: “hoekom bestaan dit?”  Watter bestaansreg het die kerk?  Hoekom is daar ‘n kerk?  Wat is die kerk se taak en roeping in die wêreld?

Kerstyd en nuwejaar is ‘n uitstekende tyd om weer hieroor te dink.  Dis dalk die beste tyd om hieraan te dink, omdat kerstyd die openbaring van Jesus in hierdie wêreld was, en  nuwe jaar ‘n tyd om nuut te dink oor ‘n nuwe jaar wat voorlê, oor die pad wat dié jaar gestap gaan word.  Ook vir ‘n kerk is dit ‘n tyd om weer te besin oor wie jy is en wat jou roeping is.

So, liewe gemeente, waarom is ons hier?  Waaroor gaan dit dan in die kers-evangelie?

 

Fillipi

Paulus skryf hierdie brief aan die gemeente in Fillipi in ‘n tyd toe hy self in die tronk was, juis oor die evangelie wat hy verkondig het.  In hierdie gedeelte bid Paulus ‘n gebed waarin hy God dank vir hulle deelname aan dit waaroor hy in die tronk voor is.  Hulle is betrokke by Paulus se bediening om die evangelie te verkondig, omdat hulle self ontstaan het a.g.v. sy roeping, toe die evangelie ook aan hulle verkondig is.  Hy bevestig ook aan hulle dat hulle end-uit beskerm sal word, nie omdat hulle so ‘n oulike gemeente is, of omdat hulle so vas staan in die geloof nie, maar omdat God ‘n getroue God is.  Dis m.a.w. God wat maak dat die gemeente bestaan, maar ook God wat sal sorg dat die gemeente sal bly voortbestaan. 

Hierdie noue verhouding tussen Paulus en die gemeente beteken dat hulle nie net in mekaar se vreugdes deel nie, maar dat hulle eintlik deel aan die evangelie wat hulle verkondig.  Hulle deel die vreugde waar die evangelie uitbrei, maar hulle deel ook in die hartseer en onreg waar die evangelie teenstand ervaar, soos toe Paulus in die tronk gegooi is oor die evangelie.

Die kern van dit wat hulle deel, is die liefde.  God se liefde vir sondaars is so groot dat Hy sy Eniggebore Seun gegee het, sodat sondaars verlos kan word.  Die gemeente ís die draers van hierdie boodskap.  En as draers van hierdie boodskap, sê Paulus, moet hulle in hierdie liefde groei.  Dis die liefde van God wat maak dat hulle bestaan, daarom moet die liefde verder beleef word.  Elke lewensituasie, elke lewenskeuse moet gedra word deur hierdie liefde.  Paulus bid dat die gemeente se praktiese lewens-kennis en wysheid sal toeneem omdat hulle hierdie bestaans-boodskap verstaan: God se liefde in Christus.

 

Vandag?

Liewe gemeente, 2000 jr later hoor ons hierdie gebed van Paulus in ‘n tyd waarin die Christendom vreemde veranderings ondergaan.  ‘n Studie in die VSA toon dieselfde neiging wat hier by ons aan die gebeur is: al hoe meer lidmate is besig om hulle geloof op ander maniere te beoefen as in en deur die gemeentestrukture waaraan ons altyd gewoond was.  Ons hoor hierdie gebed van Paulus in ‘n tyd waarin die rol van die kerk onder die vergrootglas geplaas word.  Wat is ons roeping as die media ons so probeer afkraak dat daar van ons omtrent niks meer oorbly nie?  Ons bestaansreg is soos ‘n 4×4: dit draai om 4 wiele:

  1. Ons bestaan net deur God se toedoen.
  2. Ons bestaan net as ons dit weggee.
  3. Ons bestaan net as ons liefhet
  4. Ons bestaan net as ons God verheerlik (teen onreg).

 

1.         God se toedoen

Die kerk, enige kerk wat Jesus as die Messias verkondig, kan alleen kerk wees as hulle Jesus verkondig.  Ons kan onsself alleen kerk noem as ons die kers-evangelie aan die wêreld verkondig.  Ons roeping, liewe gemeente, is om Jesus as die Seun van God te verkondig.  Die Seun:

  • wat gestuur is na ‘n stal in Bethlehem omdat daar toe al nie vir Hom plek in hierdie wêreld was nie,
  • wat as baba moes vlug omdat die wêreld Hom nie wou hê nie;
  • wat as slaaf verneder, weggejaag en verag is omdat die wêreld Hom nie wil hoor nie;
  • wat uiteindelik gely en gekruisig is omdat die wêreld sy invloed, sy liefde wou uitwis.

Ironies dat die wêreld tog saam speel aan die kers-boodskap.  Nietemin, ons as kerk ontvang daarom ons bestaansreg en roeping nie van die media of die wêreld nie, maar van God!  Dis God wat die inisiatief neem.  Dis God wat die opdrag gee.  Dis God wat die krag en genade gee om voort te gaan met hierdie kers-evangelie. 

En in hierdie tyd is dit juis God se onbeskryflike genade wat weereens oopgebreek word vir die wêreld.  In die ironie van die wêreld se “saam-speel”, is dit eintlik God wat vir die wêreld die goeie nuus wil bring: “Genade vir julle en vrede van God”. 

 

2.         Weggee

Die interressantheid van ons bestaan is eintlik teenstrydig.  Ons bestaansreg as kerk kan ons alleen behou, as ons dit weggee.  Kersfees kan nie alleen gevier word nie.  Dit gaan tog immers oor die koms van die goeie nuus vir die wêreld.  Die evangelie kan ons as kerk nooit vir onsself hou nie.  Juis dit sal maak dat ons dit verloor.  Dis bedoel om gedeel te word met ander.  Miskien is dít die rede waarom ons bestaan so bevraagteken word vandag.  Ons het dalk te lank hierdie kosbare evangelie vir onsself toege-eien, in plaas daarvan om dit weg te gegee het.  Die evangelie, God se genade is bedoel vir die wêreld, juis vir hulle wat Hom verwerp.  Dis juis hulle wat die medisyne nodig het, het Jesus gesê.

 

3.         Liefde

Ons bestaansreg kan net deur die liefde gedra word.  Paulus bid dat die gemeente se liefde sal toeneem omdat hy geweet het, dit kom nie uit onsself nie.  God gee vir ons die liefde, maar dit verg van ons om in elke situasie hierdie liefde van God toe te pas deur die regte keuses te neem.  Elke situasie sal sy eie eise hê, daarom is daar nie 1 stel reëls wat ons sommer so op alle situasies toe kan pas nie.  Maar die liefde sal ons help om in elke situasie by God te pleit vir die regte wysheid, vir die regte oordeelsvermoë om te kan onderskei wat vir dié oomblik reg is.  Dit kan alleen gebeur as ons fondament in die liefde lê.  As jy gedryf word deur God se liefde, dink jy in elke situasie anders.  Ons is kerk omdat ons hierin die voorbeeld moet stel.  Liefde is vir die kerk en sy lidmate nooit opsioneel nie; ook nooit net vir diegene wie ons kíés om lief te hê nie.  Dit is geen kuns nie, geen opoffering nie.  ‘n Gewone ateis kan ook die liefhê wie hy wil.  Dié liefde waarvan die Bybel praat, is die liefde wat ‘n opoffering vra, soos Jesus sy eie lewe ook opgeoffer het.  Dis die liefde wat die vyand liefhet, wat bid vir dié wat jolu vervolg.  Wat liefhet ten spyte van, nie as gevolg van nie.

 

4.         God Verheerlik

Laastens liewe gemeente, kan ons net kerk wees as ons God verheerlik.  Die vraag is natuurlik hoe verheerlik ‘n mens God prakties.  Wel, om te veg teen die dinge wat God haat.  In die OT lees ons in byna elke profetiese boek dat God teen onreg is.  God haat dit as kinders, weduwees en wees, armes, melaatses aan die kortste end trek omdat hulle nie vir hulleself kan veg nie.  God het dit gehaat as daar onreg gepleeg is teen mense, teen sy volk.  God haat dit vandag nog as daar onreg is, en as ons daarteen veg, dan verheerlik ons God se naam in die wêreld.  Die wêreld is vol onreg.  Wat ‘n geleentheid het ons as kerk nie om juis hierin ons roeping as kerk te bewys nie?

 

Slot

Die media geniet dit om die teenstrydighede in uitsprake van kerk-leiers op die voorblad van hul koerante te skryf.  So neutraliseer hulle die boodskap van die kerk.  Ons is alreeds ‘n week in die nuwejaar in.  Kom ons maak 2006 dié jaar waarin ons weer kerk is, kerk word soos Jesus dit bedoel het om te wees; deur byv.

  1. hierdie evangelie te hoor en te ontvang uit God se hand;
  2. dit weg te gee aan die wêreld wat dit so broodnodig het;
  3. omdat ons die wêreld so lief het soos God die wêreld liefhet;
  4. sodat God se naam weer verheerlik kan word in elke unieke situasie.

 Amen

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s