Roeping vir die nuwe jaar

30/12/2012
1 Pet 2:1-5, 9-10; Luk 4:16-21 (Jes 61:1-3)

Inleiding

So aan die einde van die jaar is dit altyd goed om bestek op te neem; terug te dink aan die jaar wat verby is….en soms ook om te begin dink en beplan vir die volgende jaar. Onwillekeurig dink ‘n mens aan wat die nuwe jaar vir ons gaan inhou.

Oor die jaar wat verby is, kan elkeen self in hulle privaatheid oordink. Ons teleurstellings en mislukkings is nie iets wat ons noodwendig met ander wil deel nie. Maar wat sê ons oor die nuwe jaar. Wat sê ons oor die toekoms? Wat beplan ons vir die nuwe jaar? Vanuit ‘n Bybelse perspektief as Christen en as God se verteenwoordigers is die vraag miskien eerder: wat sien ons as ons roeping vir die nuwe jaar?

Die vooristter van die Alg Sin Kommissie van die NG Kerk, Prof Nelus Niemandt het in die nuutste Kerkbode gesê dat die NG Kerk by ‘n draaipunt gekom het, en dat hulle al meer oortuig is dat die kerk haar profetiese stem op 2 gebiede moet laat hoor:

  1. Die bestryding van armoede en
  2. Verlaging van geweldsvlakke in SA.

Roeping

As gewone lidmaat van die kerk, en as gemeente van die NG kerk kan ons natuurlik kies om hierby aan te sluit en ook dít as óns roeping vir 2013 te maak. As ons so sou kies, kan ons dit doen byv.

  1. Deur gebed; deur betrokke te raak by aksies wat daarop gerig is om armoede te bestry, soos voedsel aksies. Ons kan ook meehelp deur betrokke te raak by werkskepping – ek is seker daar is talle interpreneurs wat met blink planne vorendag kan kom wat kan help dat ons só kan meehelp aan die bestryding van armoede.Dat dit broodnodig is in ons land liewe gemeente, is seker nie te betwyfel nie! Die armoedelyn word tans op R430 /mnd gestel (ander stel dit op R800/mnd) en volgens die wêreldbank leef ongeveer 23% van Suid-Afrika in armoede. Ander statistiek reken dit selfs nog hoër op 31%. Kan u uself indink, iemand wat oorleef op R800/mnd. Dink net waarmee stap u uit PnP nadat u R800 betaal het.Nog erger is die geweldige skeiding tussen armes en rykes. Ons was ‘n paar jaar gelede nog nie op die radar skerms van die wêreld op hierdie gebied nie Idie Gini indeks). Die onlangste syfers van die wêreldbank stel ons tans as die “wenner”; die land met die hoogste (Gini) syfer waarvolgens hulle die gaping tussen ryk en armes meet. Neem die minimum loon waarmee sommige plaasarbeiders of huishulpe voor werk teenoor die luukse en weelde waarin ander rykes leef. Ek lees gister dat daar ‘n hotel is in Durban wat ‘n suite het wat teen R50,000 per aand vol bespreek is vir Desember. Huise in die Kaap teen tussen R10,000 en R100,000 per aand is vol bespreek – eiendomsagente vra eienaars om hulle huise tydens Desember vakansie beskikbaar te stel. Liewe gemeente, hierdie gaping is astronomies!

    Ek wil nie vanoggend die rykes laat sleg voel, of hulle veroordeel nie, maar iewers loop iets verkeerd. Ek wil my nie op ekonomiese of politiese gebied begewe vanoggend nie, want oor beide weet ek te min, maar ek weet wat die Bybel te sê het en wat die beginsels was wat God in Israel laat geld het. En hoewel ons eeue later nie altyd meer dieselfde beginsels kan navolg nie, neem dit nie weg dat dit tog God se oorspronklike gedagte was oor hoe ‘n nasie in ewewig sou kon saam leef (genade jaar, skuld kwytskelding ens. Paulus ewewig 2 Kor 8:13 ). Die verskoning is mos altyd dat die wat so ryk is, hard daarvoor gewerk het en dit verdien; wat my eendag laat wonder het of ek en jy dan nie ook hard werk nie – net so ‘n kant opmerking. Punt is liewe gemeente, as Christen sou dit nie moeilik wees om te motiveer waarom ons by armoedebestryding betrokke moet raak nie. Dis maklik deel van ons roeping en deel van die vestiging van God se Koninkryk op aarde. Ons sou as individue of as gemeente daarby betrokke kon raak want daar is ‘n groot behoefte.

  2. Ons sou ook kon kies om betrokke te wil raak by die verminddering van geweldsvlakke in ons land. U sal met my saam stem dat dit regtig onaanvaarbaar hoog is in ons land. Net die misdaadstatistiek vertel al klaar ‘n tragiese storie van hoeveel geweld daar in ons land is. Volgens die jongste statistiek is 30% van misdaad gerig op ander en dus geweldsmisdaad. Dit is 636,000 gevalle en ons is nie eers seker of al die gevalle aangemeld word nie. Wat van geweld binne huise, teenoor vroue en kinders wat dikwels nie aangemeld word nie. Ons dink partykeer dat dit nie hier by ons gebeur nie; altyd daar vêr; daar in die minder gegoede gebiede. Volgens maatskaplike werkers, gebeur dit hier onder ons! Ek lees gister in die Beeld van ‘n opname waarin 3% mans instem dat vroue geslaan kan word as hulle uitgaan sonder om hulle mans daarvan te vertel.

Twee profetiese roepings waarby ons betrokke kan raak in 2013

  1. Bestryding van armoede en
  2. Afbring van geweldsvlakke.

Koning, Priester, Profeet

As hierdie 2 sake jou nie aanspreek nie, kan jy eenvoudig maar net kies om in 2013 die algemene roeping van ‘n Christen in hierdie wêreld te leef nl. Koning, Priester en Profeet. Jesus is deur God geroep en gesalf vir Sy roeping op aarde in Mat (Matt 3:13-17). Hierdie 3 ampte is in Hom verenig. Met ons doop in Christus, word Sy roeping natuurlik ons roeping (1 Joh 2:20).

Hoe lyk dit prakties….?

Koning – (wat doen ‘n koning? Heers, bestry, beskerm) dit beteken om mee te werk aan die vestiging van God se Koninkryk op aarde. Dis wat Jesus kom doen het en ons volg Hom daarin. Om ons rol as konings te vervul beteken dat ons sal heers, oor die sonde in ons eie lewe en kies om Jesus se Koningskap in ons eie lewe te laat funskioneer. Dan kan ons ook seker maak dat Jesus se heerskappy op ander gebiede gevestig kan word.

Priester – (wat het die priesters gedoen?) om priester te wees beteken dat ons sal intree vir mense. Die priesters in die OT was waarskynlik inehrente sagmoedige en barmhartige mense (of hulle moes wees) want hulle moes namens die volk by God gaan intree het. Jesus, die volkome Hoëpriester het met Sy lewe vir ons gaan intree by God. Hier is ons belangrikste roeping dalk om in gebed vir ander in te tree en ander se nood en uitdagings te help verlig. Indien ons by armoede verligting betrokke sou raak, sou ons ons priesterlike roeping uitleef.

Profeet – (wat het die profete gedoen?) as profeet beteken dit dat ons alle onreg en ongeregtigheid en liefdeloosheid sal aanspreek. Dit sou ook beteken dat ons aktief elke vorm van die sondige natuur sal wil bestry (Gal 5) en daarteen sal wees. Dit beteken verder ook dat ons daarna sal streef om die Bybel lewendig en relevant toe te pas vir vandag dat hulle lewe in ooreenstemming kan wees met ons belydenis as Christene.

Slot

Liewe gemeente, om KPP te wees is natuurlik die breë roeping van elke gelowige -> dis hoe ons behoort te leef (Sondag 12); dis waartoe God ons roep nl. om die 3 rolle van die OT op ‘n nuwe manier as gelowiges uit te leef. En as sou kies om betrokke te raak by die bestryding van armoede en by verlaging van geweld, dan val dit onder hierdie roeping van ons as Christen.

Why Bother”? Waarom sal ons moeite doen? Daar’s ‘n nood daarbuite. Die wêreld wag as’t ware op ons; op goeie nuus; op uitkoms uit hierdie wêreldwye vasgevangendheid onder die wêreldse magte en kragte! En hét ons nie goeie nuus nie! Ons het die hoop in Christus! Kate & Prins William… God is aan die kant van armes, weduwees en kinders; mense wat verontreg word. God wil nood verlig. En ons is sy hande en voete!

Mag 2013 ons nader bring in die realisering van God se Koninkryk op aarde; aan God se droom vir hierdie wêreld. En mag ons elkeen, in die klein wêreldjie waar ons leef en werk, ‘n verskil maak.

AMEN

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s