Hy is nie hier nie, Hy het opgestaan

Mat 28:1-10

Opstandingsondag 11/04/04

Agtergrond

Die evangelie van Matteus is geskryf ná 70 nC en word gereken as een van die oudste evangelies.  Omdat Matteus spesifiek aan die Jode skryf, is sy evangelie baie meer daarop gerig om te bewys dat die Ou Testamentiese profesieë inderdaad in Jesus vervul is.  Die Jode het die belofte en vooruitsig gehad dat daar eendag ‘n Messias, die Verlosser sou kom, weer ‘n koning uit die geslag van Dawid.  In hierdie evangelie bewys Matteus dat Jesus wel hierdie Messias is.  Daarom gebruik hy ook Messiaanse terme soos “Seun van Dawid”.

Jesus het nie anders gelyk as enige ander mens dat Hy sigbaar na die Messias gelyk het nie.  Hy het ook nie opgetree soos van ‘n koning verwag is nie, soos huldeblyke, prag en praal ens.  Niemand kon dus uiterlik aflei dat Jesus wel die Messias is nie.  Dis eers werklik na Sy dood en opstanding dat selfs die dissipels mooi besef het dat Jesus wel die Messias was.  Daarom skryf Matteus om sy lesers te oortuig dat hierdie man van Nasaret wel die Messias is.

Matteus sluit sy evangelie af met Jesus se opstanding uit die dood.  Dis so treffend hoe hy daaroor berig… “Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek”.  En dan die bekende laaste opdrag: Gaan en vertel dit!

Inleiding

Verskeie verkiesingsplakkate probeer ons oorreed om vir hulle te stem deur aanspraak daarop te maak dat húlle hoop gee.  Dit laat ‘n mens wonder of ons ‘n hopelose volk geword het.  Raak hulle dalk ‘n punt aan wat ons nog nie rêrig in onsself erken het nie?  Dat ons alle hoop en blydskap verloor het?  Is ons verslae mense? 

Paasfees help ook nie eintlik om ons weer hoop te gee nie.  Vir 7 weke het ons nou in die kerklike jaar gehoor van Jesus se lyding en verwerping.  Mel Gibson se film, “The Passion of the Christ” beeld Jesus se lyding ongelooflik getrou uit.  Ek het dit Vrydag gesien en was stomgeslaan oor die verskriklikheid van die lyding wat Jesus moes verduur.  Ons kan eintlik in ons verbeelding nie onsself indink hoe erg dit moes gewees het nie.

Net so stomgeslaan en verslae gaan die vroue na Jesus se graf, soos ons ook maar maak, om vir ou laas te groet.  Jesus is eintlik niks meer as net ‘n herinnering nie.  Hy’s dood, in die graf.

Maar dan kom die engel met die vreugdeboodskap van God.  Hierdie Jesus is nie hier nie want Hy het opgestaan.  Julle soek hom verniet onder die dooies want Hy lewe! 

God het hierdie Jesus met ‘n Goddelike magsdaad uit die dood laat opstaan.  Paasfees sonder die opstanding sou ‘n hopelose lewelose boodskap gehad het, as dit nie was vir Jesus se opstanding op die sondag nie.  Deur ‘n Goddelike wonderwerk staan Jesus op en oorwin alle bose magte, alle menslike pogings en woorde om Hom nog in die graf te hou.  Dít is die vreugdeboodskap van die pase!  Paasfees is ‘n vreugdefees, ‘n oorwinnignsfees, die hoogtepunt van die evangelie.  Hierdie evangelie moet alle hopeloosheid verander in vreugde en geloof.

Toepassing

Dit kan alleen gebeur deur geloof.  Niemand kan die opstanding bewys nie.  Nie eers die evangelieskrywers kon dit bewys nie.  En soos destyds waar slinkse planne beraam is om die verdwyning van die liggaam van Jesus te verklaar, so verklaar mense vandag nog die opstanding op allerlei eksegetiese maniere, want die opstanding liewe gemeente, vra geloof.  Die paasevangelie vra dat jy sal glo in die Goddelike magsdaad.  Wie nie glo in die opstanding nie, is inderdaad hopeloos, soos die vroue. 

John MacArthur skryf: “The resurrection of Jesus Christ is the single greatest event in the history of the world.  It is so foundational to Christianity that no one who denies it can be a true Christian.  Without resurrection, there is no Christian faith, no salvation and no hope!” 

Om te glo in die opstanding beteken… 

  • dat God daarmee bevestig dat Jesus inderdaad die Seun van God is en vir ons sondes gesterf het.  Hy is die Messias op wie ons ons hoop op redding kán vestig.  
  • Dat die dood níé die einde van die pad is nie.  Jesus sê in Joh 11:25-26 dat ons sal leef al het ons ook gesterwe.
  • Dat ons deel aan dieselfde Goddelike magsdaad waarmee Christus uit die dood opgewek is.  Ons kán dus leef en oorwin.

Om te glo in die opstanding, vra geloof.  Dit kan nie bewys word nie.

Jesus se opstanding is die deurbraak van God se nuwe wêreld.  Dit is die aanbreek van iets van die hemel binne-in hierdie stukkende wêreld.  Geloof is om dít raak te sien.  Geloof beteken verder om God ook toe te laat om kragtig in jóú lewe in te breek sodat jy kan begin leef uit die opstanding van Jesus.

En as dít gebeur het liewe gemeente, kan jy nie anders as om hierdie paas evangelie te gaan uit dra nie.  Daarom sluit Matteus sy evangelie af met Jesus se laaste opdrag aan Sy dissipels.  As jy glo in Jesus se opstanding, dat Hy léwe, dan moet jy self daaruit gaan leef en getuie daarvan wees.  Hoekom?  Want Jesus se opstanding beteken lewe.  Dat Jesus opgestaan het, beteken hoop en lewe.  So het ons gesien in die vroue by die graf.  Dit bring redding.  Dit maak al die verskil in hierdie lewe.  Dit verander verslaenheid, troosteloosheid, magteloosheid, in oorwinning, in krag, in lewe. 

Slot

Liewe gemeente, Jesus is nie in die graf nie.  Hy lééf.  Dís ons hoop.  Dis ons redding. Dis wat ons glo.  Dis ons lewe!

Glo jy dit?  Gaan dan en vertel dit wêreldwyd.

Amen

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s