Ouderdom!

Ek het my nuwe jaar op ‘n heel traumatiese en emosioneel uitputtende manier begin!  My ma, nou 92, het oor kersfees siek geword en a.g.v. haar ouderdom en verskeie organe se gedeeltelike versaking, moes die dokters maar die simptome behandel – operasie was nie ‘n opsie nie.  Die uiteinde was dat sy in die siekeboeg van die aftree-oord beland het en daar herstel het onder die wakende oog van ‘n baie bekwame, geduldige en liefdevolle span personeel.

Ongelukkig het dit nie daar geëindig nie, want nadat sy weliswaar herstel het, het dit net vir ons al meer duidelik geword dat sy nie meer op haar eie in haar eenheid sal kan bly nie, maar heeltydse versorging nodig gaan hê.  Sy Bejaardesorgactually” weet nie meer of sy geëet het nie; sy kan nie meer vir haar self gaan kos maak nie; sy kan nie vir haar tee gaan maak nie; sy kan nie meer so alleen en sonder hulp loop en in die kombuis staan nie; as sy val is daar geen manier hoe sy kan hulp vra nie behalwe as iemand op haar sou afkom; sy vergeet om haar noodsaaklike pille te drink ens.  Die gevolg is, sy eet en drink nie gereeld nie, terwyl sy haar self wys maak dat sy wel geëet het.  Dit het weer gevolge op haar gesondheid, en haar “bowl movements”.

So begin die uiters emosionele pad van “trek”.  Ek weet nie wat is erger nie – om jou ma se woonstel te ontruim nadat sy dood is; of terwyl sy actually nog leef en jy die heeltyd wonder of dit die regte ding is om te doen; of sy nie dalk nog hier sou kon bly nie!  Sy was nog altyd “heilig” oor haar onafhanklikheid en haar plekkie was haar veiligheidsnet.

Nou ja, die nuus moes aan haar oorgedra word.  O ja, saam met dié ouderdom kom ook die korttermyn geheue-verlies (of “vashaak” soos ons dit soms noem).  Dit beteken dat ek oor-en-oor gevra word waarom sy dan nie nou kan terug na haar woonstel nie; hoekom is sy nog hier; waar is haar kamer, want sy is dan nou nie op haar vloer nie ens.

Lang storie kort; ons het haar nuwe sorg-eenheid kamer so mooi as moontlik en so na as moontlik aan haar bekende omgewing geskep.  Vir die volgende week, word ek elke dag gebel en vertel hoe ‘n groot aanpassing sy gemaak het; hoe moeilik dit vir haar is; hoe sy dink sy het eintlik ‘n fout gemaak en wil nou teruggaan; hoe sy nou gaan vereensaam en in ‘n gat bly, ens.  Gelukkig het dié week ook oorgegaan.

Maar helaas, dat die week (en die week se hoofmoment-storie) verby was, het nie beteken dat alles terug is na normaal soos ons dit die afgelope omtrent 15 jaar geken het nie.  Die volgende week, het net ‘n volgende “krisis” of storie te weeg gebring.  So word ek daagliks gebel met dieselfde storie / besware / bekommernisse / – wat ookal die hoofmoment van haar brein vir hierdie dag is.

Ek skryf hierdie blog, omdat dit vir my nogal ‘n emosionele oefening is:  soos ek sê, sy is nie dood dat ‘n mens finaal afskeid neem nie, maar haar gesondheid het so agteruit gegaan dat my ma – hoe kan ‘n mens dit nou stel – amper soos ‘n kind geword het; nie meer is soos ons haar ken nie.  Daar is geen logika meer in haar denke of gesprekke nie; sy verstaan dinge moeilik; sy vergeet binne sekondes wat jy vir haar gesê het; sy raak ontsteld oor onbenullighede of oor dinge wat reeds uitgesorteer is maar waarvan sy al klaar weer vergeet het.  Dit verg “Job se geduld” om met haar te praat; iets wat ek beslis 10+ jaar gelede nié gehad het en nie sou kon doen nie.

Om byvoorbeeld ‘n voorbeeld te noem…gister se gesprek het so verloop:

Ma: Hallo, hoor hier, my DSTV is af.  Hoekom het jy nie die rekening betaal nie.  Ek het nog nooit nie my rekenings nie betaal nie.  Ek kan niks sien nie.  Hier was mense wat probeer help het maar almal sê die boodskap op die skerm is “rekening nie betaal nie”; … (ek val haar in die rede)

Ek: Ma, ma se DSTV rekening word per diebietorder betaal…

Ma: Ja, ek weet.  Hoekom het dit nie afgegaan nie?

Ek: Wag ma, dit word per debiet order betaal en IS betaal.  Ek het reeds met DSTV gepraat en hulle bevestig dat alles opbetaald en reg is.  Daar is fout met die dekodeerder.

Ma: Almal hier sê daardie boodskap is wanneer jou rekening nie betaal is nie.  My DSTV werk nie (begin van vooraf).  Dit sê net “scrambled service”.  Hoekom het jy nie my DSTV betaal nie

Ek: Dit is betaal ma

Ma: Het ek dan nie meer geld oor nie.  Hoe gaan ek betaal vir die sorgeenheid.  Nee, ek het besluit om maar liewer terug te gaan na my eie woonstel.  Sal jy so reël asb.

Ek: Ma, daar is nie fout met ma se geld nie.  Die DSTV is betaal en ons het klaar alles gereël wat die verblyf betref.

Ma: Hoekom het jy nie my DSTV betaal nie.  …… (en so begin dit weer soos heel bo)

…en so draai die hele gesprek oor haar bekommernis en DSTV; net om oor ‘n uur of wat weer gebel te word met dieselfde trant.  Of nog erger, sy bel jou later en begin ‘n gesprek met jou asof dit die heel eerste keer is wat jy en sy hieroor praat.  So het sy byv. my gebel en my vertel hoe sy besluit het om voortaan in die sorgeenheid te bly – van die besluit, trek, kamer inrig, alles gedoen, asof ek glad nie daarvan bewus was nie; onbewus dat ek – moi – dit gedoen het.  Dan wonder jy by jouself – waar was sy toe ek daar was en saam met haar die “trek” gedoen het?

Ons het nog altyd gesê hoewel my ma se liggaam oud is, was sy nog altyd helder van verstand – soveel so dat sy tot onlangs toe nog (nou al vir 15+ jaar) ‘n Bybelstudie groep hanteer het.  Dis hoekom ek na die “pen” gegryp het…..want ons is dan nou daar waar haar verstand nie meer so helder is nie.

Wel, ek troos my daaraan dat 92 nie ‘n jong ouderdom is nie; dat sy inderdaad ‘n vol en geseënde lewe gehad het; dat sy goed versorg is en steeds sal word tot sy dood gaan; en dat sy vir ons as kinders baie vreugde gegee het, en nog stééds gee.  Ten spyte van sulke deurmekaar gesprekke, is dit nog steeds lekker om haar te bel en met haar te gesels; hoor hoe dit gaan – dis die ironie; by tye is sy weer só helder, dat dit “ma soos van ouds” is.

Hierdie is nie “kla” nie (as dit dalk so oorgekom het); dis eerder ‘n hartseer emosionele “wake-up call” dat ons ma nie meer dieselfde is nie.  Daarmee moet ons vrede maak.  Dit is onomkeerbaar.  Maar sy (en my pa) was twee wonderlike ouers wat elkeen op hul unieke manier ons gevorm en gelei het (plus tonne genade) tot waar ons vandag is.  Hulle het ons nie noodwendig bederf nie, maar ons het net die beste gekry.  My ma en pa was altyd daar vir ons; elkeen op ‘n ander manier en elkeen meer of minder op ‘n sekere stadium van ons gesinslewe; maar ek is vandag, alhoewel hartseer en selfs effe ontnugter, baie dankbaar en voel uiters geseënd om hierdie twee mense as my ouers te gehad het.  Dis jammer my pa is op 72 dood – ek wou nog soveel met hom ook deel en leer, maar dit is oorvloedige genade om my ma op 92 nog by ons te hê.

Wie ook al hier lees – waardeer jou ouers!  Hulle is jou ouers tot hulle nie meer daar is nie (wel, actually vir altyd!).  Op 92 sal my ma my nog “dissiplineer”.  Geniet hulle, want as hulle nie meer daar is nie, is jy altyd spyt jy’t nie nog “daai of daai storie” gehoor nie. O ja, en moenie ophou om vir hulle te bly sorg nie, hetsy emosioneel of finansieël.  Dis omtrent die minste wat ons kan doen.  Ek hoor so baie van ou mense wat in tehuise sit waarvan die kinders ‘n jaar gelede van hulle laat hoor het.  “What goes around, comes around” – jou kinders mag dalk uit jou voorbeeld geleer het en dieselfde met jou doen.

###

One response to “Ouderdom!

  1. Ons Ma is 85 en dit het presies in haar lewe ook so gebeur soos wat jy beskryf het. Mens kan maar net vra vir genade en geduld. Sterkte, ons stap ook die pad….

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s