Mandela ‘n terroris! Wat dan van die NP regering?

Ek het gister ook my stuiwer in die armbeurs gegooi na Steve Hofmeyr en Zelda le Grange ‘n twiet-oorlog gehad het.  Hoewel ek sommige kommentaar verwag het, was die eenogigheid opvallend, maar meer as dit, dit het my skielik laat besef hoe vêr ons is van ‘n versoende samelewing.

Die kort en die lank van die twiets was dat Mandela ‘n terroris was, bomme geplant het en onskuldige vroue en kinders “vermoor” het; dat hy nie sonder rede in die tronk was nie ens.  Wat my absoluut verbaas is dat geen van daardie persone vir ‘n sekonde dink aan die SAW en SAP se moorde nie!  Ja, dalk het die SAW/SAP nie bomme in Pretoria en Durban geplant nie, maar hulle het seker gemaak dat mense verdwyn het; dat mense soos o.a. Steve Biko in aanhouding dood is (en asb, die verskonings wat in die tyd gegee is van eetstakings en selfmoorde, is belaglik en onderskat enige mense se intelligensie).  Ek was in die Veiligheidspolisie; moet my asb nie vertel dit was nie so nie!!!  Hulle kies om nie te kyk na hoeveel onskuldige vroue en kinders dood is in die raids, soos die in Botswana nie; of die in Angola of Mosambiek.  Hulle kies om nie te dink aan die sosiaal-maatskaplike gevolge van ma’s en pa’s in die tronke, of verwyderd van mekaar a.g.v. apartheid nie (waarvan ek dink, ons vandag nog die gevolge dra van ‘n onstabiele en onopgevoede geslag mense sonder morele waardes).

As Mandela ‘n terroris was; dan so ook elke eerste minister en president vanaf 1948!  As Mandela bloed aan sy hande het, so ook elke NP lid, regeringsamptenaar en wie ookal wat bygedra en geglo het dat dit die regte manier van doen is.  Die menseregte skendings aan die kant van die NP is ewe skokkend.  Ja, ook aan die kant van die ANC; so, MOENIE met daai argument kom dat Mandela ‘n terroris is en dus met rede in die tronk moes wees nie.  Dis snert!  Dis subjektief sonder om te kyk na die skade en skandes van die NP regering.  Oorlog het nie engeltjies nie.  Beide kante het skrikwekkende goed gedoen; so kom ons vergeet daardie argumente en kyk na wat Mandela se “legacy” is toe die oorlog “verby” is.

Daar kan geen twyfel wees dat toe die wapens aan BEIDE kante neergelê is, hy ‘n ongelooflike bydrae gelewer het tot die bewerking van vrede en versoening nie.  Ek is oortuig dat as dit nie vir sy bydrae was nie, ons verseker ‘n burgeroorlog gehad het – dis immers wat sommiges wou hê toe Chris Hani vermoor is.  Mandela het eiehandig dit afgeweer.  Is dit ‘n terroris wat so geveg het vir vrede en versoening en ‘n vreedsame oorgang?  Jy sal my nie daarvan oortuig nie!  Mandela het in ‘n kort tydjie meer vermag as wat talle in ‘n leeftyd nie kon regkry nie.

En ja, wanneer ek Mandela se lof besing, ontken ek nie die korrupsie en mislukkings van vandag nie, maar vertel my hoe jy dit aan hom as persoon koppel?  En asb, moenie vir my sê daar was geen korrupsie voor 1990 nie – ek kan vir jou ‘n paar noem as jy wil!  En natuurlik is Mandela steeds net mens en het ook foute gehad; wie het nie?

So, na alles moet ek erken wat ek nie wil erken nie……op die oog af, wanneer dit dalk iemand se sak, salaris, werk, beursie raak, is hulle skielik ewe versoenend, maar wanneer die “tekkie die grond slat“, kom die ware kleure uit en dan, my liewe SA, lyk dit vir my asof daar BAIE min Afrikaanses is wat nie nog vasklou aan ‘n meerderwaardige rassistiese lewensuitkyk nie – en DIT maak my erg hartseer.

Madiba

***

2 responses to “Mandela ‘n terroris! Wat dan van die NP regering?

  1. In regte is daar die estoppel reël. Jy kan niemand ʼn groter straf oplê as die skade van sy misdaad nie, proporsionele geregtigheid kom dus daarop neer dat jy nie iemand kan hang vir die steel van brood nie (apologie aan les misérables).

    Niemand het die reg om sonder my uitdruklike toestemming oor my te regeer nie. Die hele konsep van ʼn sosiale kontrak is so gebrekkig soos vriendelike verkragting. Was Nelson Mandela was ʼn terroris? Ja! Sy doel was immers om sonder my toestemming oor my te regeer. Was sy straf regverdig. Nee, die konsep van hoogverraad is ʼn vals een, aangesien die estoppel reël nie eerbiedig word nie. As jy Mandela in 1963 vir 5 jaar tronk toe wil stuur vir die poging om sonder my toestemming oor my te regeer dan moet jy die hele NP gespuis 50 jaar tronk toe stuur. As jy Mandela wou laat skiet dan moet jy die NP kabinet kastreer en dan skiet. Mandela het niemand verraai nie maar opgestaan teen wie onregmatiglik oor hom regeer.

    Vandag sit die Boeremaglede in die tronk, hulle het niemand veraai nie maar hulle het opgestaan teen wie onregmatiglik oor hulle regeer. Is die Boeremaglede terroriste? Ja, hulle het sonder my uitdruklike toestemming gepoog om oor my te regeer. Is hul straf regverdig? Nee as jy hulle vir 5jaar in die tronk wil stop moet jy die hele ANC gespuis 50 jaar tronk toe stuur. As jy die Boeremaglede wil skiet moet jy die hele ANC kabinet kastreer en dan skiet.

    Ek dink nie Mandela het so baie gedoen as wat jy aan hom toedig nie, op die ou einde was dit nie die gemiddelde Jannie en Thabo wat mekaar wou doodslaan nie. Dit was die uitsprake van politieke leiers wat hoe meer in daai rigting geneig het. Dit was die stremmende wete en pleite van die gemiddelde Jannie’s en Thabo’s wat ons van waansin gered het – dit is hulle wat ʼn handeklap verdien. Al wat die ou NP en ANC verseker het, was die voortbestaan van die eenheidstaat en daarvoor het ek geen lof nie.

    Like

  2. Pingback: Belhar onbybels? Ds se argument dra nie water nie…. | ekke dink

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s