Versoeningsleer – Wat het Jesus hier kom maak?

English version here….

Wat was God se oorspronklike bedoeling met die stuur van Jesus Christus om aan ‘n kruis te kom hang?

Almeer mense betwyfel of die Gereformeerde versoeningsleer regtig die saak reg interpreteer.  Mense soos Tony Jones, Rob Bell, Brian McClaren  e.a.  Tony Jones het ‘n boek geskryf; a Better Atonement waarin hy 8 modelle bespreek en dan ‘n keuse maak vir dié modelle wat pas by sy verstaan.  Ek sal later in ‘n blog aan sy boek aandag gee, maar in hierdie blog wil ek net weer die stof afskud van my Dogmatiek boeke en kyk wat sê die Gereformeerde leer presies.cross

Interressant dat die Christelike Teologiese denke nooit ‘n leerstuk oor die versoening saamgestel het nie, soos byv. oor die Trinitieit nie, wat miskien ‘n aanduidding is hoe verskillend dit verstaan word.  Die Niceense belydenis sê net dat Jesus mens geword het vir ons en vir ons verlossing.  Presies hoe Jesus se koms en kruisiging tot ons verlossing bygedra het, is nooit uitgewerk in ‘n leerstuk nie (Van der Kooi, 2002:104).

MAAR, aan die begin wil ek net graag ‘n paar parameters trek waarbinne ek beweeg:

  1. Ons praat hier van ‘n misterie!  Ons probeer hier God se oorspronklike bedoeling weergee asof ons God volledig kan verklaar; asof óns die Maker is.  Laat ons dus nooit vergeet nie; ons werk hier met ‘n misterie en ons kan hoogstens spekuleer, afleidings maak, ons verstaan weergee maar dit is beslis nie die finale antwoord nie.  Daar is vir my ook nie net één manier of stelling nie.  As Brian McClaren in Generous Orthodxy skryf oor die “7 Jesusse” soos verteenwoordigend is van verskillende geloofsgroeperinge, dan kan ek daartoe instem.  Elke geloofstradisie bring iets na die tafel waaruit ons almal iets kan leer, of wat ons geloofs-pelgrismtog verryk.
  2. Dis niks nuuts nie.  Ons werk hier met ‘n leerstelling wat al eeue oor gewonder is.  Anselmus en Abealardus is waarskynlik die eerstes wat dit regtig in leerstellings geformuleer het.
  3. Die Bybel bly die hoogste gesag; vir my in elk geval.  As Calvyn sê dit is A, gaan ek nie noodwendig A glo nie; nie as die Bybelse gegewens my wel anders oortuig nie.  Ek het al in ‘n vorige blog hieroor geskryf, maar dis hoekom ek van die beginsel hou dat ‘n mens die belydenisskrifte onderhou in soverre dit met die Bybel ooreenstem, in plaas van omdatMaar dis ‘n ander blog.  Punt is; die Bybelse gegewens dra vir my ‘n hoër gesag as Calvyn (sien hieronder die verwysing na 4-punt Calviniste).

Wanneer ons oor die versoening praat, moet dit in die eerste plek gesien word as die herstel van die gebroke gemeenskap tussen God en mens en tussem mens en mens.  Sonde het ‘n skeiding gebring tussen God en mens en tussen mens en mens en die “Bediening van die Versoening” herstel hierdie gebrokenheid.

Wanneer die Bybel oor Jesus se koms en die versoening praat, word daar nie net op een manier daaroor gepraat nie.  Verskeie beelde word in die Bybel gebruik om die versoening tussen God en mens te verduidelik; beelde soos slawe wat losgekoop word, die verhouding tussen ‘n man en vrou, ‘n herder wat sy lewe aflê vir die skape, oorwinning oor die mag van die kwaad en skuld wat betaal word in ‘n regstegniese sin ens..

Histories

Histories was daar 3 hoofstrome van denke:

1. Die oorwinning oor die kwaad.

In aansluiting by Paulus ontwikkel hierdie stroming die gedagte dat Christus se koms, lyding en sterwe in die eerste plek God se oorwinning oor die duiwelse magte was (sien ook HK 1).  Die fokus word hier op die oorwinning (in die opstanding) gelê in plaas van die lyding en kruisiging en is steeds vandag die fokus wat die Oosters-Ortodokse kerk lê op dié gebeure.

2. Objektiewe versoening van Anselmus.

Anselmus het ‘n probleem gehad met die vorige stroming dat die duiwel alles “besit” het en dat Jesus die mens uit sy kloue kom bevry het.  Hy het meer gebruik gemaak van juridiese begrippe soos straf, geregtigheid, skuldig ens. (Meiring, 2005:54).  Volgens Anselmus se leer was die skuld so oorweldigend dat geen mens die oordeel kan vryspring nie.  Anselmus se objektiewe versoeningsleer sê dat sonde het vervreemding tussen God en mens gebring waardeur God se eer aangetas is.  God het daarom self, in Sy liefde en goedheid besluit om versoening te bewerkstellig deur ‘n Middellaar te stuur.  Maar, hierdie Middellaar kan self nie ‘n mens wees nie (want hy sou self skuldig wees aan sy eie ongehoorsaamheid); en tog móét hy mens wees (twee-nature leer).  So stuur God dan Jesus as die Messias, as die Een wat aan Sy geregtigheid sou voldoen.Prof Johan Heyns (1999:283) verduidelik dit so:

  1. God en Mens
    1. God gee aan die eerste mense, Adam en Eva, opdragte en bevele, maar verbind daarmee ook straf ingeval dit nie gehoorsaam word nie.
    2.    Die mens oortree Gods opdrag en staan dus skuldig voor Hom.
    3.    Met reg ontvlam Gods toorn oor die mens en Hy straf die mens.
    4.    God wil die gebroke verhouding herstel.
  2. God en Jesus
    1.    God besluit om uit liefde self die verhouding te herstel
    2.    Die Seun van God kry die opdrag en wil om mens te word.
    3.    As mens kom Hy doen wat die mens moes doen, maar nie gedoen het nie, en Hy kom ook die volle straf dra wat vir die mens bedoel was.
    4.    So word aan die eis van Gods geregtigheid voldoen, en versoen God die wêreld met Hom.
  3. Jesus en Mens
    1.    Jesus se gehoorsaamheid is plaasvervangend.
    2.    Die mens baat by wat Jesus vir hom gedoen het, en hy word met God versoen.
    3.    Hy word tot ‘n bediening van die versoening opgeroep en tot ‘n vernuwing van al die verhoudinge waarin hy lewe.
    4.    Hierdie mense wat glo in Jesus Christus, is die mens wat verkies is en deur die Vader aan Christus gegee is om deur sy Gees en Woord gered te word.

Soos in die verbond, is dit weereens GOD wat die inisiatief neem.  Dit is God wat Sy hand uitsteek na die ongehoorsame mens en versoening bewerk en so stuur Hy Jesus as die enigste wyse waardeur die mens met God versoen kan word (Hand 4:12).  Sommige afsplitsing in die eeu-oue debat meen dat Jesus se gehoorsaamheid God “omgehaal” het (afgelui uit godsdienste waar gode omgehaal is deur offers).  Jesus se gehoorsaamheid en dood het God nie tot liefde “omgehaal” nie.  Inteendeel, Jesus se kruisdood is juis die bewys van God se liefde vir die mens!  Dis die grond van die versoening! Soos gesien kan word, is dit meestal die stroom waarin die Gereformeerde tradisie in beweeg het.

3. Subjektiewe versoening van Abaelardus.

Voortvloeiend uit die vorige paragraaf oor die liefde van God, en, volgens Abaelardus, dat die Objektiewe leer van Anselmus te veel maak van God se toorn en te min van God se liefde, ontstaan die subjektiewe versoeningsleer.  Volgens Abaelardus se subjektiewe versoening stuur God Sy Seun om die mens te versoen met God, nie omdat Hy moet nie, maar a.g.v. Sy liefde.  Christus betaal nie vir ons skuld nie, maar openbaar God se liefde.  Christus “stil” nie God se toorn nie, maar kom wys ons God se liefde.  Diegene wat hierby aansluiting vind, sluit aan by die gedagte dat dit ondenkbaar is dat God “vreugde” in Jesus se lyding sou hê en dat dit daarom nie oor straf gaan nie, maar oor God se liefde (Schleiermacher, Dorothy Solle, Wiersinga, en nuwere teoloë soos Rob Bell e.a.).

Hierdie “liefdesaspek” van die versoening is die tema van Rob Bell se boek “Love Wins“.  Vir Rob Bell is God se liefde so oorweldigend dat uiteindelik niemand verlore sal gaan nie (sien hier vir ‘n bespreking van Rob Bell).  Wiersinga skryf dat ons nie gered is omdat Iemand “in ons plek” dood gemaak is nie, maar omdat Jesus aan ons God se onvoorwaardelike liefde kom wys het (Meiring 2005:57).Die kritiek teen Abaelardus se subjektiewe versoeningsleer is dat daar dan geen nut vir Christus se Goddelikheid sou wees nie; ‘n blote gewone ander mens sou ook maar kon sterf om God se liefde te demonstreer (later meer hieroor).  Maar, die belangrikste kritiek is dat Abaelardus te min erns maak met sonde en God se toorn daaroor (God se geregtigheid). Liefde word in ‘n sin ‘n voorwaarde vir versoening, terwyl dit die resultaat was en misken die geregtigheid van God.  God is liefde, maar eis terselfdertyd ook geregtigheid.  God het in die verbond aan die mens beloftes gegee maar ook sekere eise gestel.  Die mens het nie aan daardie eise gehoor gegee nie en kon dus nie die beloftes in ontvangs neem nie.  Maar omdat God liefde is, gee Hy nie sy eis om gehoorsaamheid en geregtigheid prys nie (Eks 34:7); Hy verloën Homself nie (Heyns, 1999:284).

Gereformeerde leer

Omdat die Gereformeerde tradisie grotendeels by Anselmus se objektiewe leer aansluit, die volgende verdere opmerkings:

‘n Ander aspek van die versoening is dat Jesus as verteenwoordiger van die mens deur die kruis gaan.  Omdat Christus namens die mens die versoeningsoffer bring, neem God dit aan en versoen God die wêreld IN Christus met Hom deur ons nie ons oortedings toe te reken nie (2 Kor 5:19).  Hier is dit belangrik om na die Twee-Nature leer te verwys, waaroor ek later sal blog.  Omdat niemand aan Gods eise kan voldoen nie, kon en het Jesus as die Middelaar daaraan voldoen en so ook as verteenwoordiger van die mens opgetree.  God eis die geregtigheid, maar verskaf dit self ook in Christus.  “Wat God vra, gee Hyself, omdat Hy weet dat niemand anders dit kan doen nie. Hy gee Christus Jesus wat, met sy gehoorsaamheid aan sy eise van geregtigheid, voldoen” (Heyns. 1999:284).  Plaasvervangend beteken dit dat met my gehandel word soos wat met Christus gehandel is.  Sy dood is my dood, maar sy lewe is ook my lewe! (Gal 2:20).

‘n Volgende aspek is die uniekheid van Jesus se offer.  Niemand kan Christus se gehoorsaamheid en uiteindelike kruisdood nadoen of aanvul nie.  Dit was en is ‘n volmaakte offer wat alle bykomende offers onnodig maak.

Die volgende vraag is nou hoe hierdie offer my deelagtig word.  Voordat ek na die Calvinistiese beperkte versoening (Limited Atonement) leerstelling gaan, net eers die volgende:  Hoewel die versoening deur Christus verwerf is, kan dit slegs deur geloof gerealiseer word in my lewe.  Geloof “skep” nie versoening nie (want dan sou geloof weer ‘n reddende kwaliteit gehad het wat Christus se uniekheid sou aantas); maar versoening sluit ook nie geloof uit nie!  “Die obiektief verworwe versoening word subjektief verwerklik langs die weg van geloof deur die werking van die Gees en die prediking van die Woord.” (Heyns, 1999: p287).  Die gevolg is natuurlik dat dié in wie God se versoening gerealiseer het, ontvang die Bediening van die Versoening (2 Kor 5) om sodoende self agente van versoening te word.  Dit is dus nie ‘n privaat aangeleentheid net tussen my en God (my personal saviour) soos McClaren kla dit geword het nie.  Die versoening moet ‘n uitwerking hê op mense en die wêreld rondom ons.  Ons word agente van versoening wat met woord en daad heelmaak van alles en almal wat vanweë die sonde stukkend gemaak is (Heyns p288).

Wie deel almal hierin?  Volgens die Calvinistiese leer van beperkte versoening beteken dit Christus se soendood slegs van toepassing is op die uitverkorenes; op “sy skape”; op die wie God na Hom sal trek, die wat voor die grondlegging van die aarde uitverkies is (Eff 1:10; Joh 17:9, Mat 26:28, Eff 5:25).  Selfs vanuit 2 Pet 3:8 word afgelui dat dit nie “alle” mense is nie, maar dat die skrywer verwys na almal van “hulle” wat uigekies is.  Dit bring natuurlik onmiddellik die vraag van determinsime, van hopeloosheid. Hoe weet ek, ek is uitverkies.  Al glo ek hoe hard, as ek nie uitverkies is nie, is dit taboe met my.  En erger nog, as ek nie uitverkies is nie, is dit “ultimately” nie my skuld dat ek nie “gekies” het nie en kan ek daarom nie veroordeel word nie.  Vir sommiges is dit totaal onaanvaarbaar om te dink dat God enigsens behae daarin sou skep dat daar mense gemaak is vir die verderf.  Dit is veral op hierdie punt waar ons moet erken dat dit ‘n msiterie is waaroor ons slegs kan bespiegel want:

  1. eerstens, God is baie meer barmhartig, liefdevol en genadig as ek.  As ek dus bekommerd is oor die arme mense wat nie uitverkies is nie, moet ek my nie verbeel dat ek meer goedhartig en liefdevol as God is nie.  Dit is dus nie iets waaroor ek my moet bekommer nie.  Soos die jongmense sê: “He has this…”
  2. tweedens, dat God mense uitkies is volledig God se liefde en genade, God se soewereine reg as Skepper.  Dat mense verlore gaan, is nie God se “skuld” nie, maar die mens se keuse.
  3. derdens; kan ons noodwendig met ‘n liniêre tydsbegrip werk as een dag vir God soos ‘n 1000 jr is en ‘n 1000jr soos ‘n dag?  Is daar ‘n begin en einde aan God, aan die Skepping, soos wat daar aan ons tydsbegrip is?  As daar enigsens ‘n kans is vir ‘n alternatiewe tydsbegrip, is dit moontlik dat die uitverkiesing steeds plaasvind en nie ‘n afgehandelde saak is “voor die grondlegging” nie.  Just wondering….
  4. God ken die bedoeling van die hart, skryf die Hebreërskrywer.  Is dit moontlik dat God vooraf weet wie sou positief reageer op die uitnodiging van Jesus en wie nie?    Sien God nie baie dieper as ons nie?

Ek weet dit antwoord nie regtig die vrae nie, maar dit is al verklaring wat ek tans daarvoor het.  Of ons moet erken, wat ook nie ontmoontlik is nie, dat die Dordtse Leerreëls herbewoording nodig het.  Dis om hierdie redes dat Randy Alcom en andere hierdie punt van Calvinisme verwerp (die sogenaamde 4-punt Calvinisme).

Whenever I hear these passages interpreted by those who advocate limited atonement, I have the distinct sense that rather than accepting what the passages are saying, they are trying to make them say something else which is foreign to the intent of the author and the natural understanding of the words and contexts. The passages that say Christ died for his sheep and his bride do not nullify this, for they don’t say he only died for his sheep and his bride.

‘n Baie goeie beskrywing van Alcom se probleem met die Limited Atonement is hier beskikbaar.

Slot

Dit lyk vir my dat ons nie regtig die versoeningsleer sonder die uitverkiesing kan lees nie.  Daar hang vir my ‘n noue verband tussen die twee.  Maar belangriker nog, daar is pluspunte en kritiek in en teen alle modelle wat al oor die eeue voorgestel is (selfs Tony Jones se 8 modelle).  Moet ons noodwendig kies tussen vir een van hulle?  Sou ons nie soms meer aanklank kon vind by een, en soms by ‘n ander nie; afhangende van ons omstandighede en konteks.  Dit sou vir my moontlik wees en pas in by ons post-moderne inslag (Meiring 2005:66).

Tweedens is dit belangrik dat ons nie diegene wat anders dink as ons se egtheid van hul geloof mag betwyfel nie.  Net omdat iemand anders dink oor iets wat so misterieus is, kan en mag nie toelaat dat ons mekaar die genade van God ontsê nie.  Daar is tog meer ooreenkomste as wat daar verskille is in Christus.

Ek is verder ook daarvan oortuig dat die Gereformeerde teologie soos wat ons dit bedryf as Protestante verskil wesenlik van die Amerikaanse Evangelical teologie.  Ek vermoed dat die Amerikaanse teologie ‘n evolusionêre ontwikkeling ondergaan het van Protestant, deur Gereformeerd, met ‘n koppie Baptis/Charismaties, met ‘n eetlepel independentistiese invloed.  Hoewel ek nie met alles saamstem wat moderne Amerikaanse eksponente (meestal geëtikiteer as Emergent Church) sê nie, wil dit vir my voorkom asof hulle meer “Gereformeerd” neig; asof hulle probleme het met die tipies Evangelical verwronge Christenskap en meer Bybels wil wees.

###

Verwysings:

  1. Heyns, J.A. (1999, c1978). Dogmatiek (285). Pretoria: NG Kerkboekhandel.
  2. Twee woorde is meestal gebruik om Jesus as versoeningsmiddel te verduidelik: hilasmos dui op offer waardeur die sondeskuld uitgevee word, soos ind ie OT (Rom. 3:25, Hebr. 2:17, 9:5, 1 Joh. 2:2, 4:10). katallage dui op die herstel van gebroke verhoudinge soos in die sosiale omgang (Rom. 5:10,11, 11:15; 2 Kor. 5:18,19; Ef. 2:16; Kol. 1:20).
  3. Tony Jones at Baylor Chapel (http://www.youtube.com/watch?v=9keeJVrtiSY).
  4. Kenvin Probst (http://www.joymag.co.za/article.php?id=273)
  5. Meiring, A.M. (2005).  Heart of darkness: a deconstruction of traditional Christian concepts of reconciliation by means of a religious studies perspective on the Christian and African religions. Doctoral Thesis.
  6. Van der Kooi, Cees 2002. Three Models of Reconciliation:: A Christian Approach, in Gort, Jerald D, Jansen, Henry & Vroom, Hendrik M (eds) Religion, Conflict and Reconciliation, 104-116. Amsterdam: Rodopi.
  7. Customer Review on Better Atonement
  8. Center for Reformed Theology. Five points of Calvinism TULIP
  9. Jonker, W.D. (1977). Christus die Middelaar.

3 responses to “Versoeningsleer – Wat het Jesus hier kom maak?

    • Jip, ek ken Karl Barth se versoeningsleer. Ons (Gereformeerdes) verskil so effens met Karl Barth (Lutherane, maar selfs onder die Luthereane is daar 2 denkrigtings) se versoeningsleer. Ek sal op my volgende post bietjie meer daaroor sê

      Like

  1. Pingback: The doctrine of Atonement / Reconciliation – What exactly did Jesus achieve on the cross? | ekke dink

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s