simplistiese bybel interpretasie…?

Ek is besig met ‘n boek wat my aandag getrek het omdat ek self al voor situasies gekom het waar ek besef het….die tradisionele “antwoorde” op etiese- en lewensvrae van goed-bedoelde gelowiges, werk eenvoudig nie!  Onlangs het iemand ook my raad gevra op dinge wat mense vir hulle gesê het wat bedoel was as troos by die dood van hulle broer; dinge wat eenvoudig nie troos nie.  Die boek, The Bible made Impossible, deur Christian Smith betoog dit: dat “American-Evangelicals”, Biblisiste die Bybel só interpreteer dat dit uiteindelik simplistiese antwoorde gee wat die Bybel se waardigheid aantas.

Een van die vrae wat Smith vra is: Hoe kan ons aan die een kant die genoegsaamheid en onfeilbaarheid van die Bybel as God se Woord bely, en terselfdertyd met soveel verskillende standpunte sit rondom doop, belydenisse, watter liedere gesing word, kerk regering ens.?  Hier volg kortliks ‘n soort van opsomming en resensie van Christian Smith se boek.

Biblicism

Die skrywer het dit teen die manier hoe Amerikaanse evangelicals / biblicists die Bybel verklaar.  Vir Smith is dit eenvoudig inkongruent: aan die een kant getuig hulle (dis nou die biblicists) van die onfeilbare, gesagvolle, genoegsame “inerrant” woord van God, wat genoegsaam is vir alle lewensvrae, duidelik is vir “instruction for basic living“…., maar aan die ander kant staan die Christelike kerk skuldig aan die minste instemming rondom sleutel dogmatiese of selfs eenvoudige Bybel-kwessies.  Soos byv., wat is nou eintlik die regte kerk regering, presbiteriaans, independentisties, episkopaal?  Watter dag en manier is die regte manier vir sabbatsviering; sondag, saterdag, rus, winkels oop of toe, sport?  Plek en rol van die vrou in die kerk? Rykdom, armoede, voorspoedsteologie? ens…..

Sy betoog is nie om die gesag van die Bybel aan te val, of om die saak van liberale teologie te bevorder nie – inteendeel!  Sy saak is dat biblicists na sy mening juis die ryk Bybelse boodskap verskraal het en, hoop hy, om aan te wys hoe die Bybel weer die regmatige plek as Woord van God kan inneem….mits dit reg en eerlik/verantwoordelik verklaar word.  Daarmee – verantwoordelike Bybel-lees – is ek volledig eenstemmig.  Ek was bevoorreg om vir 2 jaar Bybel interpretasie klasse aan te gebied het en het self die bevryding beleef van eerlike, verantwoordelike Bybel interpretasie.

Ek deel sy betoog teen simplistiese Biblisisme omdat in my lewe en denke oor die Woord, oor “issues“, eie worstelings op my pelgrimstog van die lewe saam met God, ek dikwels al self geworstel het met die “maklike” antwoorde wat nie rus en vrede bring nie, wat nie antwoorde verskaf nie!

Smith sê die fundamentele probleem van die biblicists se interpretasie metodiek is, “pervasive interpretive pluralism“.  Volgens Smith is  “pervasive interpretive pluralism” ‘n metode om kontensieuse sake in die Bybel af te maak as onbelangrik of eenvoudig te ignoreer (intepretasie-pluralisme) wat uiteindelik die gesag en relevansie van die Bybel relativeer.  Dit ondergrawe vir Smith, “intellectual honesty and theological credibility“.

Miskien is dit net belangrik om ook daarop te wys dat Smith beide pole, fundamentalisme sowel as teologiese liberalisme verwerp as ‘n oplossing.  Dit mag blyk dat hy neig na liberalisme, maar hy stel dit kategories dat dit beslis nie sy bedoeling is vir ‘n alternatief nie.

Wat is biblicism?

Biblisisme, sê Smith, is gebou op ‘n klompie aannames en geloof-sisteme oor die Bybel se natuur, doel en funksie en dui die volgende aannames aan:

  1. Goddelike Woord – elke woord is uiteindelik God se eie woorde wat sonder enige foute in menslike taal neergeskryf is
  2. Genoegsaamheid – die Bybel verteenwoordig die totaliteit van God se wil en kommunikasie met die mens
  3. Dekking – die Bybel verteenwoordig ook God se wil oor elke denkbare saak en is relevant vir Christene se leer en lewe
  4. Verstaanbaarheid – die Bybel is so, dat elke redelike mens dit kan lees en korrek kan interpreteer
  5. Hermeneutiek – die beste manier om die Bybel te lees en te verstaan is om dit in sy heel eenvoudigste vorm, selfs oorspronklike letterlike teks te lees soos die outeur dit bedoel het, met inagneming van die vorm en styl
  6. Sola Scriptura – die Bybel is genoegsaam in die sin dat geen addisionele geskrifte, getuienisse of belydenisse noodsaaklik behoort te wees om dit te kan verstaan nie
  7. Interne Harmonie – alle Bybel gedeeltes pas soos ‘n legkaart bymekaar, en verteenwoordig ‘n enkele “consistent” riglyne vir reg en verkeerd
  8. Universeel – wat die Bybelskrywers geleer het is geldig vir alle tye en in alle omstandighede
  9. Bybelstudie – goeie induktiewe Bybellees en verstaan is genoeg om alle (?!) vrae oor Christelike leer en lewe te beantwoord
  10. Handboek – die Bybel leer moraliteit en dogma tot so ‘n mate dat dit gesamentlik ‘n volledige handboek vir Christelike leer en lewe verskaf oor enige saak, selfs soos wetenskap, politiek, liefde ens.  Smith wys op talle boeke en websites wat uitdruklik die Bybel bekend stel as die handboek vir die lewe (God’s Handbook to Life, … our manual for life, …our guidebook for a healthy life, ens.).

Ek dink hier is een van Smith se leemtes:  uit verskeie “reviews” van sy boek (sien onder vir verwysings), is daar talle Biblisiste wat eerstens, nie hierdie lys glo of aanvaar nie; en tweedens, wat regtig eers sommige van hierdie tien punte behoorlik wil definieer want volgens hulle, soos dit hier staan, laat te veel ruimte vir verskillende interpretasies (sic).  Aan die ander kant beskou ek myself glad nie as ‘n Biblisis nie (danksy ons Gereformeerde opleiding wat behoorlik teks-kritiek toegepas het onder leiers in hierdie veld, soos Proff Andrie du Toit, HJB Combrinck, Prinsloo ens), maar tog sou ek sommige van hierdie punte selfs wil aanvaar; soos nr 8, 6, 5 ens.  Byv,  Die Bybel is natuurlik God se Woord, maar nie soos Smith beweer, God se direkte woorde nie.  Presies hoe direk bedoel hy?  Die Bybel is God se Woord omdat Hy bybelsrkywers, elkeen in sy eie aard en persoonlikheid en omstandighede gebruik het – die pneuopneiste beginsel.  Die Bybel is genoegsaam, maar weereens nie soos Smith dit aandui nie.  Genoegsaam in die sin dat ons nie ekstra of buite Bybelse bronne nodig het om God te leer ken en te dien nie.  Ander bronne kan help en is soms baie nuttig, maar is nie noodsaaklik nie.  Iemand sou met die Bybel alleen God kon leer ken en liefhê.  Ens,…  My kritiek is dus hier dat Smith se lys nie korrek verteenwoordig wat hy, soms irriterend breedvoerig, verder verduidelik wat Biblisisme is nie.

Pervasive Interpretive Pluralism (PiP)

Die probleem met “pervasive interpretive pluralism” is dat die Bybel wat, volgens biblisiste, die eenvoudige genoegsame antwoord gee op elke denkbare saak (hier lys Smith talle voorbeelde van boeke soos, die Byel en jou besighed, die Bybel en opvoeding, huwelik, sport ens), ook aanleidig gee tot soveel verskillende interpretasies.  Dis nie verniet dat daar selfs in Afrikaans ‘n gesegde is: soveel hoofde soveel sinne….
 
Smith noem die volgende moontlikhede wat hy meen, biblisiste op hierdie “aanklag” (waarom die Bybel so verskillend geinterpreteer word) sou wou antwoord.  Sê Smith.  Het hy dit gecheck?  Hoe dit ookal sy, hy betoog dat hierdie soort van verweer tereg nie die probleem van swak interpretasie gaan oplos nie…
  1. die ander is verkeerd, ons is reg” – die wat nie met ons saam stem nie, lees die Bybel verkeerd.  Ekke: Wie kan homself die reg toeeien dat hy alleen die waarheid in pag het?  Is dit nie die begin van sektaries wees nie?
  2. “bybel-oor-skrywers se skuld” – die oorspronklike woord van God is getrou en sonder enige inkongruensie, maar dis diegene wat dit oorgeskryf het, wat sodanige foute gemaak het dat dit vandag verwarring veroorsaak.  Ekke: dit kan tog nie!  Dit sou teenstrydig wees met die biblisiste se aannames.  En wie sou dan ooit enigiets uit die Bybel kon neem as normatief?  Dit maak actually die Bybel nutteloos.
  3. onnadenkende bybelleser” – sommige is in hulle denke so verstar dat hulle eenvoudig nie die “regte” antwoord kan raak lees nie. Ekke: so, die Heilige Gees verlig dan nie (Rom 8).  Het God die mens se denk-vermoë dan onderskat?  Is die hele idee van “laat God julle denke vernuwe…(ROm 12) dan nie sodat ons die Woord van God kan leer en daarvolgens lewe nie?
  4. God weerhou die leiding van die Gees” – God weerhou aspris die leiding van die Gees en maak die waarheid eintlik net aan sommiges bekend; of die duiwel weerhou mense om die Bybel reg te verstaan en verdeeldheid te bewerkstellig.  Ekke: dit maak geen sin nie en weerspreek die Bybel self.
  5. elkeen is reg” – almal is eintlik reg sodat almal hulle kennis met mekaar moet deel.  Alleen so sal die waarheid ontbloot kan word.  Ekke: dit plaas weereens ‘n vraagteken oor die Heilige Gees se vermoë om die wil van God bekend te maak?  Is die Bybel dan genoegsaam as net die kollektief van mense die Bybel kan reg interpreteer?
  6. God het met ‘n rede ‘n “ambiguous” Woord gelaat” – God het dit so bedoel dat die Bybel verdeeldheid moet bring om uiteindelik ‘n hoëre diepere doelwit te bereik (?!)  Ekke: God is tog nie ‘n God van wanorde nie!  Watter nut sou dit hê?
Smith gaan verder en wys dat die verskillende interpretasies oor steutel aspekte van die Christelike geloof ook nie opgelos gaan word deur te vereis dat daar aan dié lysie vereistes voldoen moet word nie.  Meeste van die verskillende interpretasies huldig dikwels dieselfde bogenoemde aannames oor die Bybel (?!).  Dit help dus nie om eenstemmigheid daarop te eis en te hoop dat dit eenstemmigheid oor die sleutelsake sal bring nie.  Soos John Nevin al in 1849 gesê het:
“If the Bible be at once so clear and full as a formulary of Christian doctrine and practice, how does it come to pass that where men are left most free to use it in this way … they are flung asunder so perpetually in their religious faith, instead of being brought together.”
Dus, dit bewys dan vir Smith, dat die Bybel actually nié duidelik is, of selfs consistent is sodat meeste eerlike Bybel lesers eenstemmigheid kan bereik nie – aldus die biblicist’s metode van Byble-lees.  Omdat die edie Bybel so hanteer, gee dit aanleiding tot die volgende probleme:
  • Sekere skrifgedeeltes- of leringe word eenvoudig geignoreer. As die Bybel volledig gehoorsaam moet word en dien as ‘n Handboek vir die lewe, waarom groet hulle mekaar nie met ‘n heilige soen nie?; of  oor die vroue wat moet stil bly in die gemeente (1 Kor 14:34)?  Sy probleem is dat hulle selektiewe keuse van wat tot die letter gehoorsaam meot word, en wat nie, die gesag van die Bybel ondergrawe.  Wie besluit watter beginsels is geldend?
  • Kulturele verskille word op ‘n arbitrêre metode gerelativeer.  Hier verwys hy na 1 Tim 5:23 wat aamgesê is om wyn in plaas van water te drink.  Talle ander voorbeelde word genoem.  Weereens probeer Smith net aanwys dat die manier hoe biblisiste met die “keuses” oor wat tot die letter nagevolg moet word en wat nie, arbitrêr is en dus “pervasive interpretative pluralism” is.
  • Hy noem verder baie ander moeilike gedeeltes wat biblisiste verwarrend verklaar; soos Titus 1:12-13,  Gen 6:1-4 ens.
  • Laastens wys hy daarop dat biblisiste dikwels die Bybel misbruik om eie opinies te regverdig; of om die besluit of standpunt wat hulle REEDS huldig, te bekragtig.  Hy skryf: “…the Bible is often used by its readers in various ways to help legitimate and maintain the commitments and assumptions that they already hold before coming to the biblical text…The Bible teaches propositional content X; I should believe and obey what the Bible teaches; therefore, I believe and obey propositional content X.” Instead, the logic that is often actually employed is more like this: “I already believe, think, or feel Y; the Bible contains an idea that seems to relate to Y; therefore, my belief, thought, or feeling of Y is ‘biblically’ confirmed.

In al bogenoemde gevalle probeer Smith aanwys hoe arbitrêr die Bybel wel geinterpreteer kan word as die biblisiste se metode gevolg word.  Wat is die kulturele gronde watter tekste geldend is en watter nie?  Wie besluit daaroor? Watter beginsels is in elke skrifgedeelte op die spel?; ens.

Die probleem vir Smith is:  Die Bybel verloor sy krag en relevansie!  En hiermee stem ek saam.  Deur so met die Bybel om te gaan, verloor die Bybel sy krag, geloofwaardigheid en relevansie en maak dit dat mense, veral die moderne post-moderne mens die Bybel begin sien as ‘n gewone, selfs ongeinspireerde boek van individue wat selfs nie eers veel van die wêreld om hulle verstaan het nie (aldus die nuwe hervorming).

Christus-sentraal

So wat is die antwoord?  Smith probeer nie ‘n volledige antwoord gee nie, maar gee tog ‘n baie duidelik riglyn wat die Bybel baie meer “Woord van God” maak as, volgens hom, die tipies Amerikaans-evangelies-biblisiste dit maak.  By die lees daarvan was ek dankbaar vir ons gesonde opleiding – want dis wat ons ook geleer het!  Suiwer Christologies, Christosentriese Bybel-lees en verstaan.  Ek gaan nie in detail hieroor in nie; daar is genoeg ander bronne in dié verband.  Genoeg om te sê dat die Bybel uiteindelik ons bring om die goeie nuus van Jesus Christus as Messias te bring.  Die Bybel vertel ons van God, wie vir ons verder geopenbaar is in en deur Jesus.  Die Bybel wys, selfs in die OT na God se verlossingsplan – Jesus Christus.  En veral omdat ons Hom gesien en gehoor het, kan ons die hele Bybel lees met ‘n Christosentriese bril want Jesus is die naam wat God gegee het waardeur Hy wil dat ons gered word (Hand 4:12).  “The purpose, center and interpretative key to scripture is Jesus Christ.” (Smith).  So in kort, die Bybel gaan oor Jesus Christus en is nie ‘n handboek oor wetenskap, geskiedenis, hoe om uit te gaan met ‘n persoon, hoe om geld te maak ens. nie.

Vir my kon die boek geëindig het by Hfstk 5.  Dit wat daarna gevolg het, het vir my eintlik net meer vrae geopper as antwoorde.    In hoofstuk 6 verduidelik hy hoe die Bybel kompleks en vol dubbelsinnige stellings is, en hoe dit geharmoniseer word in die groter prentjie.  Smith gaan voort om ‘n oplossing voor te stel waarin die Bybel ingedeel kan word in dogma, “doctrine” en opinie en stel voor dat teoloë uiteindelik bymekaar moet kom en ooreenstem oor wat nou eintlik die kern dogmatiese issues is.  As Smith die hele eerste helfte van die boek gebruik het om te wys hoe Biblisiste nie ooreen kan stem oor wat die Bybel leer nie, hoe verwag Smith gaan teoloë ooreenstem oor wat die kern dogmatiese issues is waaroor ooreen gestem kan word?

Opsommend

Ek stem egter saam met hom dat ons die Woord moet laat spreek, en nie self besluit wat die Woord “actually” probeer sê nie.  Die Here het dan self beloof dat Hy Sy Gees aan ons gegee het om ons in ons swakheid by te staan.  Sal Hy dit dan nie ook doen t.o.v. die Bybel en Bybel interpretasie nie.   In sy slot hoofstuk maak hy ‘n paar baie relevante en positiewe stellings oor korrekte Bybel interpretasie.  Tereg het die Bybelskrywers nie geskryf met die doel om ‘n dogmatiese reëlboek vir die opvolgende geslagte daar te stel nie; ook nie met die bedoeling om ‘n histories getroue log te gee van elke gebeure nie; maar die verhaal van God se bemoeienis met die mens wat gekulmineer het in die koms van Jesus Christus!  Die “dogmas” is eers deur die kerk meer as 300jr later uitgewerk….en dis meestal oor dié dogmas waaroor die kerke onder mekaar verskil. 

The apostles understood and preached the truth of salvation in Jesus Christ.  But they did not know and teach the fullness of the many implications of that truth for doctrine, relationships, and society.  That was the task given to subsequent generations of believers across the church history. … Evangelicals need to realize that the B ible is not a “how to” book.  It is a “HERE IS WHO!” book. (Smith, Kindle location 3378 & 3516 )

Inderdaad; die Bybel is ‘n dinamiese lewendige Woord van God en kan nie vasgevang word in mense se interpretasies nie.

Ek het egter nie ‘n probleem dat daar verskillende interpretasies is oor sake nie.  Dit is eintlik vir my juis ‘n bewys hoe elkeen self worstel met die Woord en groei in sy/haar eie aard.  Ons is nie eenders nie, het nie almal dieselfde “learning style” nie, is nie op dieselfde “plek” in ons pelgrimstog met God nie ens.  Ek het heeltemal vrede met pluralisme – ek dink nie ons post-moderne wêreld kan ‘n eenstemmige antwoord oor enige saak vereis nie (ek kry dit nie eers meer in my eie gesin nie).  Dit is iets wat volgens my, gepas het in ‘n modernistiese eeue waar “die finale antwoord oor elke saak” gegee is. 

‘n Saak wat bitter min “reviewers” aangehaal het, was Smith se stelling in sy boek, nl. dat hy oorgegaan het van “evangelical” na die RKK.  Ek is glad nie iemand wat die RKK “in die hel in wil werp” en as ketters beskou nie; inteendeel, ek maak ruimte omdat dit nie ons werk is om te oordeel nie (Rom 8)l.  Maar ek is ook deeglik bewus dat daar ‘n paar wesenlike interpretatiewe verskille betaan tussen Protestantisme en Katolisisme.  En volgens my kan Smith se boek nie behoorlik geinterpreteer word as hierdie feit nie ook deeglik verreken is nie.  Byv., die finale dogmatiese gesag van die Pous teenoor Luther se 95 stellings, wat , in ‘n sekere sin, “pluralisme” veroorsaak het want die Bybel is in gewone mense se hande geplaas.  Ander wesenlike sake soos Maria, afkoop boetes, heiliges ens. moet tog ‘n invloed hê en sal seer sekerlik sy voorstelle vir Skrif interpretasie teenoor Protestantisme beinvloed.  Ek sou dus die boek lees as ‘n bron om my denke te verbreed, maar waarskynlik nie as ‘n gesagvolle bron oor Bybel interpretasie nie.  Terloops, Smith het ook ‘n boek geskryf met die titel “How to Go from Being a Good Evangelical to a Committed Catholic in Ninety-Five Difficult Steps“.

Handige boek om te lees as jy neig na Biblisistiese, simplistiese Bybel interpretasie, maar wees bedag op die probleme in die boek.  

Vir ‘n vollediger prentjie, google die titel vir ‘n uitgebreide lys van mense wat kritiek uitgespreek het teenoor die boek.  Het hy dalk ‘n “nerve” raak geskryf? :-)  Talle van die “reviews” hieronder was uiters sinvol.

Verwysings:
  1. Blog oor Bybel Interpretasie
  2. Smith, C; The Bible made impossible
  3. Nog ‘n blog oor Bybel interpretasie
  4. Review by Mark Einkauf
  5. Alle Reviews op Amazon.com
  6. Leithart se Review  (Baie sinvol)
  7. Smith se antwoord op Leithart (is dit net ek of is dit vreemd dat ‘n outeur ALMAL antwoord op die I-net?)
  8. Extensive Review by Mark
  9. Video onderhoud met Christian Smith Sinvol!
  10. Kevin de Young’s review and a follow-up
  11. Nog ‘n goeie review
 

5 responses to “simplistiese bybel interpretasie…?

  1. Pingback: Fundamentalisme – grootste bedreiging vir die kerk. Regtig? « ekke dink

  2. Pingback: simplistic bible interpretation – the bible made impossible « ekke dink

  3. Pingback: Bybel Interpretasie – Al weer « ekke dink

  4. Pingback: Die Ontluikende Kerk, Konserwatiewe Amerikaanse Teologie en ander Goggas….. « ekke dink

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s