die belhar belydenis

My ma (90+) bel my vanoggend en wil nou vir eens en vir altyd weet; wat is die storie oor die Belhar belydenis.  Sjoe, vinnig moes ek my oggendbrein  in rat kry om vir ‘n baie lojale NG lidmaat, wat geen erg het aan al die teologiese twisgesprekke nie en wie die grootste gedeelte van haar lewe in die ou SA deurgebring het, te verduidelik waaroor dit nou eintlik gaan. 

My kort antwoord was: dis ‘n belydenis in ‘n spesifieke tyd van SA se geskiedenis wat onreg en apartheid wou aanspreek.  Toe haar tweede vraag: “nou hoekom moet ons dit aanvaar“.  Trap sy in my liberale strik….”Wel ma, eintlik is ons nou 25jr te laat.  Ons moes as kerk profeties voor geloop het en 1986 dit aanvaar het, want tóé was dit relevant!”  Toe sou dit ‘n situasie aanspreek wat onBybels was.  Om darem ook net reg te laat geskied aan die kerk – sy het darem in 1986 bely dat apartheid nie teologies regverdigbaar is nie, maar kon net nie die spreekwoordelike Rubicon oorsteek om Belhar as belydenis te aanvaar nie.  Nadat ek haar gemoed gestil het; wonder ek so by myself of ek nou regtig reg laat geskied het aan die rêrige kern van Belhar?  So, ek gaan nou hiermee probeer om bietjie meer reg te laat geskied aan dié belydenisskrif.

Die belydenis en begeleidende brief kan hier afgelaai word:

Disclaimer: hierdie is grotendeels my opinie en is nie bedoel om streng wetenskaplik te wees nie.  Ek wil ook nie voorgee dat ek die belydenis of die verstaan daarvan, of die omstandighede daar rondom volledig reg saamgevat het nie – dis maar my persepsie.  Ek nooi julle graag uit om saam te gesels en my persepsie te korrigeer.  Verwysings na die NGSK (NG Sendinkerk) verwys na die kerk voordat die NGSK en die NGKA saamgesmelt het om die VGK (Verenigende Gereformeerde Kerk) te vorm.  As ek per ongeluk na ander verwys sonder om hulle spesifiek te vermeld, is dit nie uit kwade bedoelings nie.  Volledige verwysings is in my B.Th skripsie wat hier afgelaai kan word.

.

Opmerkings oor “Die Begeleidende Brief”

Ek gaan nie die volledige belydenis aanhaal nie (dit kan hierbo afgelaai word), maar slegs enkele dinge uithaal en daarop kommentaar lewer wat vir my uitgestaan:

Punt 1.

Ons is daarvan bewus dat daar in die lewe van die kerk oomblikke kan ontstaan van soveel erns dat die kerk die noodsaak kan voel om opnuut sy geloof te bely in die lig van ’n spesifieke situasie. Ons is daarvan bewus dat so ’n daad van belydenis nie ligtelik gedoen word nie, maar slegs as geoordeel word dat die hart van die evangelie self op die spel staan en bedreig word. Na ons oordeel verg die kerklike en politieke situasie binne ons land en veral binne die NGK-familie tans so ’n beslissing.

Wat vir my uitstaan is die feit dat die NGSK van toe (nou die VGK) die kairos oomblik besef het; ‘n oomblik in die geskiedenis waar hulle standpunt wou inneem teenoor iets wat nie Bybels reg is nie.  Dis presies hoe belydenisskrifte ontstaan het – om iets aan te spreek “in die oomblik van die tyd” (DJ Smit).  ‘n Belydenis kan nie los gesien word van die spesifieke oomblik in die lewe van die kerk nie.  Dis hoekom ek teleurgesteld is dat ons dit 25 jaar later aanvaar – die kairos oomblik is byna verstreke.

Punt 2.  Motiewe

Sover dit moontlik is voor die mense verklaar ons hiermee dat ons enigste dryfveer geleë is in ons vrees dat die waarheid en krag van die evangelie self bedreig word in hierdie situasie. Ons wil geen groepsbelang dien, partyskappe bevorder, teologieë bevorder of bymotiewe verwesenlik nie. Terselfdertyd weet ons dat ons diepste bedoelinge slegs na ware beoordeel kan word deur Hom voor wie alles oop en bloot is.

Hiermee verklaar die kerk duidelik dat daar geen ander motief is as dat die suiwerheid, waarheid en krag van die evangelie op die spel is en dat hulle dít wil regstel.  Deur goedkeuring te verleen het aan die politieke ideologie van toe, word die evangelie en waarheid bedreig!

Punt 3 getuig van hul gesindheid t.o.v. die belydenis.

Punt 4 roep die kerk op tot versoening.

.

Die Belydenis self

Elke artikel word voorafgegaan met ‘n geloofsverklaring en dan, waar van toepassing, ‘n verklaring wat verwerp word as ‘n konsekwensie van die geloofsverklaring.

Art 1 -geloofsverklaring

Ons glo in die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, wat deur sy Woord en Gees sy kerk versamel, beskerm en versorg van die begin van die wêreld af tot die einde toe.

Art 2 – Sigbare eenheid

Ons glo … dat die eenheid van die kerk van Jesus Christus daarom gawe én opdrag is; dat dit ’n samebindende krag is deur die werking van Gods Gees, maar terselfdertyd ’n werklikheid is wat nagejaag en gesoek moet word en waartoe die volk van God voortdurend opgebou moet word; dat hierdie eenheid sigbaar moet word sodat die wêreld kan glo… een geloof deel, een roeping het, een van siel en een van sin is, een God en Vader het, van een Gees deurdrenk isis; van een brood neem en uit een beker drink, met een doop gedoop is, een Naam bely, aan een Heer gehoorsaam is, vir een saak ywer, een hoop met mekaar deel; saam die hoogte en breedte en diepte van die liefde van Christus leer ken; saam opgebou word tot die gestalte van Christus, tot die nuwe mensheid; saam mekaar se laste ken en dra en so die wet van Christus vervul, mekaar nodig het en mekaar opbou, mekaar vermaan en mekaar vertroos, saam met mekaar ly vir die geregtigheid, saam bid, saam diensbaar is aan God in hierdie wêreld, saam stry teen alles wat hierdie eenheid mag belemmer of bedreig;…

Daarom verwerp ons enige leer wat óf die natuurlike verskeidenheid óf die sondige geskeidenheid so verabsoluteer dat hierdie verabsolutering die sigbare en werksame eenheid van die kerk belemmer of verbreek of selfs lei tot ’n aparte kerkformasie; wat voorgee dat hierdie geestelike eenheid werklik bewaar word deur die band van die vrede wanneer gelowiges met dieselfde belydenis van mekaar vervreem word ter wille van die verskeidenheid en vanweë die onderversoendheid; wat ontken dat ’n weiering om hierdie sigbare eenheid as ’n kosbare gawe na te jaag sonde is; wat uitgesproke of onuitgesproke voorgee dat afkoms of enige ander menslike of sosiale faktore medebepalend is vir lidmaatskap van die kerk.

Daar is vir my geen twyfel daaroor dat daar eenheid behoort te wees, veral waar daar in wese geen verskil is tussen die kerklike ordebepalings, leer en lewe nie – in hierdie geval SLEGS ‘n kleur, en dus taal en kultuur verskille.  Ek is oortuig dat, ten minste struktureel, behoort daar eenheid te wees.  Daar is tog andertalige NG Gemeentes (soos Andrew Murray, Portugees ens.) wat die behoeftes van die engelse taal en kultuur bedien.  Waarom dan nie maar ook ander(skleurige) taal en kulture nie.

Histories gesien is die geskeidenheid, myns insiens, ‘n sondige geskeidenheid.  ‘n Sinodesitting in 1829 het ‘n voorstel afgewys dat afsonderlike nagmaal bedien behoort te word aan blankes en kleurlinge.  Afsonderlike gemeentes vir kleurlinge is per implikasie op die sinode van 1842 afgewys.  Gemeentes is selfs tydens die 1852 sinode aangespreek d.m.v. ‘n herderlike brief oor die “afsonderlike” geneigdheid.  Eers op die sinode van 1857 – die bekende “swakkere broeders”  sinode – is die ruimte gelaat dat, waar van toepassing (m.a.w. nie ‘n algemene reël nie), afsonderlike gemeentes gestig mag word.  Hulle wou in dié besluit bloot ‘n ordereëling maak ter wille van die welwese van die kerk, maar dat die Skriftuurlikheid van die eenheid van gelowiges vir hulle nogtans prinsipiëel was.  Die volstrekte afsonderlikheid van die NGK, NGSK, NGKA en RCA het eers volledig gestalte gekry tydens die Nasionalisme (ongeveer na 1962 rond).  

Dit was in hierdie tydperk dat die Kuyperiaanse invloed ook al sterker geword het met sy welbekende artikel, “Eenvormigheid, de vloek van het moderne leven.”  Vir Kuyper was eenheid die einddoel van die weg wat God met die Skepping loop; m.a.w. die koms van die Koninkryk, maar terwyl ons nog hier is, sal dit geskeidenheid bly.  Geleidelik het die verskeidenheid ontaard in Bybelse regverding van apartheid (soos wat Prof EP Groenewald se verslag by die Sinode van 1948).

Dit is in die lig hiervan dat die belydenis van Bel­har die natuurlike óf die sondige geskeidenheid verwerp veral waar dit so verabsoluteer word dat die sigbare eenheid van die kerk daardeur belemmer word, as die verskeidenheid só verabsoluteer word dat dit aanleiding gee tot die fundering en ontwikkeling van aparte kerkvorming vir aparte mense.  Tereg verklaar die belydenis dat God deur sy leweskeppende Woord en Gees die magte van die sonde en die dood oorwin het.

Die ontwikkeling van die verskeidenheid as beginsel in die teologiese denke van die NG Kerk ontwikkel dus uit die tradisionele vrees en stryd om behoud van die eie teenoor die ander.  Waar die kerk in die beginjare aan die Kaap géén onderskeid gemaak het tussen verskillende gelowiges nie, het dit oor jare heen ontwikkel van ‘n nie-Skrifgefundeerde, maar praktiese reëling tot ‘n Skrifgefundeerde begronding van die verkeidenhied (afsonderlikheid) van mense.  Hierdie plan van beginsels het op die ou end die uitwerking gehad van ‘n sondige verskeurdheid onder gelowiges van dieselfde belydenisgrondslag, maar verskillende velkleure en tale.

Wat die eenheid van die kerk betref hoef daar byna nie gesoek te word na ‘n Skriftuurlike fundering nie omdat die eenheid van die kerk, die eenheid van gelowiges so ‘n vanself-sprekende gevolg is van die nuwe syn van die mens; ‘n syn-in-Christus.   Paulus skryf in die verband aan die gemeente in Tessalonika dat dit nie vir hom nodig is om met hulle oor die broederliefde te praat nie (1 Tes 4:9).  God gee aan hulle die gawe van broederliefde sodat elkeen sy medebroer in Christus kan lief hê.  Dit kán, omdat jou broer in Christus nie jou broer op grond van afkoms is nie, maar op grond van ‘n toekoms; die eskatologiese toekoms. 

In Joh 17 is van die eerste,of dalk die duideliks oproep tot eenheid wanneer Jesus tot Sy Vader bid om die dissipels so te verenig “sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet.“(Joh 17:20-23).  As die kerk die teken van die Koninkryk van God is, moet dit die heerlikheid, die Heiligheid, die versoenende krag van God aan die wêreld sigbaar vertoon.  Indien ‘n kerk dit nié doen nie, is hy nie meer ‘n teken van die koninkryk van God nie en verloor hy dié eienskap van kerkwees.  Die getuienis van die kerk aan die wêreld is dus die groot dryfveer agter die strewe na eenheid.   

Ook in 1 Kor 12:12-30 praat Paulus duidelik oor eenheid.  Met die beeld van die liggaam van Christus wil hy daarmee aan die gemeente die eenheid ín verskeidenheid verduidelik.  Nie elkeen het dieselfde gawe ontvang nie.  ‘n Verskeidenheid van gawes is juis deur die Gees gegee sodat die een die ander kan dien, elkeen met sy besondere gawe; ‘n liggaam saamge­bind uit verskillende lede, maar funksioneel tot opbou van die hele liggaam.  Paulus hef nie die verskeidenheid op nie, maar kwalifiseer dit binne die een liggaam tot diens aan die ander.     

In die gedeeltes waar dit gaan oor Jood, Griek, slaaf of vryman gaan dit spesifiek oor die sosiale en kulturele verhoudinge in die tyd van die Nuwe Testamentiese kerk.  Ook hier verwys Paulus na die ver­bondenheid met Christus, die “in Christus” wees van almal.  Omdat Jode en nie-Jode, elkeen deur die geloof verbonde is met Christus, is hulle dus ook verbonde aan mekaar.  Die vroeëre grense wat daar tussen Jode en Grieke, tussen slawe en vrymanne, tussen man en vrou geheers het, is nou van minder belang.  Daarmee wil Paulus geensins die grense ophef nie, dit kan nie, maar hy wil dit relativeer (ook Paulus se skerp reaksie teenoor Petrus in Gal 2:11-21).

Versoening soos in Kolosse, gaan ook oor die eis van eenheid teenoor dié van verskeidenheid.  Hier word die eenheid gegrond in die versoening wat bewerk is tussen God en mens en die uitwerking daarvan op die vlak tussen mens en mens. 

Ek is van mening dat die kerk ‘n geloofwaardigheidskrisis beleef, as gevolg van die feit dat die kerk aan die een kant die geestelike eenheid erken en nastreef, maar aan die ander kant die kerk organiseer ten opsigte van die verskeidenheid as skeppingsgegewene, en dan spesifiek gebasseer op kleur.  As die kerk die vergadering is van die versoende gemeenskap en die wêreld moet oproep tot versoening met God en met mekaar, en hy getuig nie van hierdie versoening nie, sal die wêreld nie kan weet en kan glo dat die versoening wat Christus bewerk het, ook vir hom bedoel is nie. 

Art 3 – Versoening

Ons glo dat God aan sy kerk die boodskap van versoening…waarin die gedwonge skeiding van mense op rassegrondslag onderlinge vervreemding, haat en vyandskap bevorder en bestendig; dat enige leer wat sodanige gedwonge skeiding vanuit die evangelie wil legitimeer en dit nie wil waag op die pad van gehoorsaamheid en versoening nie, maar uit vooroordeel, vrees, selfsug en ongeloof die versoenende krag van die evangelie byvoorbaat verloën, ideologie en dwaalleer is.  Daarom verwerp ons enige leer wat in die naam van die evangelie of die wil van God die gedwonge skeiding van mense op grond van ras en kleur in so ’n situasie sanksioneer en daardeur die bediening en belewing van die versoening in Christus by voorbaat belemmer en van krag beroof.

Art 3 handel spesifiek oor versoening en die verwerping van enige leer wat gedwonge skeiding (apartheid) sou regverdig.  Die ironie was dat, op die veelesproke sinode waar Prof EP Groenewald se ekesege van Gal “gewen” het (wat algemeen voorgehou word as die regverdiging van apartheid), daar reeds stemme uit die sinode daarteen was, soos Proff Marais & Keet.  ‘n Ander stukkie ironie is, Prof EP Groenewald se verslag was eers afgekeur, en is eers op ‘n voglende dag sitting weer behandel en toe goedgekeur.  Wat het nie alles daardie aand in die “gange” plaas gevind nie.  En kyk net watter ongelooflike skade dit die kerk berokken het!

Die belangrikste ontwikkeling van die Bybels regverdiging van apartheid het gekom, m.i. met die “Volkskongres oor die Rassebeleid van die Afrikaner” in 1944.  Hier is die beginsels uiteengesit, afgelei uit grepe uit die Bybel, dat God aan die Afrikaner in die kultuurgebod uitdruk­lik die opdrag gegee het om die eie nasie te bou en te bewaar (nasionalisme).  Daar is verwys na die Babelse gebeure waar God skeiding maak tussen menslike pogings van eenheid en samewerking (Kuyperiaans).  Hier (Babel) het die mens in verset gekom teen God se kultuurgebod (Gen 1:28), want in wese beteken dat God se opdrag om die aarde te bewoon, te bewerk en te vermeerder, ook beteken dat daar aparte rasse sal ontstaan en dat dit so móét wees.  By die Babels gebeure het God die mens verhoed om dié gebod op te hef, en het God hulle weer geskei.  Die Bybelse regverdiging is sterk gebou op die Kuyperiaanse model van verskeidenheid en die belangrikheid van die bewaring en uitbouing van die “eie” volk. 

Dit was veral Prof E P Groenewald wat sterk leiding geneem het en die verslag “Die apartheid van die nasies en hul roeping teenoor mekaar” opgestel het.   Aan die einde van die verlsag verklaar Prof Groenewald dat die beleid van apartheid ten opsigte van die nie-blanke teruggevoer kan word tot in die Bybel.  “‘n Beleid van apartheid wat selfs tot die konsekwensie van territoriale segregasie deurgevoer word, sal nie in stryd wees met die grondbeginsels soos hulle in die Bybel voorkom nie.”(Groenewald in Cronje p 65)

Hierdie prinsipiële begronding van apartheid is nié sonder teenstemme en kritiek aanvaar nie.  Vir Prof B J Marais was apartheid bloot ‘n praktiese beleid met geen Bybelse grondslag nie en hy het dus beswaar gemaak teen Prof Groenewald se verslag.  Aanvanklik is Prof Marais se voorstel dat slegs kennis geneem moet word van dié verslag, aangeneem.  Prof Groenewald was egter ernstig ongelukkig dat sy eksegese onder verdenking geplaas is met die gevolg dat die Sinode op die volgende sitting die beleid van apartheid prinsipiëel tog regverdig, mét opdrag dat die verslag weer verwys moet word sodat die “Skrifgrondslag so suiwer en onaanvegbaar as moontlik gestel moet word.” (Handelinge van die Sinode 1984).

Prof Marais maak ook ten sterkste beswaar teen die gebruik wat met die ontstaan en ontwikkeling van die Afrikaner-nasionalisme begin het, naamlik om die Afrikaner gelyk te stel met die volk Israel.  Tussen Israel as uitverkore volk van God en die Afrikanervolk is daar ‘n radikale verskil.  Israel is as volk verkies om as ‘n godsdienstige volk tot ‘n getuienis van God vír die omringende nasies te wees; en dit voor Christus.  Hulle is nié verkies ter wille van hulself, hul eie voortbestaan of behoud nie, maar ter wille van die verheerliking van God.  EN natuurlik het Christus se koms ‘n prinsipieele verskil kom maak tussen “Israel as volk van God” en die nuwe volk van God wat alle gelowiges insluit.

Prof Keet se beswaar was teen die gebruik om na die Skrif te gaan om bestaande praktyk te bevestig en prinsipieël te begrond, met ander woorde dat ‘n verkeerde hermeneutiek gebruik is.   

Art 4 –  Onreg

Ons glo … dat Hy in ’n wêreld vol onreg en vyandskap op ’n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die veronregte is en dat Hy sy kerk roep om Hom hierin na te volg; … dat die kerk daarom mense in enige vorm van lyding en nood moet bystaan, wat onder andere ook inhou dat die kerk sal getuig en stry teen enige vorm van ongeregtigheid … dat die kerk as eiendom van God moet staan waar Hy staan, naamlik teen die ongeregtigheid en by die veronregtes; … Daarom verwerp ons enige ideologie wat vorme van veronregting legitimeer en enige leer wat nie bereid is om vanuit die evangelie so ’n ideologie te weerstaan nie.

Ek vermoed dat die probleem wat sommige met dié belydenis het lê by artikel 4 waar daar bely word dat “God Homself openbaar het as die Een wat geregtigheid en ware vrede onder mense wil bring; dat Hy in ‘n wêreld vol onreg en vyandskap op ‘n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die verontregte is en dat Hy sy kerk roep om Hom hierin na te volg;….”   Dat God wél op ‘n besondere wyse die God van die arme, verontregte en verdrukte is kan, in die lig van die evangelies en veral die evangelie van Lukas, nié ontken word nie.   Daarmee word egter nié gesê dat God alléén die God van die arme, die onderdrukte en die verontregte is nie, maar wel op ‘n besondere manier.

Al die evangelies is gerig aan gemeenskappe wat op een of ander manier in ‘n toestand van magteloosheid was, dié wat geen sê en geen regte het in die Joodse of heidense gemeenskappe gehad het nie; die armes, verdruktes, vroue, weduwees en kinders.  In antwoord hierop word geargumenteer dat dit gegaan het oor geestelike armoede en geestelike stemloses.  Dit mag wel die intensie van Jesus gewees het, maar dit beteken nog nie dat Jesus níks te sê gehad het vir die konkrete situasie waarin die armes en die weduwees, die vrouens en kinders geleef het nie.  Jesus se verkondiging het ook verligting gebring vir die konkrete posisie van die stemloses.  Verhey (1984)  gaan selfs só vêr as om te sê dat niemand Jesus as Messias kan aanvaar en nié ongeraak teenoor die onderdrukte en die arme kan bly voortbestaan nie (1 Joh 3:18).  Wanneer dus bely word dat God op ‘n besondere wyse aan die kant van die arme staan, wil dit nié sê dat God ongekwalifiseerd die kant kies van die armes, die weduwees en die verontregtes nie.  Nie hulle armoede, hulle stemloosheid of hulle onderdrukte posisie maak hulle geseënd of bevoorreg nie, maar Jesus se genade en solidariteit met hulle.  Dit geld egter dieselfde ten opsigte van die ryke, die stemhebbendes en die verdrukker.  God staan, teenoor hulle, ook nie outomaties aan óf teen hulle kant nie, want ook hulle is geestelik arm en het nodig om Jesus se verlossingswerk persoonlik toe te eien. 

Die belydenis van Belhar het nié die bedoeling gehad het om die ryk, stemhebbende, nie-onderdrukte deel van die samelewing die besondere sorg en liefde van God te ontsê, of die verontregte wou verheerlik nie.  Immers, God laat reën oor goeies én slegtes.  Wat die belydenis van Belhar wou aanspreek is dat die kerk in Suid-Afrika vandag ‘n profetiese roeping het om óók die onreg en ongeregtigheid aan te spreek, veral pre 1990 waar daar inderdaad onreg en verdrukking plaas gevind het wat gebasseer was op kleur.

.

Slot

‘n Beswaar wat teen die belydenis van Belhar ingebring is handel nie soseer oor die inhoud nie, maar oor die noodsaaklikheid daarvan.  Daar word gemeen dat die situasie en strewe tot kerkeenheid alreeds ‘n uiters gespanne situasie is, veral ook in die lig van die skeuring wat die NG Kerk in 1986 beleef het.  

Vir die NGSK was die dryfveer vir die vooraf-afgekondigde status confessionis die situasie waarin die kerk hom in Suid-Afrika bevind het.  Vir die NGSK het daar ‘n “oomblik van waarheid”  aangebreek, ‘n oomblik in die geskiedenis van die kerk waar die evangelie op die spel is.  Vir die NGSK was dit inderdaad nie sommer maar net ‘n belydenis wat afgekondig word nie, maar ‘n poging om ‘n kettery en ‘n dwaalleer te ontmasker, naamlik die teologiese regverdiging van apartheid.  Die belydenis van Belhar is nie uitgeroep teenoor ‘n spesifieke kerk nie, maar teen elke kerk of gelowige wat ‘n beleid, wat die fundamentele onversoenbaarheid van mense teologies regverdig, aanhang.  Ek dink dit het vir die NGSK gegaan oor ‘n dwaalleer, ‘n kettery wat nie deur die staat aan die kerk opgedwing is nie, maar wat uit die kérk gegroei het.

Soos ek reeds gesê het, dink ek ons het die kairos oomblik verbygesteek – dis 25 jaar later.  Maar ten spyte daarvan dink ek dat ons hoe gouer hoe beter, die belydenis moet aanvaar as deel van die belydenisgrondslag van die NG Kerk.  Dis nie onBybels nie; dis relevant en dit bind ons tesame met ons mede broers en susters in die geloof in een liggaam!

Verwysings:

  1. Brief oor belydenisskrifte – blog
  2. Quia vs Quatenus standpunt t.o.v. belydenisgrondslag – blog
  3. Oor Belhar – blog
  4. B.Th skripsie oor eenheid – blog
  5. Webwerf wat handel oor Belhar Belydenis
  6. Kinghorn, J (1986). Die NG Kerk en apartheid
  7. De Gruchy, JW (1986). The church struggle in South Africa
  8. Groenewald, EP in Cronje, G (1947). Regverdige Rasse-apartheid.
  9. Smit, D.J. (2011) ‘n Blik op eenheid, versoening en geregtigheid
  10. B.Th Skripsie 1986 – groot dele aangehaal.
  11. Kort Opsomming van Ds Chris Erasmus

***

One response to “die belhar belydenis

  1. Pingback: Belhar onbybels? Ds se argument dra nie water nie…. | ekke dink

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s