Eenheid in die NG Kerk Familie

Ek het my B.Th. skripsie in 1988 geskryf oor die eenheid en verskeidenheid van die NGK met spesifieke verwysing na die NGK Familie.  Nou met die aanvaarding van die Belydenis van Belhar deur die laaste Alg Sinode van die NG Kerk was dit interessant wat ek daardie tyd gesê het – so voortvarend soos net ‘n jong ds kan wees; dog baie is steeds relevant.  

Ek het intussen ‘n meer breedvoerige blog oor Belhar geskryf en gaan dus hierdie artikel wysig.  As jy meer daaroor wil lees, volg hierdie skakel

Titel:  Eenheid en verskeidienheid met spesifieke verwysing na die NG Kerk Familie

Inleiding

Die kerk is die voorlopige daarstelling van die heili­ging van die ganse mensheid en van die roeping van die ganse skepping.“[1]

Die kerk is die vergestalting van die Koninkryk van God, dié teken van die nuwe aeoon, daarom is dit nodig dat daar voortdurend besin word oor die wese van die kerk.  Die verdeeldheid en verskeurdheid wat daar in die kerk van die Here Jesus Christus heers, meer spesifiek in die Nederduitse Gereformeerde Kerkfamilie (NG Kerk), maak dat daar byna ‘n huiwering is om oor die wese van die kerk te wil besin.  Dit mag nie!

In die Woord van God word daar na die kerk verwys, met gebruikmaking van verskillende beelde, naamlik die vergadering van uitgeroepenes[2] van God, die volk van God, die liggaam van Christus, die bruid van Christus en die tempel van die Heilige Gees.  Die gelowiges, of kerk, is ook die getuies van die gebeure[3] genoem, verwysende na hul taak as getuies van die Christus-gebeure (Luk 24:48).  Ook in die gereformeerde bely­denisskrifte het die vroeë christene die kerk en die vorm­gewing daarvan nie agterweë gelaat nie (art 27-29 NGB).  Vir Calvyn is die kerk die Moeder van die gelowiges, soos God die Vader van die gelowiges is.  “Ik zal eenen aanvang maken met de Kerk, in wier schoot God zijne kinderen wil verzameld hebben, niet slechts om door hare hulp en dienst te worden gevoed zoolang zij nog zuigelingen en kinderen zijn, maar ook om door hare moederlijke zorg te worden geregeerd, totdat zij hunnen vollen wasdom krijgen, en eindelijk geraken tot de volle mate des geloofs.“[4]

Besinning oor die kerk is dus nie, maar ‘n willekeurige saak nie, maar ‘n Godgegewe vereiste omdat dit híér gaan oor die volk van God.  Miskien is die verdeeldheid in die kerk juis die gevolg van te min besinning óór die kerk van Chris­tus.  Onkunde en verwarring dra baie by tot die verskeidenheid van ekklesiologieë, terwyl die duiwel ook alles sal gebruik om die eenheid van gelowiges te verbreek om só sy eie saak te bevorder.  “Het zou de duivel, die ons al zozeer heeft opge­splitst in kerken en groepen en sekten, nog meer in die kaart spelen.  Ik noem hier de duivel, want geen serieuze gelovige zal zeggen dat al die verdeeldheid uit de HEERE is.“[5]

In die Suid-Afrikaanse konteks het die verskeidenheid en eenheid van die kerk in die laaste tyd ‘n belangrike diskussie en debatvoering tot gevolg gehad.  Vir die NG Kerk was daar nie ‘n skrywer wat op hierdie gebied meer invloed uitgeoefen het as juis Adrian Kuyper nie.  As gevolg van die Kuyperiaanse verskeidenheidsgedagte en Kuyper se simpatie met die Suid-Afrikaanse situasie in die sestiger jare het die NG Kerk die beleid van afsonderlikheid van bevolkingsgroepe ondersteun.  Deur die ondersteuning aan hierdie beleid het die NG Kerk gepoog om mee te werk aan die bewaring van die Afrikaner teen ondergang en Britse inmenging.  Die blanke het geglo dat die beleid van afsonderlike ontwikkeling die enigste oplossing vir die probleme van die Afrikaner se situasie is.  Die bedoeling was nooit om onreg te pleeg, of om ‘n sisteem van onreg en onderdrukking te implimenteer of te ondersteun nie.  Apartheid was vir die NG Kerk “a form of liberation in the process of decolonization.  The purpose was not in the least to humili­ate, to opress or to do injustice to anyone.“[6]

Wat aanvanklik net ‘n praktiese reëling in die vroeë geskiedenis van die NG Kerk was, het mettertyd oorgegaan in ‘n debat rondom die teologiese regverdiging van apartheid.  Hierdie debat tussen praktyk en teologiese regverdiging het in die kerk gewoed tot die latere Skriftuurlike begronding daar­voor uitgewerk en aanvaar is.  Selfs na die amptelike aan­vaarding van apartheid as Skriftuurlik, was die NG Kerk nie vry van teenkanting teen hierdie Skriftuurlike regverdiging nie  Hiervan getuig veral die reaksies van leidsliede soos Proff B B Keet, B J Marais en die latere Cottesloe-beraad.  Hierdie beleid en die toepassing daarvan het gelei tot die geweldige verdeeldheid en verwydering wat daar tans binne die NG Kerkfamilie heers, soveel so dat apartheid en die begron­ding daarvan deur sommige as kettery beskou word.[7]

Terwyl die beleid vir die blankes moreel regverdigbaar was, vir hulle die enigste oplossing vir Suid-Afrika se geweldige verskillende rassesamestelling en kulturele ver­skille, het die swarte dit heel anders beleef.  Die toepassing van die beleid het die gevolg gehad dat hulle beroof is van hul menswaardigheid, terwyl die bedoeling was dat hulle juis tot volle ontplooiing van hulself moes kom.  Vir die swarte kón dit nie, omdat die wese van die beleid hom uitgesluit het uit ‘n leefwêreld waar hy geglo het hy deel aan het.  Toe hy ook nog uit die blanke kerk geweer is, was dit vir hom die toppunt van verwerping.  “To summarize: for a black person apartheid was something which placed a ceiling on his development.“[8]

Hierdie Skriftuurlike regverdiging van apartheid en die toepassing van die beleid het grotendeels aanleiding gegee tot die aanvaarding van die belydenis van Belhar deur die NG Sendingkerk in 1986.  Die dokument `Kerk en Samelewing‘ (KS) van die NG Kerk, wat in dieselfde jaar aanvaar is, is vir die kerk die begin van die ontkenning van die Skriftuurlike regverdiging van apartheid, trouens, van enige politieke model.[9]  Hierdie beleidstuk het weer die groot stryd rondom die aard en omvang van die verskeidenheid en die eenheid van die kerk aan die gang gesit.

Aan die een kant word vasgehou aan die verskeidenheid van die kerk in sy plaaslike gestalte, as sigbare kerk.  Op grond van die verskeidenheid in die skepping en die gebeure by die toring van Babel waar God eksplisiet die eenheid van die mens­dom verhoed het, word dié verskeidenheid van die kerk gefun­deer.  Die voorstaanders van die verskeidenheidsgedagte in die kerk beskou dus die verskeidenheid as ‘n Godgegewe opdrag wat nagekom moet word en bewaar moet word.  In aansluiting by Kuyper word daar klem gelê op die teologiese grootheid van die volk wat soewerein is, en wat sy eie struktuur, doel en roeping van God ontvang het, maar veral op sy aanname van die verskeidenheid as ‘n selfstandige beginsel.  Vir Kuyper is die strewe na uniformiteit die vloek van die moderne lewe.[10]  Soos die soewereinitiet van die volk, is ook die verskeidenheids­gedagte direk gekoppel aan die skeppingsordening van God.  As gevolg van die sonde kan volkome eenheid nie gevind word nie en is alle aardse eenheid dus ‘n valse eenheid wat eerder nie gesoek moet word nie.  “Maar wat men voorbijzag het is dít: dat de eenheid van ons geslacht alleen aan het begin en het einde van den weg, alleen in haar oorsprong en bestemming mag gezocht worden, en nooit in de ontwikkelingsphasen, die ze op dien weg doorloopt.“[11]

Aan die ander kant is daar diegene wat die eenheid van die kerk voorstaan, wat die verskeidenheid van die kerk tans eerder as ‘n verskeurdheid sien.  Volgens die eksponente van die eenheid van die kerk kan die kerk tog nié net ‘n onsigbare eenheid wees nie.  Die aard van die evangelie eis dat die onsigbare eenheid van alle gelowiges die kerk moet oproep tot gestaltegewing van die sigbare eenheid.  Hoewel diegene deeg­lik bewus is van die sondige gebrokenheid waarin ons leef, word die kerk nogtans opgeroep om te werk aan die eenheid waar dieselfde belydenisskrifte erken en bely word, waar dieselfde gereformeerde kerkreg en ekklesiologie bely word, waar daar nie onoorkombare verskille is wat oorbrug moet word nie.  Die kerk moet juis hierdie onversoenbaarheid tussen mense oorwin, omdat dít is wat God in Jesus Christus met die ganse skepping gedoen het.

Van die kant van die verskeidenheidsgedagte is gemeen dat die eenheid nie ‘n wesenlike saak van die kerk is nie, maar tot die welwese van die kerk behoort.  Juis dít was een van die oorsake van verset binne die NGSK.  Vir hulle het die oomblik van waarheid aangebreek waar die evangelie op dié punt staan of val.  “Die wese van die kerk of die geloofwaardigheid van die evangelie staan op die spel…  Wat in normale om­standighede tot die `welwese’ behoort, raak skielik wesenlik.  Wat in die gewone gang van sake ‘n `nie-fundamentele’ artikel of reëling is, word die brandpunt van die keuse.  ‘n Onskuldige saak word skielik ‘n artikel waarby die kerk staan of val.“[12]  Indien die kerk dus nie meer getrou die versoening bedien en begeer nie, word sy bestaansreg in twyfel getrek.  “Die kerk heeft de verzoening te bedienen: haar plaats in de wereld, haar spreken van verzoening is in geding.“[13]  Tereg vra ook J A Hebly[14] of ‘n verdeeldheid in die kerk van Chris­tus nog noodsaaklik is, meer nog, tot heil (welwese) van die mens en die Evangelie is dat voortgegaan moet word om Skrif­tuurlike begronding daarvoor uit te werk.

Tans beleef nie net die NG Kerkfamilie ‘n verdeeldheid nie, maar ook die NG Kerk.  Na die aanvaarding van die beleid­stuk `Kerk en Samelewing'(KS) het beswaarde lidmate besluit om hulle eie kerk te vorm, en so meegewerk om die verskeidenheid van kerke in Suid-Afrika te vermeerder.  Daar kan ook maar net na die media gekyk word om te sien hoe Protestantse kerke onderling mekaar die stryd aansê oor die wyse van protes en optrede teenoor, onder andere, onreg en verdrukking, ‘n onregverdige regeringsbestel, oor die aard en omvang van die verhouding tot die staat, oor die doop en die gawes van die Heilige Gees, ens.  In die lig hiervan kan die kerk die mens van vandag byna nie verkwalik as hy hom nie meer steur aan die kerk en sy oproep tot liefde en aanvaarding van mekaar as medebroers in Christus nie.  Wat die kerk vra en verkondig moet hy sélf vertoon.  “En omdat die evangelie die boodskap is van God se liefde vir die ganse mens, sal die kerk ook teenoor die wêreld sy woord van liefde met ‘n daad van liefde moet bevestig.[15]  Juis hieroor sal die kerk van Christus in die jare wat kom ernstig aandag moet gee aan die uitvoering van die Evangelie, weer ernstig moet besin oor die eienskappe van die kerk, weer sy eiesoortigheid moet vertoon, nie net in sy boodskap nie, maar ook in sy bestaanwyse!  Daar sal weer ernstig besin moet word of die Gereformeerde belydenis ruimte laat vir só ‘n “legitieme pluriformiteit.”  “Sommige bezien die situatie met een quis non fleret?, Wie zou niet wenen? of spreken van een jammerlijke verdeeldheid.“[16]  Daar sal weer iets van die gebeure in die eerste gemeente in Handelinge in die kerk vandag gesien moet word.  “Die groot getal wat gelowig geword het, was een van hart en siel.  Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel.“(Hand 4:32)

Daar sal dus in hierdie studie eerstens gekyk word na die wese van die kerk, wie en wat die kerk ís: hoe moet die kerk van Jesus Christus lyk om ware kerk te wees, met ander woorde, watter kenmerke en eienskappe moet die kerk vertoon?  Tweedens sal gekyk word na die verskille tussen die voorstaanders van die verskeidenheidsbeginsel van die kerk en die eenheidsbe­ginsel, asook die ontwikkeling van die verskeidenheidsgedagte in die NG Kerk.  Daar sal ook kortliks eksegeties gekyk word na dié Skrifgedeeltes waarop elke rigting hom beroep, waarna ‘n beoordeling sal volg.  Derdens sal daar gekyk word na die noodsaaklikheid van die eenheid van die kerk, en met name dié van die NG Kerkfamilie, juis vanweë sy eenheid in oorsprong, belydenis en kerkregering, ten spyte daarvan dat die NGSK die Belydenis van Belhar as vierde Belydenisskrif aanvaar het.  Hierdie studie sal vervolgens afgesluit word met ‘n kort samevatting.

‘n Kopie in pdf van my skripsie kan hier afgelaai word.

Verwysings


[1] THERON, P F; (1978) Die kerk as kosmies-eskatologiese teken., p 92.

[2] HEYNS, J A; (1977) Die Kerk., p 43.

[3] HEYNS, J A; (1977) op.cit., p 63.

[4] CALVYN, J; Institutie III., p 6.

[5] FRANCKE, J; Varia de Ecclesia., p 6.

[6] LOUBSER, J A; The Apartheid Bible., p xvi.

[7] Sien Belydenis van Belhar, art 2 en 3; sowel as DURAND, J J F;(1984) ‘n Belyde­nis – was dit werklik nodig?; in “‘n Oomblik van Waarheid“, byeengebring deur G D Cloete en D J Smit., p 43vv.

[8] LOUBSER, J A; op.cit., p vxii.

[9] KERK EN SAMELEWING, par 302-309

[10] KUYPER, A; Eenvormigheid; De vloek van de moderne leven.

[11] KUYPER, A; op.cit., p 8

[12] SMIT, D J;(1984) Wat beteken status confessionis?; in “‘n Oomblik van waarheid“, byeengebring deur G D Cloete en D J Smit., p 26.

[13] VAN’T SPIJKER, W; Eenheid in Verscheidenheid., p 51.

[14] HEBLY, J A; Eenheid en verscheidenheid., p 9.

[15] HEYNS, J A;(1977) op.cit., p 105.

[16] VAN’T SPIJKER, W;(1974) op.cit., p 7.


 

One response to “Eenheid in die NG Kerk Familie

  1. Pingback: die belhar belydenis « ekke dink

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s