God se wil?

Seker een van die moeilikste dinge van Christen-wees is om God se wil te vind, te verstaan, te ken.  En in ‘n sekere sin is dit eintlik ook nie so moeilik nie.  Soos ek dit vanoggend verstaan…..(en dis beslis nie die finale woord hieroor nie; oor God sal ons nooit klaar gedink en gepraat kan raak nie)!

Om God se wil te ken het ‘n “maklike” en ‘n “moeilike” kant.  Die maklike kant is in Sy Woord, in dit wat ons wéét!  Wat is God se wil oor…

  • … oor my vyande?  Ons moet hulle liefhê
  • … begeer?  Moenie, veral nie as dit jou lewe so kan oorneem dat jy selfs moord oorweeg nie (Jak 4:1-7)
  • …. egskeiding?  God haat egskeiding (Mal 2:16).  Dis geweld teen die kinders.
  • …. oor versorging van armes, weduwees, kinders ens… 
  • …. oor owerspel, eerlikheid, diefstal, bedrog, afgodery, kwaad praat en skinder, dronkenskap en gierigheid

Met ander woorde, daar is sekere dinge wat duidelik is, waaroor daar duidelike uitsprake in God se woord is.  Ons hoef nie vreeslik te worstel om oor hierdie dinge God se wil te soek nie.  Sy Woord en Sy Gees en Sy wil staan nooit teenoor mekaar nie, want dan sou God eenvoudig nie betroubaar wees nie.  Hy kan nie x verbied in Sy Woord, maar Sy Gees oortuig my om x te doen nie.  Nee, my sondige natuur dring my eerder om nie te luister na Sy Woord en Sy Gees in my nie; maar dit kan beslis nie in stryd met mekaar wees nie.  En so baie het ek dit al gevind; in my eie lewe en in ander wat soms om raad vra:  ” ek is oortuig om x te doen; die Gees het my oortuig…”, maar dan is daardie x iets waaroor daar ‘n duidelike standpunt in die Bybel is.  My antwoord is gewoonlik: “gaan bid en vra weer, want Sy Woord en Gees kan nie in stryd met mekaar wees nie“. 

Net ‘n woord ter troos…. as jy wel teen God se wil in oortree het, is dit gewoon ‘n sonde!; nie die onvergeeflike sonde nie.  Natuurlik vergewe God; weer-en-weer!  Dis sy oorvloedige genade en barmhartigheid wat maak dat Hy ons steeds terug ontvang in Sy arms!  Ons moet weg kom van die konsep dat God ‘n straffende God is; hy is eerder my liefdevolle Vader.  Al waar God ‘n straffende God is, is wanneer Hy eendag Sy toorn oor dié sal stort wat tot die einde toe volhard het om Hom te verwerp.  Maar juis uit Sy liefde en genade, stel Hy die wederkoms uit…. (2 Pet 3:9 – Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer. Die Bybel  : Nuwe Vertaling. 1998, c1983 (electronic ed.).  Sien ook hierdie blogs oor God se genade (Genade, God, Genade, vryheid en genade)

Dan is daar ‘n 2de kategorie; wat is God se wil oor dié dinge waaroor daar nié duidelike riglyne in Sy Woord is nie?  Byv, wat is God se wil oor …

  • drank gebruik (nie misbruik nie, daar is duidelike antwoorde)
  • rook
  • of hierdie meisie/ou die een vir my is vir die res van my lewe
  • my beroepskeuse, ens.

In hierdie gevalle, glo ek, moet ons afleidings maak uit die hele Woord en binne konteks.  Daarom is dit so belangrik om te wéét wat God sê; wat is Sy wil vir die mens?  Wat is die goue draad van die Bybel; want die regte begrip en verstaan van, selfs dogmatiese/filosofiese begrippe, is deel van hierdie antwoord.  Byv., om te verstaan en te weet dat God die mens geskep het volgens Sy beeld, as Sy verteenwoordiger, het implikasies vir selfs die kleinste besluite wat ek eendag wil of moet neem.  Om te weet dat Jesus 2 nature gehad het (dogmatiek), dat dit tegelykertyd so was (nie soms God en soms mens) nie, het implikasies vir besluite wat ek moet neem….want dit bepaal die “groot prentjie”, die goue draad van my begrip van die Bybel (dis hoekom ek steeds ‘n voorstaander is van Grieks, Hebreeus en Dogmatiek omdat dit fondamente is wat uiteindelik my Godsbegrip, my verstaan van die wêreld en God se werkinge in die wêreld en met my, beinvloed).  Om te verstaan dat God nie ‘n deterministiese  God is nie (filosofies/dogmaties), dat Hy inderdaad daagliks, dinamies, aktief skeppend en Herskeppend by Sy skepping betrokke is (en natuurlik ek en my lewe ook, ek is mos deel van Sy skepping), gaan bepaal of ek glo in toeval en geluk.  OK, ek dink dis duidelik….

So, hoe bepaal ek dan God se wil in hierdie sake?  Ek probeer afleidings maak van dit wat duidelik is.  Soos byv. rook?  Wat ons weet is dat…

  • my liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees is wat ek nie moet beskadig nie
  • enige substans die vermoë het om my te verslaaf, en iets waaraan ek verslaaf geraak het, beroof letterlik my vryheid en selfbeheersing (moet aan niks verslaaf wees nie)
  • die vrug van die Heilige Gees is o.a. ook selfbeheersing; beheersing van drange wat my my vermoë om te kan kies, weg neem, ens.

Dus, elkeeen moet dan, uit Bybelse gegewens ‘n afleiding maak.  En as dit ‘n verkeerde afleiding is; relax.  Ons weet nooit alles oor alles nie.  Ons mag besluite neem op grond van die insig wat ons op daardie dag en datum het; wat later (met hindsight) verkeerd bewys kan word.  Dis fine, want dis hoe ek in die kairos oomblik verstaan en geglo het.  Tweedens, al sou dit verkeerd wees, geld dieselfde troos soos hierbo….God vergewe (en verstaan ons onvolledige antwoorde en kennis) weer-en-weer!  En natuurlik; dis ook waarom ons nie eintlik vir ander kan veroordeel oor die keuse wat hulle geneem het nie, want dit was ‘n keuse wat hy/sy geneem het terwyl hy/sy voor God en met God daaroor geworstel het.  En al het hy/sy nie met God daaroor geworstel nie, ons weet dit nie en het geen reg om ‘n oordeel te fel oor wie waar in hulle verhouding-met-God-op-weg is nie.

Ander hulpmiddels wat ek nog altyd handig gevind het om God se wil te probeer bepaal in die “moeilike” gevalle is:

  • buiten die Woord, vrede wat “alle verstand te bowe gaan” as ons die regte besluit geneem het
  • gemeenskap van gelowiges.  God praat met ons deur ander (collective intelligence).  En as al die ander nie saam stem nie, moet ek dalk weer gaan bid en vra, want die Gees is nie verdeeld nie
  • Logika.  Ek het mos ‘n verstand gekry en kan ‘n ding uitredeneer.  Jou besluit moet sin maak vir jou.
  • tekens. Ja, God praat (en kan) met ons praat deur tekens; en ek glo ons mag ook vir tekens vra, solank ons altyd die riglyne (soos bo) volg,  Dieselfde reël geld: God sal nie ‘n teken gee om te mag steel nie…..

Nog ‘n troos-woord: wat as dit die verkeerde besluit was?  Niks!  Dis fine!  Vra om verskoning en stap aan!  Selfs in ons verkeerde besluite, selfs in en deur ons sonde heen, vergewe God en laat Hy nogtans alles ten goede meewerk (Rom 8:39).  As ek moes trou, is dit nie die einde van my en my kleintjie se wêreld nie – ons is nie altwee gedoem tot ‘n mislukte, verwerpte, ongelukkige lewe, bestem vir die hel nie (kom weg van God as straffende God).  Nee, God vergewe en herstel LEWE, joune en die kindjie s’n en almal wat daardeur geraak is, en kan dit ten goede laat meewerk tot Sy eer en verheerliking.

God wil ons seën.  God het ons geluk en vreugde op die hart!  God wil ons lei in al ons besluite.  God het, dink ek, groter behae in ons afhanklikheid van God, as dat ons noodwendig altyd die regte besluit neem!

One response to “God se wil?

  1. Pingback: The will of God « ekke dink

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s