oor die “lewe”

In aansluiting by ‘n vorige blog oor ons konsep oor God, of Vader-begrip…  Hierdie is ‘n verdere aflewering van my notas op die boekie wat ek tans lees; om uit Genade te leef deur Malan Nel.

In die vorige blog was dit duidelik hoe belangrik die regte begrip van wie God regtig is en wat Hy vir ons gedoen het, is, want dit bepaal die kwaliteit van ons lewe. 

God is die gewer van lewe.  Nadat die mens selfvernietigend die “lewe” uit homself en ander haal, kom God en gee dit weer terug aan ons – deur Sy Seun.  Om uit genade te leef is dus om daardie “lewe” terug te kry; in die verhouding met Hom kry ons weer nuwe lewe; in die teenwoordigheid van die Heilige Gees LEWE ons weer.

Maar die lewe word soms vernietig deur ons sonde.  Die regte Godsbegrip leer ons weer genade ken!  Deur die genade, kan sonde nooit weer ongedaan maak wat God in Christus vir ons gegee het nie – nuwe lewe!    En juis daarom maak ons erns met sonde, want ons verstaan wat het gebeur by die kruis.  Juis oor die verhouding wat ons het met God die Vader, beteken dit dat ons, wanneer ons wel met die pyn van ons sonde loop, na Hom toe gaan daarmee.  Soms voel dit asof jy juis nie na die Vader wil gaan met jou sonde nie, want jy’s skaam daaroor, jy’t seer daaroor.  Maar waarheen wil ons anders gaan as na Hom – dis immers teen Hom wat ons gesondig het en alleen by Hom waar ons genesing en troos kry!

Malan Nel skryf oor ons worsteling met God se wil die volgende:  Ons moet met God en Sy Woord worstel om wel Sy wil te probeer bepaal in elke situasie.  Dit bly ons geloofs-verantwoordelikheid maar intussen, hoef dit nie die “lewe” uit ons te haal nie.  Worsteling is deel van hierdie lewe.  Intussen, terwyl ons worstel om antwoorde,  kan ons solank die liefde uit leef, want dit weet ons, is beslis Sy wil. 

Oor die oudste sonde: “dis nie ek nie, dis hy/sy”.  Almal doen dit; Adam het dit gedoen, Eva het dit gedoen.  Hoe gouer ons verantwoordelikheid aanvaar vir ons sonde, hoe gouer “leef” ons weer in ‘n herstelde verhouding met ons Vader.  Eers wanneer ons ophou om iets of iemand anders te blameer, is ons regtig vry om weer uit genade te leef.  “So lank as wat ek verskoning soek vir my skuld of aandeel aan die skuld, het ek mos nie vergifnis nodig nie”.  Dit is dus vir vergifnis belangrik om verantwoordelikheid te aanvaar! 

Soms beskuldig ons God vir die onheil in ons eie lewe.  Dis die mens wat sonde doen, nie God nie.  Die mens maak ongelukke, moor, verkrag, neem verkeerde besluite, nie God nie.  Ons troos is juis by God ons Vader….as ons Hom in ons seer nog beskuldig ook, waarheen wil ons met ons seer gaan?  Waarheen is ons toevlug?

In ons worstelings om antwoorde vir die onverklaarbare in die lewe, is God natuurlik nie verplig om ons te antwoord nie.  God skuld ons geen verduideliking nie – Hy is die soewereine God, maar, en dis crucial, solank ons besef dat God ons heil op die hart het, ons voorspoed nie teëspoed nie, is die seer draaglik!   Ons troos lê by God, nie in die antwoord of verklaring nie.  Ons troos lê in God se teenwoordigheid as Vader in en by ons!  Hy gee gewoonlik die krag en genade om deur die worsteling te gaan wanneer dit nodig is; nie vroeër of later nie – betyds! 

God “is by my. Al verstaan ek niks, al voel ek soms niks, selfs al beleef ek opstand en verwarring – God is by my” (Malan Nel, 126).  Dis belangrik om dit te GLO en te BELY!

Laastens oor die ewige lewe:  ek is so bly Malan Nel bevestig wat ek nog deurentyd geglo het…. hoekom leef ons (en dreig ons) mense met die ewige lewe.  Jy moet tot bekering kom anders gaan jy nie die ewige lewe beërwe nie.  So asof ons in hierdie lewe net “asem haal”, survive, om eendag hemel toe te kan gaan!  Wat dan van HIERDIE lewe?  “Ons hoef nie te wag om te sterf” voordat ons kan lewe nie!  God het ons AARDSE lewe kom herstel, nie die hiernamaals (of dan nie net) nie.  Die lewe wat ons geskenk is, is die lewe HIER en NOU, op aarde!  “Jesus het nie gekom om ons te leer hoe om dood te gaan nie, maar hoe om te leef” (Malan Nel, 128)!  Ons leef nie totdat die ewige lewe aanbreek nie….ons leef omdat die ewige lewe aanbreek!  Dis ‘n ander perspektief op hierdie lewe!

So, ons Vader het ons die lewe gegee!  Die lewe is deur sonde (deur ons eie toedoen) vernietig en word daagliks vernietig.  Maar dieselfde Vader het die LEWE herstel deur Jesus Christus en het weer nuwe lewe in ons kom blaas!  Hy begeer ons heil, ons geluk, ons seëninge (nie voorspoed-teologie nie).  Soms gaan ons dit nie beleef nie, soms gaan ons worstel met God oor die seer en vernietiging in en rondom ons.  Maar dis juis hoekom ons Godsbegrip reg moet wees; want dis dan wanneer ons vlug in die arms van ons hemelse Vader!  Troos is by Hom, in ons verhouding met Hom, nie in antwoorde of “a pie in the sky”nie; ook nie in ander-blameer nie.  En solank ons worstel, hou ons vas aan Hom, aan die enigste Vader wat ons lewe gegee het, en dit in volheid!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s