selfverwyt en self-vergifnis

Ek lees tans Malan Nel se boekie, Om uit Genade te Leef – wat ‘n heerlike troos en seën is dit nie nou vir my nie want sien……..ek (ons?)  sukkel mos maar eintlik om onsself te vergewe!  Eintlik sukkel ons ook dikwels om ander te vergewe!  Ek het al gewonder hoe die twee met mekaar verband hou…..?

aanklag

Aanklag!

Malan skryf ‘n waar ding in sy boek, dat om ander te vergeef dikwels saam hang met die mate waartoe ons genade verstaan.  Hoe meer ons nog ‘n stuk werkgeregtigheid aanhang, hoe minder sal ons ander vergewe.  Of anders gestel, hoe minder ons genade besef, hoe minder sal ons genadig teenoor ander wees wat teenoor ons oortree het.  Daar’s natuurlik die bekende gedeelte in Mat 18:21-35 wat bedoel is om ons gereeld te herinner aan ons eie skuld…..sodat ons meer genade teenoor ander kan hê.

Die volgende gevolgtrekking is dat ons soms al wel by die punt gekom het dat ons al tot ‘n redelike mate genade verstaan, en daarom ook al ander kan vergewe, maar……dit nog nie so lekker regkry om onsself te vergewe nie.  Malan Nel sê die rede daarvoor is omdat ons dink dat, om onsself te verwyt in ‘n mate ons straf verteenwoordig; so asof ons dink dat ons “swaarkry” ons straf is en ons moet dit nou maar dra!  Ons verdien dit.  Ons wil dus deur ons innerlike pyn en onvergewensgesindheid jeens onsself, betaal vir die sonde…. “self die lyding dra”, wat natuurlik belaglik is!  Het Jesus dan nie vir al ons sonde betaal nie?  Of, deurdat ons onsself nog straf / kasty, is dit asof ons dink dat ons darem iets bygedra het tot die verlossing wat ons uit genade ontvang het; so asof “jy jou straf uitgedien het”.    Jy weet….dis ons bydra!  Is dit nie werk-geregtigheid nie?  Kan ons enige bydra lewer tot die volmaakte Lam wat geoffer is?  OK, so dis duidelik!  Behalwe dat dit eenvoudig belaglik is, neem dit die eer weg wat Jesus as die laaste, volmaakte, volkome offer moet kry!

Eff 2:8: “Ons word uit genade gered deur geloof.  Hierdie redding kom nie uit onsself nie, dis ‘n gawe van God.  Dit kom nie deur julle eie verdienste nie sodat niemand enige rede het om oor homself trots te wees nie.  Nee, dit is ‘n gawe van God…”!

Dit bring my by ‘n ander gedagte oor skuldgevoelens (guilt).  Hoeveel van hierdie gesukkel om onsself te vergewe, hou verband met diep teologiese begronding; of sal ons sê verkeerde teologiese begronding? Freud is blykbaar die eerste wat oor “guilt” geskryf het.  Hy’t natuurlik uit ‘n heel ander oogpunt daarna gekyk.  Wat hy daaroor geskryf het, was nie om ‘n antwoord aan die mens te gee hoe om van “guilt” ontslae te raak nie, maar eerder om te bewys dat dit niks met godsdiens uit te waai het nie sodat hy uiteindelik godsdiens en God kan verwerp (wat hy in elk geval gedoen het).  Hy skryf iewers… “I regard myself as one of the most dangerous enemies of religion,”1 en oor God skryf hy … “I stand in no awe whatever of the Almighty2.  Sy hele betoog ontwerp hy rondom die id, ego en superego.  Hierdie is later aangepas deur religieuse skrywers om 3 tipes “guilt” te beskryf:

  1. ideale self (id) wat die gewete verteenwoordig
  2. korrektiewe self (ego) wat die ideaal verteenwoordig.  ‘n Mens meet josuelf aan die “ideaal” wat jy vir jouself gevorm het uit jou opvoeding, religieuse instelling en maak dan die nodige regstellings.  Hierdie verteenwoordig ‘n gesonde “guilt” omdat dit groei verteenwoordig.
  3. punitive” self (superego) wat origens as die destruktiewe “guilt” beskryf word omdat jy jouself meet aan die ideaal, maar in plaas van om te groei, verval ‘n mens in verwerping, skaamte en selfs masochisme.

Hoekom hierdie relaas oor “guilt“.  Want, as ons “guilt” reg verstaan en hanteer, kan dit groei teweeg bring en kan ons destruktiewe self-vernietiging verhoed!  Bring hierdie “guilt” konsepte nou in verband met God se versoenende verlossing in Christus dan beteken dit dat sommige mense wat destruktiewe skuldgevoelens (guilt) huisves, konsentreer só op die straf en oordeel van God, dat dit uiteindelik hulle stroop van enige vreugde in hulle verhouding met God.  Alle motivering is vanuit die straf en oordeel van God, en ons weet dit is geen vreugde nie.  Waar daar liefde is, is daar geen vrees nie….

In teenstelling daarmee verteenwoordig ‘n gesonde “guilt” ‘n liefde-georiënteerde verhouding waarin die persoon besef dat sy skuld hom dryf in die arms van God en nadat die vergifnis ontvang is, is daar geen “guilt” / skuldgevoelens meer nie. God se genade was/is genoeg.  In Christus het God alle sonde, verlede, hede en toekoms skoon gewas en dink Hy nie eens meer daaroor nie (Hebr 7, Rom 1-6)!

Nog iets:  Ek het iewers gelees (Jung, 1933) dat die RKK lidmate baie minder sukkel met skuldgevoelens en selfverwyt en die rede wat daarvoor aangegee is, was oor die bieg stelsel.  Die aanname was dat omdat hulle hulle sonde hardop en fisies voor “iemand” bely, wie hulle dan ook vergewe en vryspreek, hulle makliker “daaroor kom” as ons protestante!  Ons is so skaam oor ons sonde dat ons dit vir niks en niemand wil vertel nie….en intussen loop ons met die pyn en selfverwyt en sukkel ons uiteindelik om onsself te vergewe!  Interressant dat 1 Petr nogal die gelowiges ook aangemoedig het om hulle sondes teenoor mekaar te bely!  Was dit dalk oor dié rede?

So!  Wat is ons troos?  Heidelbergse Kategisme 1 sê tereg ons enigste troos is dat ons aan Jesus Christus behoort…. As ons hierdie stelling mooi deurdink, bied dit ongelooflike troos, juis te midde van ons diepste teleurstellings in onsself, ons grootste “val” want….. ons troos lê by God ons Vader wat ons reeds vrygespreek het.  Piper5 stel dit so mooi (vry vertaal):

Die grootste tragedie is nie die oortreding nie.  Die grootste tragedie is die manier hoe die duiwel skuldgevoelens (guilt) misbruik om ons weg te dryf van Christus en Sy genade!  Moenie toelaat dat die duiwel skuldgevoelens misbruik om van jou lewe ‘n vreugdelose gemors, lewe in vodde te maak nie.  Ruk daardie wapen uit die duiwel se hande!  Ons verlossing is in Christus vas en seker!

‘n Gesonde “guilt” dryf ons na Christus en help ons om te groei.  Ongesonde “guilt” bring nooit vryheid en vreugde nie en verwag straf, roof ons van ons vreugde en van ‘n gesonde Vader-beeld van God.

***********

Verwysings:

  1. Ernest Jones, The Life and Works of Sigmund Freud (New York: Basic Books); vol. 1, 1953: The Formative Years and the Great Discoveries, 1856–1953; vol. 2, 1955: Years of Maturity, 1901–1919; vol. 3, 1957: The Last Phase, 1919–1939.
  2. Letters of Sigmund Freud, selected and edited by Ernst L. Freud, trans. Tania and James Stern (New York: Basic Books, 1960), 307.
  3. Mayhall, C.W. (2008). Civilization and its “Malcontent”: Sigmund Freud and the problem of guilt.  Christian Research Journal, 31, 1.
  4. Jung, C.G., 1933. Modern man in search of a soul.
  5. Mayhall, C.W., 2008. Civilization and its “Malcontent”: Sigmeund Freud and the problem of guilt. Christian Research Journa;, 31(1).
  6. Stenig hom!
  7. Genade op Genade
  8. Genade en die Gans Andere God
  9. Stenig hom!
  10. Image from http://www.facebook.com/CellularMemoryRelease/notes

One response to “selfverwyt en self-vergifnis

  1. Pingback: stenig hom, stenig hom! « ekke dink

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s