Volkstaat of Suid-Afrika

Ek lees ‘n artikel van Pieter du Toit in die Beeld van 12 Jan 2010 en, wel… I couldn’t have said it better.

So, meer as die helfte van Beeld se lesers wil in ’n volkstaat gaan bly?

Dít volgens ’n meningspeiling wat vandeesweek op die koerant se webtuiste gedoen is.

Daarvolgens is 56% van Beeld-lesers (6 178 mense) wat aan die peiling deelgeneem het bereid om dit te doen. Net meer as ’n kwart (27%, of 2 933 lesers) sal dit nie doen nie, terwyl die res (17% of 1 908 lesers) dit sal oorweeg.

Dis verstommend dat hedendaagse, moderne Suid-Afrikaners – Afrikaners, dan – dink hulle kan van die land se legio probleme ontsnap deur in ’n geslote gemeenskap te gaan wegkruip en ’n geslote bestaan te voer.

Die peiling getuig waarskynlik (hopelik) eerder van die gatvolheidsfaktor onder wit Afrikaanssprekendes as ’n ware behoefte om só ’n skuif te maak.

Die idee van ’n volkstaat is doodgebore en diegene wat hulle daarvoor beywer, het weinig meer as water getrap sedert die grondwetlike onderhandelinge amper twee dekades gelede.

Orania, wat veronderstel was om die weg na só ’n volkstaat te baan, is ná meer as 16 jaar steeds niks meer as ’n bestaansgemeenskap nie met ’n bejaarde bevolking wat sukkel om jong bloed te lok.

Daar’s ’n paar knap mense wat daar woon en enkele skerp innovasies wat nogal interresant is, maar dis al. Die plek is gehawend, muf van ou idees en beslis nie deel van die toekoms nie.

Die VF+, wat hom beywer vir ’n volkstaat wat van Orania tot aan die Weskus strek (volgens die party se webtuiste), sukkel om die soort steun te lok wat ’n wit bantoestan enigsins op die kaart sal plaas.

Boonop dien sy leier, om welke rede ook al, in die regering onder ’n ANC-president .

Dus is die praktiese eksperiment van ’n volkstaat (Orania) en die enigste eksponent daarvan in die die land se staatkundige bestel (die VF+) eerder nader aan hul einde as hul begin.

Beeld-lesers wil tog nie rêrig na ’n volkstaat trek nie, want dan moet hulle tot siens sê vir Loftus, Menlyn en hul strooidaklapa’s langs die swembd.

Só ’n meningspeiling laat egter die ongelukkige gedagte by mens opkom dat meer as die helfte van die koerant se lesers terughunker na die dae van gedwonge segregasie, waar wittes vir hulle ’n leuen van ’n lewe geskep en daarin gedy het om mede-Suid-Afrikaners te onderdruk ter wille van hul eie, eng belange.

Niemand gee voor die land staar nié ernstige probleme in die gesig nie. Niemand ontken die land sit met ’n staatshoof oor wie érnstige bedenkinge bestaan nie.

Maar waarom baie wit Afrikaanssprekendes nie eerder kies om deel te wees van die soeke na ’n oplossing of te help om die Grondwet te beskerm nie, is kommerwekkend.

Waarom hou mense aan om vir hul skoolgaande kinders T-hemde aan te trek met die ou landsvlag en die woorde “100% Boeremeisie” op of sal hulle swartes uitkryt vir mense sonder verstand terwyl hulle om die etenstafel bid en dankie sê?

Wittes moet hulself eerder aan die kant van die honger, arm en vertrapte massa skaar wat deur die ANC misbruik, mishandel en weggegooi word.

Dáárin lê die redding, nie in Noord-Kaapse enklaves nie.

Die ANC het die afgelope naweek partytjie gehou: sjampanje, duur kos en koek vir sy leiers was volop. Die party sien nie werklik wat op grondvlak aangaan nie, anders sou hy lankal verander het. Die hongersnood daar buite is onbeskryflik, die gesukkel is kwaai en die raad is op.

Die gevierde Afrikaner-politikus Jan Hendrik Hofmeyr het in die vorige eeu gesê wit Suid-Afrikaners moet begin besef hul voortbestaan is afhanklik van die welwillendheid van die meerderheid van die land se bevolking.

Dit was nog nooit so waar soos nou nie.

– Beeld

Daar is ‘n FB groep rondom die tema.  Wat my opval is dat almal wat daar deelneem (en jy kan aanvaar hulle is ALMAL pro volkstaaters) aanvaar die volgende:

  • dat die ANC regering wit mense “in die see wil jaag
  • dat die ANC regering wit mense vyandig gesind is
  • dat die ANC kommunistiese belange najaag
  • dat die huidige SA presies dieselfde pad gaan loop (noodgedwonge sê hulle vir jou) as die res van Afrika sonder inagneming van baie verskille wat SA het t.o.v. ander Afrika lande en natuurlik ‘n besonderse Grondwet

Ek is nie ‘n determinis wat glo dat SA noodgedwonge dieselfde pad as die res van Afrika stap nie – daar is eenvoudig te veel faktore wat dinge anders maak en wat bepaal dat dinge anders uitspeel… soos ek gesê het, wie dit glo, is deterministe: iemand wat glo dat dinge “met jou” gebeur sonder dat jy ‘n bewustelike keuse en invloed op die gang van geskiedenis uitoefen.

Verder dink ek dat die vyandiggesindheid wat vanaf ons swart broers jeens die wittes is, is te veel kere geregverdig omdat wit mense nog nie die draai gemaak het weg van rassisme, of stel dit dan sagter, weg van ‘n meerderwaardige houding jeens swart mense nie.  Ek hoor elke dag nog mense wat praat van dom mense, mense met plat neuse en al die gebruiklike neerhalende terme waarmee oor swart mense gepraat is.  In my opinie, solank daardie gesindheid in wit mense bly, sal daar vyandiggesindheid wees…. PERIOD.

Verder, as alles genade is (selfs al sou dit dan verstand wees)… wie gee jou die reg om daaroor windgat te wees en ander te minag!

Dis tyd dat ons ons swart broers ten volle aanvaar as mede-broers in hierdie amazing land, en hulle ten volle gelyk en met die nodige respek en menswaardigheid hanteer.  En daarmee saam, ook te aanvaar dat hulle kultuur net so ‘n gelyke plek op die kultuur-front van die wêreld het en mag hê; hoe weird dit ookal vir jou mag wees (daar’s ‘n paar europese lande met ewe weird kulture… ons dink nie hulle is stupid nie).   Gun elkeen sy plekkie in die son.

11 responses to “Volkstaat of Suid-Afrika

  1. Soveel denkfoute, so min tyd!
    Eerstens: Jou stelling van gun elkeen sy plekkie in die son, daarmee stem ek saam!

    Tweedens: Tydens Apartheid was segregasie baie kunsmatig en beperk dit het meer neergekom op rasse oorheersing as rasse segregasie, hel weet jy van een wit woonbuurt wat nie 4 keer soveel swart arbeiders gehad nie. Aan die einde van apartheid was daar net 3 keuses, integrasie, segregasie en emigrasie, dis dit niks meer of minder nie, almal wat ons toestand verstaan het, het geweet al 3 gaan gebeur, almal gaan nie dieselfde keuse uitoefen nie. Dit is uiteindelik ook werklike vryheid vir ons, want wat is vryheid sonder keuses? Maar dit is nonsens dat ons mekaar heeltyd aanval daaroor, ek het so min die reg om Pietie wat met Portia trou te veroordeel as wat jy die reg het om iemand in Orania te veroordeel en so min as wat hulle iemand wat emigreer mag veroordeel.

    Derdens: Volkstaat is n opsie, dit moet ook n opsie wees, die vraag in beeld het gesê sal jy dit “OORWEEG”. Daar is n duisend redes soos oorlog, volksmoord, ineenstorting waaronder dit gedoen moet word, so al word die vraag oor 300 jaar gevra moet die antwoord nog steeds “JA” wees, want dit moet n opsie bly.

    Vierdens: Wat word bedoel met Volkstaat? As jy daarmee bedoel Selfregering, dan is ek volkome daarvoor enige groep moet altyd die reg hê om oor hulself te regeer, dit is vryheid! As jy bedoel staats-stigting, dan gaan dit natuurlik tot konflik lei, maar dis nie wat meeste “Volkstaters” bedoel met volkstaat nie, dis die woord “staat” wat besoedel is. Pieter Du Toit was duidelik baie moedswillig met die artikel.

    Vyfdens: Baie van jou “opinies” is hoogs subjektief en eenvoudiglik vals soos “swartes uitkryt vir mense sonder verstand terwyl hulle om die etenstafel bid” asseblief!! Liefde vir die eie is nie haat vir ander nie, maar jou stuk is deurspek met swak emosionele uitsprake wat op geen feite gebaseer is nie.

    Sesde: n Ras-gebaseerde staatsbeleid is altyd gevaarlik!! Apartheid was ongetwyfeld een, maar net so is Transformasie, SEB en regstellende aksie. Transformasie in SA is van so n aard en so geïnstitusionaliseer dat slegs Arianisation in Nazi-Duitsland daarmee vergelyk kan word. Rassisme moet verstaan word vir wat dit is, dis nie wanneer ek iemand n kaffer noem of nie van iemand hou nie, want jou daaglikse lewe is n versameling van diskriminasies wat jy koop, saam met wie jy slaap, ens.ens. Rassisme is wanneer n STAAT op enige grondslag diskrimineer!! Dit is wat gevaarlik is, dit was immers nie Duitse burgerlikes wat Jode vergas het nie maar die staat dit was nie die Franse etniese groep wat die ender 60 etniese groepe in die 1800’s uitgewis het nie, maar die Staat, dit was nie Berlyners wat die stam lojaliteite van die Duitse Volke uitgewis het nie maar die Staat. So om n klein etniese groepie aan te val as agterlik is duidelik kinderagtig en gegrond in n onkunde in geskiedkundige gebeure.

    Laastens: Orania is alles behalwe n bejaarde gemeenskap, dis nog steeds n klein plekkie, maar genugtig vergelyk kappies met appels, daai plekkie is stadig maar seker besig om n plek te word en van wat ek hoor blom dit mooi. Jou keuses is jou keuses ek gun jou, jou plekkie in die son, en ek is seker elke persoon in Orania gun jou dit ook, maar moenie op mense spoeg en ons almal verklaar dat ons, ons neuse platdruk terwyl ons jou ouma vloek nie, m.a.w. Gun ons, ons ou plekkie in die son ook en hou op om te veralgemeen en te etiketteer want dit is mos ook diskriminasie, nie waar nie!

    Like

  2. Aan die een kant pleit jy vir aanvaarding van ‘n ander opinie, maar aan die ander kant, doen jy dieselfde: jy gun my nie my opinie nie en veroordeel dit as “denkfoute”, subjektiwiteit, vals ens. Weird!

    Natuurlik is my opinie subjektief… objektiwiteit het saam met die modernisme gesneuwel. Post-modernisme sal nie waag om volledige objektiwiteit te eis nie. Objektiwiteit “is in the eye of the beholder”. So ja, ek is subjektief, maar dit is presies my opinie, iets wat jy vra dat ons mekaar moet gun; iets wat blogging so lekker maak. Elkeen kan sy/haar opinie lug en ‘n debat daaroor aan die gang sit. Hopelik ‘n debat wat opbouend is….

    Ek reken jy kan nie oordeel of my opinie “vals” is nie. Nog minder as ek persoonlik ervaring het van dit wat ek daar noem. Ek sou dit nie uit my duim gesuig het nie! Ek reken dus jy kan nie so ‘n waarde oordeel uitspreek deur te sê my stuk “is deurspek met swak emosionele uitsprake wat op geen feite gebaseer is nie”. Emosie – ja, wie wil nie emosioneel wees oor hierdie goed nie. Die hele regse beweing in ons land is emosioneel oor hulle saak, baie emosioneel (sien die youtube uittreksel op my ander blog). Emosie maak nie alles af as loutere snert nie. Maar dat dit op geen feite gebasseer is nie, … sê wie? Jy?

    Stem nie saam dat daar net 3 keuses aan die einde van apartheid was nie: segregasie, integrasie en emmigrasie. So eenvoudig is dit ongelukkig nie. Vir die regses was dit al alternatiewe omdat hulle vanuit hulle subjektiewe perspektief geoordeel het. Dis waarom ek hierdie geblog het: die regse perspektief is nie die enigste perspektief nie. My “subjektiewe, valse, oningeligte” opinie is ook ‘n perspektief. Ek reken daar is meer keuses as jou 3. Ek is hier, geniet SA, is gelukkig, maak ‘n lewe, het hoop ens. en het nie een van die 3 gekies nie. Regses reken egter (so dink ek, voordat ek weer as oningelig afgemaak word :-o), ouens soos ek het gekies vir integrasie. Miskien moet ons eers uitwerk wat elkeen onder integrasie bedoel. As dit bedoel dat ons saam as 1 gelukkige groep Suid-Afrikaners in die land woon, mede-burgerskap, mede-menswaardigheid, saam ‘n toekoms bou en al daai dinge, dan is dit sekerlik integrasie en dan is ek heel “happy” met die soort van integrasie. Die soort integrasie offer egter nie my mens-wees, persoonlikheid, kultuur, taal, godsdiens of enige derglike dinge op nie. Ek vermoed die regses het ‘n ander siening oor integrasie en die effek daarvan.

    Jy maak self die punt dat werklike vryheid is om die keuse te kon uitoefen – “contradict” jy jouself dan nie? Hoekom wil jy dan in ‘n volkstaat bly as jy reeds in die nuwe SA werklike vryheid het – die vryheid om keuses uit te oefen; jou geloof en kultuur te beoefen ens? En wat die veroordeling in punt 2 betref: ek het nie mense veroordeel wat Orania toe trek nie… maar dit het ek reeds hierbo behandel.

    Praat van subjektiewe opinie: volkstaat hoef nie altyd ‘n opsie te wees nie; nie nou nie en ook nie oor 300 jr nie! Of anders gestel, ek bly reeds in my volkstaat. Suid-Afrika is my volkstaat, net soos dit Sipho Tshabalala s’n is.

    Demokrasie het baie vorme (die plek is te min om hierop in te gaan, maar die VSA is tipies ‘n spesifieke vorm wat eintlik baie min “demokrasie” aan die volk gee). Dus, jou punt dat ons oor onsself moet regeer is baie relatief. In watter vorm van demokrasie, want ons vorm, al is dit proporsioneel, is ‘n vorm van selfregering. As jy bedoel selfregering, in die kleinste letterlike sin waar Afrikaners oor hulleself regeer (soos ek meen die regses daaroor dink) …. reken ek dis onprakties en maar net ‘n ander vorm van demokrasie. “What’s the point”. Solank daar ‘n grondwet met grondregte is, is die vorm van demokrasie debatteer.

    Pieter du Toit mag dalk moedsiwllig gewees het, maar dat hy ‘n paar baie raak punte maak, kan jy sekerlik nie betwyfel nie; soos dat die beweging vir ‘n volkstaat, die VF+, Orania ens na 14-20 jr nog nie regtig veld gewen het nie.

    Ter aflsuiting: ek hoor nog net te veel “apartheids-retoriek”; woorde, begrippe wat ek assosieer met breinspoeling van die ou regime. Soos dat ons geveg het in ‘n tipe heilige oorlog ten behoud van die christendom. Dit was pure snert – die christendom het nie gesterf nie (hieroor kan ek nog vele skryf vanuit ‘n teologiese perspektief, maar dis nie die punt hier nie); genoeg om te sê: dit voel vir my asof die regses verlang na ‘n bedeling wat in sy eie ondergang in sy wese/binneste rond gedra het.

    Like

    • sorry, ek’s nie jou vriend nie….. of is jy vriende met volksverraaiers?

      ek’s liewer ‘n “volks”verraaier as ‘n rassis….🙂

      uhh, maar dis natuurlik ‘n OPE vraag van watter “volk” ons hier praat ne? Daar’s in my opinie nie so iets soos ‘n Afrikanervolk nie’ wel ‘n Suid-Afrikaanse volk; die afrikaanssprekende komponent van die SA volk is nie ‘n volk nie; dis ‘n groep binne ‘n volk.

      maar soos julle dit sien, is ek met trots en met passie ‘n “volks”verraaier, want ek identifiseer beslis NIE met dit wat die Afrikaner geword het nie; hoe varkeriger, hoe “snaakser”

      Like

  3. dit sê iets van beeld se lesers! dis hoekom ek nie meer die beeld lees nie want opbiously cater die koerant vir sy lesers. pretoria news is baie beter!

    Like

  4. “Jy maak self die punt dat werklike vryheid is om die keuse te kon uitoefen – “contradict” jy jouself dan nie?” Nee, en daar is niks “regs” omtrent my nie. Daar is ander moontlikhede onder vryemark-anargisme, duidelik verwar die term Volkstaat jou(so ek sal dit nie gebruik nie), orania is deel van NSA en sal altyd wees, alle ander lokalismes (gay gemeenskappe; gelowige gemeenskappe, vryedaggaroker gemeenskappe, taal gedrewe gemeenskappe, ens,ens,ens) sal ook wees, daar is ook ander vorme van vrywillige regering in die afwesigheid van die staat. Die probleem is soos jy dit stel, jy kom van n teologiese agtergrond terwyl ek vanaf n historiese agtergrond kom, ek wil nie n volkSTAAT he nie, ek wil geen staat he nie, daar is geen rede vir die bestaan daarvan nie. Baie van die retoriese argumente wat jy huldig is teen regse argumente wat ek nie huldig of ken nie en ek neem aan dis oudmodiese dom argumente van voor my tyd.

    “swartes uitkryt vir mense sonder verstand terwyl hulle om die etenstafel bid”- Ek is jammer maar dit is nie emosioneel nie, dis kru kinderlik emosioneel en waar jy daaraan kom dat jou sogenaamde “regses” so optree weet ek nie, een video clip is nie verteenwoordigend nie, dis soos om een dronk swartman op n Sondag te sien en te se hulle is almal…………..( So jy doen presies wat jy veroordeel).Ek ken baie regses en elkeen van hulle vat my op grond van weldeurdagte argumente aan(meeste van die tyd), so moenie ander mense se kinderlik emosionele argumente as n verskoning vir jou eie gebruik nie.

    Die “beef” wat ek het, is jou veroordeling van rassisme wat jy “in my opinie” misverstaan. Elke daad en besluit in jou lewe is n reeks diskriminasies teen ander moontlikhede, jy kan nie iets onwettig maak wat deel is van menswees nie. Rassisme is gevaarlik! Maar slegs n staat kan rassisties wees tot die punt waar dit tot oordrewe moord en diskriminasie lei! Apartheid, Naziïsme, Transformasie al hierdie dinge word gepleeg deur die staat, nie individue nie, ja daar sal altyd klein individuele gevalle wees, maar individue beskik nie oor die staatsmag om dit tot meer as n keuse of n belediging te bevorder nie. So die skuldige is dus die sentrale staat. Niemand se burgerskap tot NSA word bevraagteken nie, jy vra hoekom jy na n volkSTAAT sal wil trek, nee ek weet nie ek sou ook nie, dit sal tot oorlog lei. Maar as hulle n VOLKstaat in die woonstel blok langs myne stig sal ek dit nogal oorweeg (Begin die terminologie nou duidelik raak?) Dit het niks met n STAAT te doen nie.

    “Orania na 14-20 jr nog nie regtig veld gewen het nie” – Dit hang baie af van jou definisie van veldwen is, het miljoene getrek? -nee, groei hulle?- ja beslis en onthou hulle het met niks begin nie. Ek is van plan om later vanjaar met n blog te begin oor Anargisme insluitende redes vir die wettiging van prostitusie en dwelms, ek gaan die Oostenrykse besigheid’s siklus verduidelik saam met die goudstandaard en vorme van lokalisme, sal vir jou n skakel kom los as ek wegspring. Sterkte met die integrasie Spartaan!! O ja amper vergeet ek, ek gaan een Bybelboek ook analiseer, daarop sal ek jou kritiek nogal waardeer.

    Like

  5. Hallo

    Los gerus jou skakel, ek sal graag wil lees.

    Net 1 punt: dit bly vir my vreemd dat jy “nog nie gehoor het” van die stellings waarna ek vewys het nie (miskien is ek ouer as jy, ek sla nie weet nie). Ek kan jou verseker, dis nie enkele gevalle waarvan ek hier praat nie; en ook nie enkele gevalle van “simpel” mense nie; ook nie 1 video clip nie (trouens, die video clip het maar bevestig wat ek reds jare lank al hoor); dis stellings en verwysings na swart mense wat ek oor baie jare, van verskeie mense al gehoor het; oud en jonk, gegradueer en on-gegradueer; blou kraag en wit kraag.

    Ek neem egter aanstoot tot hierdie stelling “so moenie ander mense se kinderlik emosionele argumente as ‘n verskoning vir jou eie gebruik nie”. Ek weet nie hoekom jy my persoonlik aanval en probeer diskrediteer nie – iets wat beslis nie bydrae tot ‘n lekker gespreksforum nie. Uit my blog, dan ten minste uit hierdie spesifieke blog behoort dit heeltemal ONDUBBELSINNIG duidelik te wees dat ek nie ander se argumente as verskonign vir my eie te gebruik nie. Om die waarheid te sê, hulle arguemente/gesegdes/verskoning walg my. Ek kan nie verstaan hoe jy einigsens ‘n afleiding uit enigiets wat ek sou geskryf het kan aflei dat dit eintlik “deep down” my eie gevoel sou wees nie. Ek projekteer niks nie; ek reageer omdat ek moeg is vir rassisme; swart en wit. Ek’t rêrig gedink ons kan 14+ jr later darem daar verby kom. Blykbaar nie!

    Like

  6. Iets wat my sommer net opval in hierdie gesprek, is dat mens mis die eenheid wat slegs in Christus gesetel kan wees, gemeet teenoor die mens se pogings om hoegenaamd eenheid te bewerk in die argumente op die tafel. Mens wil ‘n stelling waag, wat sekerlik nie te riskant is nie… en dit is, dat geen eenheid wat die mens bewerk, standhoudend kan wees of selfs werklik eenheid bied nie. Dit sal altyd kunsmatig wees en die NSA is ‘n kunsmatige eenheid, waar verskillende kulture op mekaar afgedwing word, met die hartseer gevolg dat dit opsigself konflik bewerk. Hierdie eenheid wat ons hier sien is ‘ontwerp’, deur ‘n skepsel om anargie aan die hand te werk en die mens sal in naïwiteit, wanneer hulle nie satan se hand kan sien nie, die blaam op mekaar probeer plaas en eintlik die hele punt mis, aan die einde van die dag.

    Daar is net een enkele eenheid wat werklik sinvol is en hierdie eenheid is eenheid in Christus. Hier is NIE 80% Christene in hierdie land nie, hier is kwalik 5% en ek gebruik hierdie persentasies bloot as aanduider. Die meeste mense volgens die enigste waarheid, God se Woord, wandel op die breë weg en die kleiner minderheid op die smal weg. Dit is ‘n gegewe en juis oor hierdie rede is ‘n demokrasie so gevaarlike sisteem en volgens Bybelse standaarde die swakste regeringsvorm wat daar is. Satan weet dit ook en juis daaroor word die ganse wêreld gedwing om demokrasie as enigste sogenaamde werkbare model aan te hang. Eintlik is dit volgens die beginsel van ‘vryheid in Christus’, die enigste werkbare model, waar individue vry genoeg is in hulle keuses. Die probleem is, meeste mense in buite Christus en juis oor hierdie rede kan dit nie werk nie. Kapitalisme as arm van vryheid in ‘n demokratiese bestel kan net werk, as daar hoë morele grond is en eenheid kan ook net werk as daar hoër moraliteit is. Die probleem is, daar is nie veel oor van morele standaarde nie en die mens wil dit wat Christus alleen kan bewerk, kunsmatig bereik.

    Ons sal nooit antwoorde vind, buite Christus nie en alhoewel van hierdie antwoorde sekere mooi beginsels nastreef, is dit ‘n verlore saak, want dit vra dat daar etiek moet wees, wat daar nie is nie. Daar staan hierdie waar profetiese woorde in Daniël 2 geskrywe, “Dat u die yster gemeng met kleigrond gesien het—hulle sal deur menslike gemeenskap onder mekaar vermeng raak, maar hulle sal nie aanmekaar vasklewe nie, net soos yster nie met klei meng nie.”

    Buite Christus is daar geen werkbare eenheid nie en net die volgende vers in Daniël 2 bevestig wat die gevolge is, wanneer ‘n mensdom totaal mislei is en gekonfronteer gaan word met die enigste werkbare oplossing, maar dit nie wou aanneem nie…, “Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ‘n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan— net soos u gesien het dat sonder toedoen van mensehande ‘n klip van die berg af losgeraak het wat die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud verbrysel het. Die grote God het aan die koning bekend gemaak wat hierna sal gebeur; en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar.”

    As dit moontlik negatief mag klink, dit is bloot realisties…, want ons mors tyd om hierdie aarde die hemel te maak, dit sal nooit kan wees nie en moet tot ‘n einde kom en die einde is voor die deur!

    Like

  7. Ferdie, ons is nog nie in die hemel nie en daarom moet ons ‘n staatsbestel skep waarin almal kan woon met die meeste beskerming teen staats-vergrype moontlik – demokrasie. Teokrasie sal ons eendag in die hemel beleef, nie hier nie. Snaaks dat selfs in die Bybel en Bybelse tye, teokrasie vroeg al “opgeoffer” is vir ‘n monargie en later, demokrasie (romeinse tyd).

    As ek die Bybel, Jesus, Paulus ens. reg lees, dan gaan dit nie oor die skep van ‘n “christelike staat” nie, maar oor christene wat leef in die wereld, ongeag die staatsbestel (Nero en kie)! Vir ons gaan dit nou oor die Koninkryk van God, nie oor ‘n aardse koninkryk nie.

    Like

  8. ekkedink,

    Vir myself gaan dit geensins oor die sisteem waarin ek myself bevind nie, want gelowiges is deel van ‘n koninkryk wat nie van hierdie wêreld is nie en dit alleen is waaroor dit nou vir gelowiges behoort te gaan, hier stem ek werklik 100% saam met jou. Tog kan ek nie sien hoe mens ‘n demokrasie as die beste moontlike staatsbestel kan sien nie, wyl die Bybel in die boek Daniël die herstelde Romeinse Ryk (demokrasie), as die swakste van al die regeringsvorme aandui nie.

    Dit pla my nie werklik nie, maar mens kan sekerlik nie dit wat die Bybel as swakste regeringsvorm uitwys, as die beste een definieer nie, of kan mens?

    Like

  9. Pingback: Snaakse soekterme « ekke dink

  10. Pingback: volkstaat « ekke dink

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s