Mighty Men 09 : Getuienis

Ek het vanoggend ‘n lekker opsomming van die onlangse MMC 09 in Greytown gelees, een in die vorm van ‘n dagboek; geskryf deur Fred Berrington, sendeling in Mosambiek.  

Die een boodskap wat oom Angus tuisbring is: morele herstel in ons land! 

Ek plaas “Fred se dagboek” as opvolg op my blogs op die MMC (met sy toestemming).

Woensdag 22 April 2009 

Na die manne vroegoggend kruisies getrek het is ons oppad uit Mosselbaai na Angus Buchan se plaas in Zoeloeland om deel te wees van die nagenoeg 200 000 krygers vir die Mighty men konferensie. Mense het baie opinies oor die aartappelboer wat sieleboer geword het van Greytown. Een ding wat ek agtergekom het is dat almal wat negatief is oor die prediker wat breerandhoede weer mode gemaak het, nog nooit self op sy plaas was nie, so dit sal goed wees om self te sien. Die ure na Bloemfontein het vinnig verdrink in die stimulerende gesprekke en droewors kou-sessies saam met mederuiters Wessel en Barend. Wessel is aan die brand vir die Here en vol grappe maar hoewel hy ‘n tandarts is lieg hy darem nie soos ‘n tannetrekker nie( al spot hy gedurig hoe trots hy is op sy nederigheid). Barend is weer een van die bedagsaamste ouens wat ek ken. Hy skroom nooit om te dien en aan iemand die liefde van Jesus te wys nie. In Bloem het ons gestop om vir Beyers op te laai, ‘n oulike besigheidsman van Mosselbaai met wysheid en insig wat raar is vir iemand sonder ‘n silwer haredos. 

Donderdag 23 April 2009 

Ons het so drie ure geslaap by Beyers se gawe familie voor ons 2 vm die warm kooi verruil het vir die gesellige langpad. Ons moes eers Beyers en die Suzie-stem van die GPS sinchroniseer voor ons kon ophou verdwaal in Bloem. Maar teen 10 uur is ons klaar uitgepak in Greytown en word ons deel van wat lyk soos ‘n vinniggroeiende voortrekkerlaer op steriods. 

Wessel se tweelingbroer ( hulle lyk nie eens soos mekaar nie, veral nie Wessel nie) is ons waardige kampkommandant. Seef het alles wat jy kan droom om nodig te he en nog wat en een van hierdie sleepwaentjies gehuur wat ten volle toegerus is. Saam met die waentjie het ‘n klomp van die niceste ouens gekom wat ek in ‘n lang tyd ontmoet het. Ek en Bedagsame Barend het ‘n entjie gaan stap om die plek te besigtig.Ons staan verstom oor die grootte van die plek en toerusting. Die see van stoele en hooibale, die agt verdieping verhoog, reuse reuse plasmaskerms en uitmuntende klank vanuit die luidsprekertrosse slaan ons asems weg. In die kamp is daar ‘n tasbare opgewondenheid en amper gewyde atmosfeer, mens slaan sommer in hoendervleis uit as jy so loop en kyk, hier hang ‘n sterk herlewingsgeur in die lug. Dan is daar die interessante mense wat jy nou nie almal op ‘n evangelistiese veldtog sou verwag nie: 

“No more Guns ‘n Roses, we want God and Moses” – tipes wat lyk of hulle vir ‘n rockkonsert opruk, en omies met vellies en langkouse wat sukkel om kakiehemde oor bierpense in hul rugbybroekies te druk. Hier is ouens met plekke wat minder vel het as silwer en gaatjies, ou toppies met grys hare, knopkniee en bree middelpaadjies. Ou Jan van player 23 faam se ewebeelde, Weg-lesers wat die kuns vervolmaak om te kan kamp in weelde. Die reenboognasie se elke kleur, en jongmanne met haarstyle wat hul manlikheid kamoefleer. Ook die afrigter van die Bokke, en Harley bendes met baadjies, boarms, brille en lokke. Ons het gesien van jong seuns tot metromanne selfs Aussies en mense wat hemde dra van Ingilse spanne. Almal het met een doel saamgekom, en dit is om aangeraak te word deur Hom. Nie een sal teleurgesteld wees, want hier raak die Here elkeen aan deur Sy Gees. 

Ek het vandag die publieke storte gaan uittoets. Privaatheid het nou nie die swaarste geweeg in die ontwerp nie om die minste te se. Jy trek uit en trek in by een van die 30 storte in die ry en dan moet mens bietjie rondspring om nat te word deur die dun straaltjies. Dis nou nie omdat ek so maer is nie, inteendeel ek moet deesdae al meer my maag intrek in die stort dat my voete nat word. Hulle voorsien “bio D-gradable” seep maar ek sou dit nie eens ‘n D gee nie want dit skuim glad nie. Nogtans was die yskoue stortjie in “shower town” verfrissend. 

Vrydag 24 April 2009 

Die nag was koud so ek het my geleende slaapmus aangetrek (wat soos ‘n laerskool dogtertjie se skrumpet lyk) tot groot vermaak van Barend. Iewers in die nag het ‘n paar geraasmatiese manne probeer bid dat jy dit tot op die ruimtestasies kan hoor tot ontsteltenis van die gereformeerde boeromies wat self die nagtelike snorkery tot op die richter skaal probeer trek. Vir middagete het ons worsbroodjies geeet en aangesien ons vrouens nou nie hier is nie het ons vir slaai maar botter opgesmeer. Ons het ons meer as 2 ure voor die preek na die opelug arena toe gehaas want toe is die eerste dertig rye al vol – so ‘n honger en afwagting het ek nog nooit gesien nie. Meksikaanse golwe en klap klap klap-klap-klap JESUS krete het iets van die gees onder die mense verklap. Met die preek vanaand het ‘n energieke Oom Angus die manne uitgedaag om hulle saak met die Here reg te maak. Elke nou en dan gee hy ‘n diep Amen kreet en dan antwoord ons dat die kranse antwoord gee. Op sy uitnodiging het duisende en duisende manne opgestaan wat die Here vir die eerste keer aangeneem het en nog meer wat geroepe voel om vir die Here te werk. Ek is nou nie ‘n klip nie en het al so 5 keer ‘n traan gepik in my volwasse lewe. Aan die ander kant sal ek myself nou nie beskryf as ‘n emosionele klong of iemand wat in aanraking is met sy vroulike kant nie. Die trane het egter oor my wange gerol tydens die eerste sessie – sonder enige emosionele opsweeping, die teenwoordigheid van die Heilige Gees was net so ‘n werklikheid. Daar is ook vir genesings gebid en baie het gevoel die Here raak hulle fisies aan en genees hulle.

Saterdag 25 April 2009 

Vanoggend het Oom Angus ons kom uitdaag om geloof te he, ons het aan sy lippe gehang. Hier is ook niks van die geldgierigheid en “prosperity teaching” wat ‘n kenmerk is van baie tele-evangeliste nie, inteendeel die boere prediker het ons aangemoedig dat swaarkry deel is van die geloofsbou proses. Iewers namiddag het Mighty men FM en die luidsprekers die manne bymekaargeroep en die ons word ingelig dat Angus Buchan net na die sessie inmekaargesak het. Die dokters op die toneel het gemeen dit is ‘n hart aanval. Die aand ervaar ons die Here se teenwoordigheid op ‘n besondere manier tydens die lofprysing en aanbidding. Deur die bank het ons ervaar die Here het Oom Angus se afwesigheid gebruik om te wys dit gaan oor Hom en nie oor Angus nie. Die voorsanger hier is ook nie sommer enigiemand nie, inteendeel dis Niemand. Joe Niemand. 
Brittanje se Susan Boyle het my en ander 999,999 Youtubers geleer mens trakteer nie iemand op sy haarstyl nie. Ok maar goed want Joe het ‘n haarstyl en baard soos die kinder Bybel duiwel maar kyk die man sing soos ‘n engel. As hy sy oe toemaak en sing dan is ons in die hemelse troonkamer. Joe het 300,000 cd’s gemaak sodat elke konferensie ganger een van die “Glory to the King” cd’s verniet kon kry. Hy gee goue en platinumstatus weg, sommer net so! Vanaand se lofprysing het my gebroke voor die Here gelaat, my traankrane is behoorlik oefening gegee. Selfs later in die gietende reen staan die manne vas, ons staan net en loof en prys die Here met Sy liefde wat elkeen omvou. Ek is seker selfs die stoerste doppers se hande het hemelwaarts geneig. Dit was awesome awesome en die twee ure van aanbidding was in ‘n oogwink verby en steeds het ons gevoel ons kan die hele nag aanhou, dis of tyd stilstaan. Dis mos hoe herlewing moet wees. 

Sondag 26 April 2009 

Ek het vanoggend vroeg opgestaan om te bid, die Here het my weer ‘n honger en dors na Hom gegee en meer passie vir Hom as wat ek ooit gehad het. Mens kan mos nie in die teenwoordigheid van die Here staan en dieselfde bly nie. Oom Angus was vandag weer op die been en getuig dat hy gedink het dit is die einde, maar ervaar het hoe die Here hom genees terwyl ons vir hom bid. As ek iets oorkom sal ek nie maaind dat oor die 100 000 manne saam vir my bid nie. Ek het die naweek net so vier van die 1,6 miljoen koeldranke beskikbaar gedrink. Die logistieke eise was asemrowend maar die organiseerders het met vlieende vaandels geslaag, net om nooit soos vroumense in die ry te staan by enige toilet nie tel klaar baie in my boekie. 

Ons het eers bietjie rustig gebraai en tente afgeslaan en eers namiddag vertrek om die ergste verkeer te mis. Oral langs die pad Bloem toe kom ons van die ander manne tee wat daar was en amens in Buchan styl het weergalm elke plek waar ons gestop het. 

Maandag 27 April 2009 

Vandag is ek weer by my skoonouers se huis na nog ‘n slapie in Bloemfontein. Die terugrit was baie aangenaam en die ervaring het ons vier mederuiters tot ‘n vriendskap saamgesmee wat baie dieper is as die tyd wat ons mekaar ken. Na 5 dae uitmekaar is dit nie moeilik om my oulike vroutjie lief te he soos Oom Angus ons aangemoedig het nie. Ek is net oor een ding spyt regdeur die Mighty men belewenis, dis dat elke man wat ek ken nie daar was nie. 

Groetnis
Vurige Fred namens die Mighty men

 

Kontak Fred & Paula gerus om meer van hul bediening in Mosambiek te leer.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s