Teleurgestelde Verwagtings

Ek is tans besig met Maleagi en vind hierdie interresante stukkie, wat ek aanvanklik gedink het nie veel te sê het nie, en maar net so tussenwerpsel is tussen die vorige gedeelte oor die huwelik en die volgende oor die dankoffers van Israel.

Hier lê toe so ‘n verskuilde stukkie goud!  Ek som PA Verhoef se kommentaar hierop vir myself op:
“The books of Haggai & Malachi” (1987), Eerdmans Publ, Grand Rapids.

 

Agtergrond:

Die historiese en teologiese agtergrond van die volk se “kerm” lê in hulle ervarings.  Hulle het teruggekeer uit Ballingskap, ongeveer 10 – 20 jr gelede.  Vroeg na die terugkeer het hulle serk Messiaanse verwagtinge gehad aangesien die terugkeer gesien is as ‘n wonderwerk. 

  • Serubbabel is deur God gekies en het dit vir hule moontlik gemaak (Hag 2:23), saam met die hulp van koning Darius;
  • die tempel is herstel en die kultiese godsdiens is hernu onder leiding van Esra en Nehemia (Esra 3:10-13, Hag 2:9);
  • die volk het hulle verbondsverhouding met die Here hernu (Neh 8 – 10).

Die daaropvolgende jare was egter nie so “wonderwerk-agtig” nie. 

  • Die Messiaanse tydperk het toe nie plaasgevind nie (nog nie);
  • Israel was nog steeds onder Persiese bewind (1:8), weliswaar ‘n goedgunstige een, maar nogtans;
  • Die beloofde land (van melk en heuning) het nie die paradys geword nie.  Inteendeel, hulle oeste het misluk weens o.a. sprinkane en droogte (3:11);
  • maar miskien die ergste, hul religieuse aktiwiteite het ‘n plig geword (burdensome) (1:13); en sonder enige geestelike ervaring (2:13)
  • die volk, onder leiding van die geestelike leiers, het al meer die verbondsbepalings verbreek (2:8,10).

Dit is binne hierdie agtergrond dat die Israeliete begin wonder het of dit nog sin maak om die verbonds- of kultiese bepalings na te kom.  Hulle verwagtings het nie meer konkrete betekenis gehad nie.  Godsdiens het vir hulle “‘n pyn” geword. Met hierdie “teleurgestelde verwagtings” verwoord die profeet namens die volk wat hy waarskynlik “along the grapevine”  hulle hoor sê het. Dit is die agtergrond van hierdie gedeelte.

Hulle afleiding uit dit alles is dat die boosdoeners kan doen net wat hulle wil én klaarblyklik daarmee weg kom voor God.  Dit maak blykbaar geen verskil of iemand goed of kwaad doen nie, want hulle word nie onmiddellik deur die Here se toorn verdelg nie.  Daarom, hul (veregaande) afleiding wat hulle hieruit maak :

  • dat God dus daarmee tevrede is.
  • of, God is afwesig (:17 waar is die God van oordeel?).  Hoekom verdelg Hy nie die boosdoeners nie?

Hulle afleiding is totaal uit voeling met wie God werklik is/was.  Hulle waag dit om die boosdoeners se werke “goed in die oë van die Here” te noem; dit terwyl Hy hulle uitdruklik beveel het om reg en geregtigheid te laat geskied (Deut 4:25; 9:18; 6:18; 12:28).  As God se volk moes hulle juis goed en reg doen, maar a.g.v. hulle skewe ervarings, is hulle afleiding dat God homself nou kontradikteer; asof dit nou goed is om “evil” te wees; asof Hy selfs daarin vreugde vind!?!  Daarom sê die profeet dat die volk en priesters die Here moeg maak met hulle gesanik, selfs met hulle kultiese bepalings wat hulle ewe getrou nakom.  Dat hulle tot so ‘n konklusie kom is eintlik verregaande, en getuig maar net verder van die swak toestand waarin hulle verbondsverhouding en belewenis was (iets wat Maleagi reeds in die eerste 2 hoofstukke al aangespreek het – dooie verbondshandelinge sonder vreugde in die Here self!). 

Om te kla by die Here is egter nie verkeerd nie.  Vergelyk maar net Asaf en Dawid se Psalms, Job, Habbakuk ens.  Maar hierdie was klaagliedere tot God vanuit ‘n opregte verlange na ‘n intieme verhouding met en verstaan van God en Sy werke.  In so ‘n gesindheid is versugtinge van ‘n opregte gelowige nie iets “wat die Here moeg maak” nie.  Wat die profeet hier egter aandui is nié so ‘n opregte hart en gesindheid van die priesters (wie mede-verantwoordelik was vir die volk se verbondstoestand) en van die volk nie.  In Maleagi se geval was dit nie noodwendig “geestelike groei” wat hulle gemotiveer het tot hierdie “klaagliedere” voor God nie, maar eerder selfsugtige eie belange; selfs voorspoed en/of politieke belange.  Hulle het klaarblyklik ‘n gesindheid gehad van ‘n volk wat gemeen het God is verplig om hulle te seën.  Solank hulle hulle deel doen (kultiese verbondsverpligtinge, al is dit meganies en dood), moet God sy kant bring.  Dit, sê die profeet, “maak die Here moeg” en as Hy kom, sal Hy hulle kom suiwer van hulle “doodsheid”.  Dan sal hulle sien wie is die regverdige en teenwoordige God wat optree teen boosdoeners, selfs al is dit lede van Sy eie verbondsvolk!  God het immers al in Dawid se tyd gesê Hy verlang nie offers nie, maar opregtheid en gehoorsaamheid.  Offers was maar deel van die kultiese bepalings, maar dit was nie die hart van die verbondsvolk se godsdiens nie. 

Die profesie fokus op die tweeledige “frustrasie” / afleiding (hierbo) van die volk.  Maleagi antwoord hulle in die algemeen in verse 3:1-2 dat die Here wel sal kom, voorafgegaan deur ‘n boodskapper.  Vanaf 3:2c-4 antwoord Maleagi meer spesifiek die aanklag dat God “tevrede” is met die boosdoeners.  God is nié tevrede met die boosdoeners nie en keur nié hul werke goed nie.  Wanneer God kom sal Hy weliswaar kom reinig.  Wat hulle waarskynlik nie besef het nie, was dat God nie net vreemdelinge in die oog gehad het nie, maar selfs die boosdoeners onder die verbondsvolk.  Net omdat hulle verbondsvolk is, beteken nie dat hulle Sy oordeel sal vryspring nie.  Die verbond beteken nie outomatiese beskerming en vrywaring teen God se oordeel nie.  Die vraag na God se regverdige oordeel word laastens spesifiek geantwoord in 3:5.  By sy verskyning sal Hy regverdig kom oordeel en verlossing bring.

Teks

17 Julle het die Here moeg gemaak met wat julle gesê het, en dan vra julle nog: “Waarmee het ons Hom moeg gemaak?” 
Julle het dit gedoen toe julle gesê het: “Vir die Here is almal wat verkeerd doen, goeie mense, Hy hou van hulle,” of toe julle gevra het: “Waar is die God wat reg moet laat geskied?”  

1  Ek gaan nou my boodskapper stuur, Hy sal die pad voor My uit regmaak, en dan sal die Here na wie julle soek, skielik na sy tempel toe kom. Ja, die Verbondsengel na wie julle met soveel vreugde uitsien, gaan nou kom, sê die Here die Almagtige.  2 Maar wie kan die koms van dié Engel verdra, wie kan standhou wanneer Hy verskyn? Hy is soos die vuur van die smelters en soos die seep van die wassers.  3 Soos iemand wat silwer smelt en suiwer, so sal Hy as regter gaan sit om die Leviete te suiwer, om hulle te louter soos goud en silwer, sodat hulle aan die Here ’n offer kan bring wat bestaan uit regdoen. 

4 Dan sal die offer van Juda en Jerusalem weer aanneemlik wees vir die Here soos in die ou tyd, soos in jare lank verby. 

5 Dan sal Ek na julle toe kom as regter: Ek sal sonder versuim regspreek teen dié wat hulle met toordery ophou, teen die egbrekers en dié wat vals ede aflê, teen dié wat die dagloner te kort doen, die weduwee en die weeskind veronreg en die vreemdeling verdring, teen dié wat nie vir My eerbied het nie, sê die Here die Almagtige.

Die Bybel  : Nuwe Vertaling. 1998, c1983 (electronic ed.) (Mal 2:17). Cape Town, South Africa: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

Toepassing 

Hier is twee probleme wat ook met ons verband hou.  Die eerste probleem is natuurlik dat ons, soos Israel, dadelik vergelding soek.  As iemand iets teen ons gedoen het, wil ons dadelik, of sélf vergelding toepas; of ons verwag van God om dadelik in ons guns te oordeel en so iemand te straf.  En as dit dan nie gebeur volgens ons selfsugtige behoefte nie, is dit maklik om dan ook (soos na-eksilliese Israel) te dink: “God moet dan seker met so iemand se lewe tevrede wees”? 

Hier lê m.a.w. ‘n les in eskatologiese verwagting.  God sal regverdig oordeel wanneer Hy kom om te oordeel en te verlos.  In Christus het Hy natuurik reeds eenmaal gekom en genade en verlossing gebring.  By Sy tweede koms sal die finale oordeel plaasvind.  Maar dis nie iets wat ons kan “beheer”, of afdwing, of eis nie.  Intussen word ons geroep om in ‘n lewende verhouding met Hom te staan.  God is ook nie aan ons enige seën verskuldig nie – dis alles genade.  Daarom kan ons ook nie veel seën verwag as ons “dooie godsdiens” bedryf nie.  Maar, wat weliswaar anders is as in Maleagi se geval, is dat God ons reeds in Christus verlos het.  Ons hoef aan die ander kant, dus ook nie onseker en vol twyfel dag-na-dag te loop en wonder of God dan nou wel met ons “tevrede” is of nie.  God se genade in Christus maak ons vry van verwagtinge en skuldgevoelens.  Dis daarom ‘n fyn balans: vryheid vs verantwoordelikheid t.o.v. ‘n intieme verhoudng met God in Christus.   Vryheid = verantwordelikheid!

Die tweede probleem is dat ons ook dikwels teleurgestelde verwagtings kan koester.  Ons het die Nuwe SA met groot fanfare binnegegaan en baie Suid-Afrikaners (miskien veral swart Suid-Afrikaners) het gedink dat ons nou die beloofde land ingegaan het; en 14 jr later lyk dit soms swaarder as vroeër.  Talle mense “verlekker” hulle daarin dat van hulle swart werkers soms die opmerking maak “dit was beter in die ou SA”. 

Ander teleurgestelde verwagtings wat ons mag hê kan rondom die wederkoms wees; rondom vergelding teen iemand wat ons uit ons kosbare spaar geldjies uit bedrieg het (Fidentia?, skuld, rente, swendelaars); rondom ons werk en/of bevordering ens.  Dink maar in jou eie lewe, aan enige teleurgestelde verwagting wat jy het rondom jou begrip van God se “bestuur” van Sy skepping.  

Miskien moet ons seker maak of ons verwagtinge nie uit eie-belang voortspruit nie, selfsugtige verwagtings van hoe ons dink dinge behoort te verloop; of hoe God behoort te oordeel en te verdelg.   Hy is nie dood of afwesig nie.  Hy is getrou en regverdig, maar ook genadig en barmhartig. 

“Volg jy my”, en vergeet van ander.  Hou op rond kyk en jouself met ander vergelyk.  Ons elkeen is op ons eie mylpale in ons pelgrimsreis na God.

Die boodskap vir my uit die gedeelte dus:

  1. Dien God met ‘n opregte hart, strewe na gehoorsaamheid; leef in ‘n opregte lewende verhouding met Hom in en deur Jesus. 
  2. Check jou eie verwagtinge rondom God en Sy soewereiniteit.  Hy is God en het daarom die alleenreg en kennis om te bepaal en te doen wanneer en hoe Hy wil.  In dit alles werk dit tog ten goede vir ons; dis ‘n belofte (Rom 8).

Enigiemand iets anders?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s