Geloof, God en die kerk

Ek het vanoggend nou ‘n knorrigheid hier binne-in my. 

 Ek lees nou al elke dag die afgelope week hoe mense gal braak oor God/godsdiens, die kerk, gelowiges en dominees.  Natuurlik is dit elkeen se reg, maar bestaan die blogosfeer dan nou net uit anti’s.  Waar’s dié wat net soms ‘n bietjie kan opkom vir die bogenoemdes.  Wel, God het natuurlik nie nodig dat ons vir Hom hoef op te kom nie, maar hopelik verstaan julle wat ek bedoel…

Ek ontken nie dat dominees droog maak en nonsens praat nie.  Ek is self ‘n dominee, maar nie meer ‘n dominee in ‘n gemeente nie omdat ek gewoon nie meer kan saamstem met die speletjies wat te veel in kerke gespeel word nie.  Maar wragties, hulle is ook net mense wat ook maar net die beste probeer doen (en sê), en ook maar sondig is, en ook maar bely in hulle binnekamer wanneer hulle drooggemaak het op die kansel ens.  En as hulle nie met julle saam stem oor, byv. gays, die Nuwe Hervorming, die rol van die kerk, geloof ens. maak dit hulle nie absolute gemors, outyds, “shame, hulle moet nog ge-emansipeerd word, slim word“, “shame, hulle lees nog die Bybel letterlik, hulle is fundamentaliste” nie.  Terloops, ek ken bitter min dominees wat gays die hel in stuur; weliswaar ‘n klomp wat reken dat gay wees nie Bybels regverdig kan word nie, maar daarom soos enige ander sonde hanter moet word; soos ook lieg, egbreuk ens. wat tog voorkom by lidmate in die kerk, ook lidmate (en dominees) wat geloofsekerheid het omdat hulle op Jesus se soenverdienste staan.  Die debat gaan nie oor gays wat hel toe moet gaan nie (dit kan geen mens bepaal nie!), maar of die kerk dit moet goed praat.  Maar ek wil nie nou ‘n gay debat begin/voortsit nie.  Ek het dit teen die klomp bloggers wat “holier than though” alle dominees verkleineer tot “gemors”; en eintlik doen hulle presies wat hulle meen die dominees doen.  “Keep your eys on the Creator, not ons His creation”.

My tweede knor vanoggend is die blogs oor God.  Ja daar is sin in wat rev geskryf het, en wat attie ge”paste” het van Julian en dies meer oor geloofsdenke.  Maar God is darem ook nie heeltemaal so ongeopenbaar aan ons dat ons niks oor Hom kan sê nie.  Hy het Homself geopenbaar in Jesus Christus.  En al is daar meer goeters oor God wat ek nooit sal kan begryp of verduidelik nie (onthou, ek glo dat as ek God heeltemaal vir jou kan verklaar, Hy te klein is om my God genoem te word), kan ek ten minste troos vind daarin dat Hy my Vader is deur Jesus Christus, dat Hy my liefhet, dat Hy Skepper én Herskepper is, dat Hy nie ‘n deterministiese God is wat net toekyk hoe die eens magtige masjien (aarde) wat hy “aangeskakel” het so op sy eie loop nie, dat Hy alle mag aan Jesus se heerskappy onderwerp het (ja ook alle politieke mag) ens.  Dié openbaring oor God maak nie dat ek al die antwoorde het op dood, Eskom, die ANC as magsfiguur ens nie.  Maar dat God weliswaar nog in beheer is, is my troos en krag en fondament.  Dat ek wel iets oor God weet en iets oor Hom kan vertel aan ander, is sekerlik waar want wanneer die dominees preek, preek hulle meeste van die tyd onder leiding van die Heilige Gees.  Ons het ‘n stukkie openbaring van God en mag (moet!) dit deel met die wêreld.

En twyfel:  ja, ons almal se geloof ry sekerlik wipplank met ons tussen sekerheid en twyfel.  Maar is dit nie juis in die oomblikke van tywfel dat ons moet gryp na die Woord van God nie.  Volgens oorlewering het Martin Luther, as hy getwyfel het, sy doop in herinnering geroep omdat die doop die teken van God se onfeilbare verbond met hom is dat Hy graag sy God en Vader wil wees (wat jy natuurlik daarmee maak is ‘n ander saak).  Dis juis die kennis van die Woord wat ek in herinnering roep wanneer ek twyfel – Joh 1:12, Joh 6:47, Joh 3:16; Hand 4:12; 1 Joh 5:13 ens.  Is die hele gesprek oor geloofsekerheid nie juis dat ons moet besef dat Jesus alles gedoen het, dat ons niks kan doen of bydrae nie.  Is dit nie so dat ons twyfel omdat ons ons eie sondigheid, ons eie onvermoë besef en dan wonder of ons dit tog gaan “maak” nie.  Eff 2:8-10 – ons word uit genade gered, deur geloof.  Hierdie redding kom nie uit julleself nie; ….. sodat niemand enige rede om op homself trots te wees nie…”  Presies, as ek ‘n bydrae kon lewer tot my redding, sou dit EK gewees het; nou is dit nie.  En andersyds, as ek besef dat ek nie ‘n bydrae lewer nie, dan sal ek inderdaad twyfel.  Maar nou is dit nie ons en ons bydraes nie!

My derde is die gal oor gelowiges en godsdiens.  Talle blogs die afgelope week kraak godsdiens en gelowiges so af dat dit my nie sal verras dat nog meer mense nog meer sal twyfel in ‘n tans twyfelagtige samelewing nie!  Niks is meer seker nie.  Ja, godsdiens word dikwels skeef getrek.  En godsdiens word dikwels iets wat niks meer met die Drie-Enige God uit te waai het nie.  En ja, te veel preke is niks anders as verswarende moralisme nie.  Maar dit beteken sekerlik nie dat alle godsdiens daarom weggegooi hoef te word as ‘n nuttelose oefening nie. Bloggers maak asof diegene wat nog godsdiens bedryf, so vêr agter is dat hulle nie eers meer ernstig hoef geneem te word nie; dat hulle nog sal “groot” word; dat hulle net ‘n klomp veroordelende moraliste is; verstok in hulle denke.  Miskien moet ons nie praat van godsdiens nie, maar van ‘n verhouding met God hê, soos attie se blog oor Leonard Sweet (terloops attie, ek kry nie die boek by CUM nie) dit gestel het.  Dis OK om nog te wil glo in God; dis nié agterlik of onvolwasse nie.  Dis OK om ‘n gelowige te wees, wat wel nog kerk toe wil gaan (al is dit soms maar leeg in inhoud).  Dis OK om nog godsdiens te beoefen. 

So, nou voel ek beter.  Ek skaar my baie keer by julle, by kritiek teen die kerk, maar dis net asof ek die week te veel gelees het hoe die tradisionele geloof belaglik gemaak word.  Miskien bietjie meer persoonlik: My skoonpa was ‘n ds sy lewe lank; die mees opregte mens (sondaar) wat ek geken het.  Was sy lewe ‘n futiele oefening gewees?  Het hy geen bydrae gelewer tot die troos en versterking van mense nie?  Hy het!  My ma is ‘n sterk tradisonele gelowige, wat sekerheid het, wat haar troos en krag kry in haar verhouding met God.  Ek sal dit nie van haar wegneem nie.

Ek?  Wel, ek is een van daai “agterlikes” wat nog glo in

  • Jona en die walvis,
  • in die see wat oopgekloof is,
  • in die maagdelike geboorte,
  • in water wat in wyn verander is,
  • in die opstanding, wag, kom laat ek dit anders stel, FISIESE opstanding. 

Want die God van die Bybel kan die onmoontlike.  Ek onderskryf nie alles wat rev sê nie; maar ek beskou my ook nie as ‘n “tipiese” dominee of gelowige met finale antwoorde nie.  Ek beleef God veels te veel juis buite die kerk.  Ek worstel ook daagliks met “issues”, maar ek kan my nie indink sonder die “vaste burg van my God” nie.  As “groot word” beteken om dié vaste bakens weg te gooi, dan wil ek nie groot word nie.  Ek vind my in goeie geselskap – Jesus het self gesê ons moet maar soos kindertjies glo, (nie soos slim een-twintigste-eeuse mense nie), en dié kleintjies moet nie verhinder word nie.

belydenis.jpg

7 responses to “Geloof, God en die kerk

  1. My simpatie is met jou. Wat ookal mens se standpunte mag wees oor die kerk se houding/menings oor homoseksuele, uitverkiesing en dies meer, vir my is die belangrikste dat die vermoë van geloof om goed te doen en te troos, oneindig meer is as wat dit kwaad doen.

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s