Steve Hofmeyr

Ek lees in die Beeld van 19 Januarie 2008 onder die opskrif: “Hofmeyr te warm vir PNA” die volgende oor Steve Hofmeyr se nuwe boek, Jêmbekseep:

‘n Aanhaling uit dié boek, wat PNA van hul rakke afgehaal het, klink so:

‘Het God nie self die doodstraf ingestel nie?’, vra jy. Ja, Hy’t ook skulpvis en gays verdoem, stout kinders laat stenig, kinders deur bere laat opvreet, Sy Seun vermoor en, met voorkennis, ‘n wêreld geskep waarop Bart Simpson sou kon verbeter. Dan stuur hy Sy Seun om ons te verlos van dieselfde ding wat ons nie goede maak nie, sonde. En is Mugabe, hongersnood, kinderverkragters en die Midde-Ooste die beste waarmee ‘n Almagtige vorendag kan kom?”

Dan sluit Steve Hofmeyr ewe vermakerig blykbaar af deur te sê: “… kan die boek jou slegs omkrap as jy ‘n snob, ‘n sinode, ‘n Stormer of die regering is“.

Eintlik is ek sprakeloos!  Het ons so agteruit gegaan dat ons ikone so godslasterlik kan praat en dan cool is?  Ek het al die jare gedink, of jy van sy musiek hou of nie, hy moet gekomplimenteer word met sy verhoogpersoonlikheid.  Maar met hierdie siening, kan ek hom nie eers meer daarvoor respekteer nie.  Queen het ook goeie musiek gemaak, maar wragties, iemand vir wie God ‘n lewende wonderlike Vader is wat alle eer en aanbidding verdien, kan net soveel vat!  Ek reken dat die brawe Steve nie die guts het om iets soortgelyks oor Mohammed te skryf nie.  As hy nie wil glo wat ek glo nie, is hy welkom.  Maar die minste wat hy kan doen is om respek vir my geloofsoortuigings te hê.

Wat my dwars in die kop steek is dat ons Suid-Afrikaners in die laaste tyd dink , hoe meer barbaars, hoe snaakser?  Iewers het iemand gedink dat die kettings van geloof ons net verstik het.  Ons het losgebreek en nou kan ons maar onopgevoed wees – dis nou talent.  Die T-hemde (soos wie’s jou —– oom; of wil tannie ook —-; of ek’s so hot want my pa se —- —–;  ens) wat “Gooi Mielies” verkoop is …, wel gewoon onopgevoedheid.

Nee wat, as dit die nuwe Afrikaners is, dan bedank ek ook as Afrikaner!

12 responses to “Steve Hofmeyr

  1. Die probleem met ons as Christene is dat ons verwag dat almal ons openbare uitsprake oor God moet verduur. Maar ons gun ander nie die reg om hulle uitsprake openbaar te maak nie. Want hulle behoort respek te hê vir ons God. Omdat ons respek het vir hom.

    Ons beskou dit as lasterlik as mense disrespekvol teenoor God is. Maar ons vergeet dat niemand kan laster teen dit waarin hy/sy nie glo nie. Ek gun dus vir Steve sy uitspraak. Well, nie dat hy my toestemming daarvoor nodig het nie. Ek dink net dat Christene gerus kan leer dat ons nie ons God en ons idees oor die God verpligtend vir almal kan maak nie. Hulle mag maar hulle eie opinies daaroor hê en kan huldig.

    Like

    • @Rightsaidreverend, As mede broer in Christus wil ek vir jou bemoedig en ook se dat jy ‘n sterker opini jeens God waardig is. Wat sal jy eendag vir Jesus se as Hy vir jou se dat jou pasie om mense te waarsku nie sterk genoeg was omdat iemand onder jou watch hel toe is nie?

      Ek gee nie om indien mense vir my se ek mag nie ander godsdienste kritiseer nie, ek weet dat ek reg is want Jesus woon in my hart. Dis al wat saak maak. Waarom moet ek opsy staan vir ‘n Moslem wat oppad hel toe is en moet luister hoe hy mense saam met hom wil neem?

      Die verskil tussen ‘n geesvervulde Christen en ‘n radikale Moslem le nie daarin dat die Moslem radikaal is en die Christen pasief nie, nee altwee is radikaal. Maar die een het gekies vir die hel en die ander vir die hemel.

      As Christene moet ons waak om nie lou te word nie.

      Like

  2. Rev.: Aan die een kant stem ek met jou saam. Mense het nie ons toestemming nodig om te sê hoe hulle oor God voel nie. Ek wil verder gaan en sê dat ons nie regtig nodig het om God te verdedig nie – Hy kan dit self doen. Ek gun ook vir Steve sy uitspraak, maar dan moet Steve ook mos verwag dat mense wat van hom verskil sal reageer op dit wat hy sê. En dit is tog wat Swartwitpens hier doen. Steve is nie alwetend nie en sy mening is nie die laaste mening nie. Daar is die van ons wat in God glo en tog ook die Here liefhet en dit maak seer as mense sulke dinge kwytraak. Klink my amper soos om te sê dat die wat nie soos ek oor my vrou voel nie, die reg het om haar in die openbaar ‘n slet te noem. Ek mag nie my mening oor my vrou in die openbaar verkondig nie. Dit lyk my Christene kan maar min dinge reg doen in jou oë. Hoekom skryf Steve nie bietjie Alla daar waar hy God skryf nie, dan kyk ons wat gebeur. Nee wat, ek gaan nie terugsit en toelaat dat Steve sê wat hy wil sê nie. Ek verskil met hom en ek het nie minder die reg om dit te sê nie. Skuus as jy so skaam is oor die evangelie dat jy die hele tyd moet witvoetjie soek by die ouens wat geen respek daarvoor het nie.

    Like

  3. rev, soos ek gesê het, ek gun hom sy opinie, maar soos twyfelaar dit ok mooi sê, so het ek ook die reg op my opinie oor sy uitsprake oor God.

    Jy preek en sê: “Is julle lam kerk? Is julle lam dominee’s, ouers, kinders? Hoekom lyk dit asof ons sukkel om vir ʼn nuwe wêreld te wys hoe lief God ons het? Waarom kry ons dit nie reg om deur ons lewens, ons werk, ons algemene optrede die boodskap van Jesus Christus se liefde vir hierdie wêreld te kommunikeer nie?”

    Wel, vir my is deel van hierdie “wys” om ook te wys dat ek bereid is om iets te sê wanneer iemand so oor dié enige God praat wat die wêreld oneindig lief het. Ek vat my eie kinders vas as hulle disrespekvol oor my vrou praat; dis immers my vrou wie ek liefhet! Hoekom hét ons so lam geword, dominee?

    Like

  4. Ek wonder partykeer wat beteken die hele “moenie-mense-se-geloof-beledig-nie,-want-dis-disrespekvol-ding”. Ek meen daar is elke dag miljarde Moslems die wêreld oor wat in hul gebede verklaar Allah is die enigste God en Mohammed is sy boodskapper. Dit is redelik disrespekvol teenoor Jesus soos Christene hom verstaan, maar niemand meen dit is ongrondwetlik nie. Netso: Elke keer as ‘n Christen in die Kerk verklaar Jesus is die enigste weg na God is dit seker redelik disrespekvol teenoor al die miljoene Hindoes wat glo Krishna, Visjnoe ens. is God. Maar tog het Christene die reg om dit te doen.
    Kerke samel miljoene rande in en het skole van missiologie sodat hulle ander mense kan gaan oortuig dat hul menings verkeerd is – dis tog sekerlik disrespekvol.
    Enige twee wedersyds onversoenbare religieuse uitsprake is disrespekvol teenoor mekaar. Dalk moet ons nou maar aanvaar dat jy goed gaan hoor wat jou affronteer in hierdie wêreld en dat mens daarmee moet saamleef.
    God, indien daar so iets is, is hopelik groter as dit alles.
    Enigiemand sal tog toegee ‘n Christensendeling het die reg om Steve Hofmeyr van mening te probeer verander. Hoekom het Steve dan nie die reg om Christene van siening te probeer verander nie? Hoekom is die proses slegs cool as dit in een rigting loop, maar nie in die ander nie?

    Like

    • Bertus, jy en Steve het alle reg om my saligmaker Jesus te beledig.
      Jesus kan Homself verdedig teen julle disrespek en Godslastering, ek hoef dit nie doen te doen nie, julle nie uitkryt as “Infidels” en julle uit haat wil doodmaak soos die Moslem god Allah , soos hy opdag gee aan sy volgelinge in die koran nie.
      Lees bietjie die Koran en sien die haat daarin.

      So dis eintlik baie maklik, jy het ‘n keuse. God het dit vir jou gegee. As jy ‘n man van haat is, word ‘n Moslem. As jy ‘n man van liefde is, volg Jesus.

      Net nog so ietsie om aan te dink egter…Jesus is die enigste God onder al die gode (Allah ingesluit) wat verklaar dat Hy die weg en die waarheid is. GEEN ander god doen dit nie. Jy kan slegs die hemelpoorte ingaan deur Jesus as jou saligmaker te aanvaar.

      En hier kom die crunch line my vriend, as jy nog dink daar is nie ‘n hemel of hel soos wat die bybel se daar is nie, kom ons veronderstel dat ek al die tyd verkeerd was en daar is nie ‘n hel hierna nie. Wat het ek om te verloor? Ek gaan nie hel toe nie. Maar kom ons veronderstel JY en STEVE is verkeerd en ek is reg. WEER GAAN EK EN MY MEDE broers en susters in Jesus NIE HEL TOE NIE…… MAAR jy, Steve, Mugabe, al die Moslems en die miljoene wat Jesus nie in hulle harte het nie HEL TOE MY VRIEND, HEL toe.

      En wat ek hier wil se is dat God jou ‘n LOGIESE besluit gegee het, nie ‘n (Pie in the Scy) emosionele godsdiens, hoop dit tref miskien besluit nie. En al rede waarom ek so moeite doen om ‘n ellelange waarskuwing vir jou te stel, is sodat jy nie eendag vir God kan se: Maar Here, U het my nie gewaarsku nie!!

      Jy het jou waarskuwing gekry. En as jy dit lees, is dit van die Here af WEES GEWAARSKU!

      Like

  5. Ek het ‘n lang comment hier geskryf, maar dit het verdwyn, helaas.

    Steve is ‘n ongelowige (in die tradisionele sin), ander mense is gelowiges. Soms se^ gelowiges lelike dinge oor ongelowiges (daar bestaan immers evangeliste en departemente van missiologie), soms se^ ongelowiges lelike dinge oor gelowiges (daar bestaan immers Richard Dawkins). So ding hulle mee om mekaar se volgelinge af te rokkel, al eeue lank. As ongelowiges nou skielik nie meer geloof mag kritiseer nie, dan moet omgekeerde tog sekerlik ook geld, en mag gelowiges nie meer ongeloof kritiseer nie. Dus, geen meer preke teen ateisme of waarskuwings teen ongeloof nie, want dis disrespekvol teen ongelowiges. Indien mens dan bostaande argument logies konsekwent wil deurvoer.

    Like

  6. Bertus: Jy’s seker ‘n punt beet, maar ek dink daar’s ‘n groot verskil tussen die kritiseer van geloof en die kritiseer van die G(g)od van die geloof.

    Ek kritiseer self my geloof. Ek kritiseer hoe die kerk (lees kerkmense) geloof verkerklik het, en so vervorm het dat talle mense God soek en beleef buite die kerk. Ek kritiseer die uitdrukking van my geloof. (Miskien moet ek eendag ‘n blog hieroor skryf.)

    As ek dan ook ander gelowe kritiseer, doen ek dit eerstens met die wete dat niemand van ons die volle waarheid in pag het nie (ook nie ‘ons’ nie), maar dat ek dit immers as denkende wese kan beoordeel (kritiseer) in die lig van wat ek glo. Maar ek sal nie waag om die G(g)od van die ander te kritiseer (Mohammed [kan nogal gevaarlik wees], Dala Lamai, Buddha ens) nie, bloot uit respek vir die volgelinge se gevoel/verhouding jeens sy/haar G(g)od. Dit is wat my problem met Steve se uitspraak was, nie oor my/ons geloof nie, maar oor die God van my geloof! Ek wonder of ek dit maar kan sê, maar in die bohaai die laaste paar dae oor Steve, bevestig dit die feit dat hy geen respek het vir ander en hulle oortuigings nie.

    Dit gaan dus oor die gesindheid, die piëteit waarmee ons kritiek uitspreek en BEoordeel (LW nie veroordeel nie). Indien ons nie mag nie, hoef ons ook nie meer te dink nie, of hoe!

    Like

  7. Steve, jy sê dat jy dit nie teen God het nie, maar teen die karikatuur wat van God (en ek dink jy sou ook wou sê godsdiens) gemaak word.

    Ek sal jou die voordeel van die twyfel gee. Ek het dit ook teen die karikatuur. Ek dink egter jou woord keuse, soos hierbo aangehaal (uit Jêmbekseep) is jammer en waarskynlik meer kontra-produktief. Dis nou as jy wil hê mense moet die karikatuur-beelde raaksien en weer die ware God en Gods-diens (nie religie, soos dit ontwikkel het) her-ontdek.

    Like

  8. Twyfelaar, ek hou van jou stelling: ons hoef God nie te verdedig nie, Hy kan (en sal) dit self doen deur Sy liefde!

    Ek is deesdae almeer verstom dat soveel mense in die wereld in ‘n god (OK, ‘n profeet) glo wat mense opdrag gee en beloon wat ander gelowe dood maak, o.a. Christene; wat kinders vang en verkoop as slawe (boko). Watse god is dit?????

    Like

Lewer kommentaar