“Yahweh (God) bestaan nie”!

Proefskrif deur Wedergestorwe Christen

Die stigting van die EI (Evangeliese Inisiatief) moet vir die dosente van die NG Kerk by Tukkies ‘n irritasie wees. Net toe hulle gedink het hulle “buddies” (die ondersoek kommissie) het hulle vrygespreek op ene Ferdie Muller se aanklag van dwaalleer, ontstaan die EI. Dié keer kom die vrae oor hul leerstellinge nie van ‘n student nie, maar van gerespekteerde teoloë. Die krapperigheid veroorsaak toe sommer dat die Alg Sin deur Dr Kobus Gerber ook reageer. Goeie ding, die EI. Wag nuuskierig vir die volgende rimpelings…

Intussen vind ek ‘n doktorale proefskrif in Ou Testament aan die Universiteit van Pretoria (2003) van Jaco Gericke wat op web forums bekend staan as Wedergestorwe Christen, waarin hy bewys dat Yahweh (die Hebreeuse woord vir God) nie bestaan nie. Die volledige titel is: “Does Yahweh exist? A philosophical-critical reconstruction of the case against realism in Old Testament Theology” en is hier te lees.

Baie kortliks probeer Jaco in 7 argumente bewys dat die Bybel verskillend, selfs onsamehangend oor Yahweh skryf dat dit niks anders as ‘n fiktiewe God is wat deur die Bybelskrywers gerekonstrueer is. Om God dus uit die OT te probeer bewys, is vir Jaco gewoon nie moontlik nie. In sy eie woorde (Appendix A) erken hy dat God nie meer bestaan nie (“God is dead and I’m not feeling so good myself”, Gericke, JW. 2003:493), veral nie as jy met realisme(?) die Bybel eerlik bestudeer nie.  Sy autobiografie is hartseer leesstof.  Daarin vertel hy hoe hy as ‘n toegewyde konserwatiewe fundamentalis teologie gaan swot het en geleidelik, deur die kritiese wetenskap van veral die OT, kortweg sy geloof in God verloor het. Hy weet egter nie wie om die skuld vir dié verlies te gee nie (ek het nogal ‘n opinie hieroor, maar sal dit dalk later blog).

Kan God bewys word, of “sy nie-bestaan” bewys word.
Persoonlik het ek nog nooit gedink dat God bewys hoef te word nie. Ja, daar is talle dinge in die Skepping wat onteenseglik bewys dat daar ‘n God is, maar dit is amper slegs sigbaar vir die gelowige oog. Ek het nog altyd geglo geloof is onbewysbaar; dis trouens waarom dit geloof is. Hebr 11 sê nie verniet dat om te glo is om seker te wees van die dinge wat ons nie sien nie. Indien ons dit sou sien (en in my boek, kon bewys), is dit nie meer geloof nie. Om te glo in God, verg geloof. Daarna sal jy wel talle dinge in die skepping kry wat die betaan van hierdie wonderlike Almagtige God vir jou bevestig.  Maar tot dan, is God in ‘n sekere sin onbewysbaar. Terloops, as God volledig bewys kan word deur ons menslike verstand, is Hy te klein om my God te wees.

‘n Paar vrae oor die proefskrif:

    1. ‘n Mens is gewoond dat ‘n skrywer in sy voorwoord so ietsie deel rondom die Skripsie of tema, iets wat jou moet innooi in die boek in. Ek vind egter in Jaco se Voorwoord ‘n oordrewe verduideliking waarom hy hierdie tema geskies het. Waarom het hy dit nodig gevind om sy tema so sterk te verdedig? Is dit dalk omdat hy self nie oortuig is dat dit ‘n sinvolle onderwerp is om te ondersoek nie?

Dit klink amper soos ‘n regverdiging…

  1. Waarom wil jy ‘n D in Teologie hê as jy duidelik nie glo in die bestaan van Yahweh nie. Hy dink sekerlik nie om ‘n teologie-dosent, of selfs ‘n dominee in die NG Kerk te word nie? Jaco antwoord self deur te sê dat dit ‘n noodkreet is om hulp, om verstaan in dit waarmee hy worstel (of so verstaan ek dit). Na die lees van sy autobiografie (Appendix A), verloor sy “wetenskaplike” proefsrkif alle wetenskaplikheid vir my. Hy’s reg, dis eerder ‘n noodkreet as ‘n wetenskaplike studie. Dis dalk eerder iets vir ‘n sielkundige om hom mee te help; maar nie ‘n wetenskaplik-gefundeerde proefskrif vir ‘n doktorsgraad nie.

Phillip du Toit het baie moeite gedoen om Jaco se teorie te weerlê in ‘n artikel in TruthExposed (moeite werd om te lees). Onder andere wys Philip op growwe foutiewe teksverwysings in Jaco se skripsie, amper asof dit teksverwysing-diaree is i.p.v. grondige eksegese van elke teksverwysing. Philip gaan sover om te sê dat dit vir hom lyk asof Jaco gesny en geplak het uit ander bronne. Ek kan dus net aansluit by Philip en wonder hoe op dees aarde die promotor, eksterne eksaminatore én Universiteit ‘n D-graad aan hom toegeken het met sulke growwe, en myns insiens, onwetenskaplike metode van navorsing?

Ten slotte: Die Bybel is nié ‘n wetenskapshandboek, of ‘n chronologiese wetenskaplike verklaring van die skepping, of ‘n geskiedenishandboek nie, maar ‘n boek, geskryf deur mense en oorvertellings wat handel oor God se pad met die mens; God onderweg met die mens.

Wat my betref: die Drie-Enige God is so lewendig as kan kom! Sy Seun, Jesus Christus het opgestaan uit die dood, LEWE aan die regterhand van God waar Hy vir ons intree, en is met ons deur die kragtige werking van die Heilige Gees!

Sola Scriptura, Sola Gratia, Sola Fide***

2 responses to ““Yahweh (God) bestaan nie”!

  1. Romeine 1:19-21 “omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar.
    Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;
    omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister.

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s