10
Dec
07

Geloftefees

Dis al weer sulke tyd en “Afrikaner” feeste word oraloor op spesiale “geloftefeesterreine” gereël.  Ek moet erken, ek was nog nooit op so ‘n spesiale fees met ossewa, kuier en die gelofte nie.  Ek moes weliswaar al gereeld op geloftedag preek.

Ek is elke jaar dié tyd in ‘n tweestryd, want aan die een kant laat almal jou voel asof dit jou plig is om hierdie feesterreine by te woon; ten minste natuurlik geloftedag.  As jy dit nie doen nie, kan jy jouself kwalik ‘n christen noem.  En, in die ou dae was dit amper soos hoogverraad gewees as jy dit nie doen nie.  Ek is elke jaar in ‘n tweestryd omdat ek nie so opgewonde is soos my mede-Afrikaners nie.

My dilemma is nie soseer met die gelofte self nie (miskien klein bietjie, later meer).  My dilemma is eerder met hoe dit gevier word.  Ek het al van klein-tyd af al ‘n vraagteken oor die fokus waarmee Geloftedag gevier word; nl. die oorwinning van ‘n klein wit gemeenskappie oor ‘n magtige swart gemeenskap.  En soms word dit ook die oorwinning van die Christendom oor die heidendom genoem.  Nou dis presies waar my probeem lê.

  1. Die afleiding (en soms direkte gevolgtrekking) dat almal wat swart is, deel is van die heidendom en omgekeerd, is “obviously” onhoudbaar.
  2. Die wit/swart issue.  Ek het nog nooit die gelofte as ‘n wit/swart (boere/zulu) oorwinning gesien nie.   Trouens, ek reken dat, as ‘n swart christen nie geloftedag saam met my kan vier nie (m.a.w. die manier en inhoud wat ek aan die gelofte gee), dan verstaan ek en vier ek geloftedag verkeerd.  Hoekom het God dit dan gedoen?  Ek dink nie ons hoef eers daardie vraag te beantwoord nie.  Die Here se weë is nie altyd onmiddellik aan ons bekend nie.  Maar om emafaties te verklaar (soos sommige dit doen), dat God dit gedoen het omdat die Afrikaner Sy “lieflings-volk” is, of omdat Hy die swart bevolking wou uitwis, of omdat God gekies het vir wit teen swart, grens vir my aan heiligskennis.
  3. Kan enige geslag ‘n ewig-geldende belofte maak wat alle toekomstige geslagte raak?  Ek dink nie so nie.  Sarel Cilliers se gelofte kan sy geslag se mense “bind” om die dag te vier (met die régte inhoud en betekenis), maar wat die toekomstige geslagte betref kan hulle maar net die betekenis so oor vertel dat hulle nageslag(te) dit sal vier as ‘n “teken” (soos wat daar talle in die OT voorkom) van God se spesifieke voorsiening op ‘n dag in hul geskiedenis; maar van ‘n gelofte wat toekomstige geslagte moreel bind, dink ek nie.  Ek ag die dag belangrik en vier dit ook, as herinnering van wat God in die geskiedenis gedoen het.  Daardie gebeure het geen betekenis t.o.v. ons huidige sosio-maatskaplike (of volkekundige) situasies nie, en geen parallele kan getrek word na vandag, asof ons in ‘n moderne gelofte moet laer trek nie.

Ek hoop dus elke jaar dat ons as Afrikaners nader aan ‘n situasie sal kom waarin mede-swart christene saam met ons (soos in saam op dieselfde plek, nie elkeen in sy/haar klein hoekie met sy eie betekenis en inhoud nie) God se ingryping op dié dag kan vier.


5 Responses to “Geloftefees”


  1. 1 Jan
    30/07/2008 at 05:23

    Hoe lank gaan ons nog ter wille van “polities korrek” wees die kind met die badwater uitgooi – ten koste van God?

    Ek is weereens teleurgestel in my hoop om hier oplaas iemand te vind wat op die kern van die gelofte wil fokus maar dit lyk of die politiese kaf soos gewoonlik die oorhand kry om die fokus van waar dit hoort – op God se glorie – weg te skeur.

    Die essensie van die herdenking van die gelofte van Bloedrivier is om die glorie wat God toekom aan Hom te gee omdat Hy ‘n handjievol gelowiges se gebed verhoor en hulle van gewisse dood gered het – tot Sy eer. Van wie hulle gered was en wat die konteks was waarin dit plaasgevind het behoort strenggesproke van GEEN belang te wees nie en het eintlik met geen ongelowige iets te doen anders as om God se almag te toon nie.

    Hoe lank gaan politikuste ons oortuig dat hulle belangriker is as God? Hoe lank nog gaan Christene deur politikuste aan die reels gehou terwyl hulle dit self verontagsaam? Hoe lank gaan ons as dwase hulle toelaat om Sy kollig te steel? Hoe lank gaan ons nog erken die gelofte is belangrik “MAAR AS…” Wees eerlik: As jy tot die dood toe siek was (soos ons in sonde is) sou jy nalaat na om die kuur te neem omdat jy ‘n kontra-indikasie wat aandui dat die medisyne jou mag lomerig maak kon opspoor op die pamflet? Hoekom doen ons dit met God se saak?

    Ons het hierdie spesiale dag waarop daar iets tasbaars met ons (persoonlike) voorouers gebeur het om ons van God se nabyheid aan Sy kinders te verseker/herinner en ons laat toe dat politikuste dit vir eie gewin van ons steel. Dit bewys maar net weereens dat swarigheid wat God nou toelaat om oor ons te kom, ons toekom. Ons wys tog duidelik: God is nie meer die middelpunt in ons bestaan nie en ons voel dat ons voorvaders ons nie kon bind op hierdie manier in die gelofte nie – by implikasie is ons dus omgekrap omdat ons voorvaders ons “dwing” om aan God eer te bring vir Sy ingryping – terwyl daar vele ander “vakansie dae” is wat ons onbevraagteken laat en slaafs met die stroom navolg.

    Ek skaam my dood dat ons in hierdie donker dae waarin ons leef steeds nie die hand van Satan in die aanslag teen die herdenking van ons voorouers se gelofte kan sien nie. En dat ons steeds so lekker saam met al wat heidens is in die bad van modder en bloed saam “politiek” – wat bloot net die instrument is om ons aandag ook hierin af te trek en ons van God te probeer wegskeur.

    Mag God ons genadig wees.

  2. 2 ekke
    02/08/2008 at 10:48

    Jan: Ek weet nie hoekom jy my aanval nie aangesien dit presies is wat ek wil doen – om weg te kyk van die swart/wit issue en God te loof vir Sy wonderwerk op ‘n dag en datum in die verlede.

    My probleem is dat die, ek dink, “christelike nasionale” regering/kultuur ons oë verblind het van die kern van die saak – God se eer, en dit ‘n politieke saak gemaak het. Verder het Geloftefees amper die status van ‘n “heilige koeie”(met respek gesê) geword en jou nie-deelname daaraan is gesien as hoogverraad. DIS waarteen ek dit het.

    Maar dat God die eer en lof moet kry vir Sy ingrepe in die geskiedenis, daarmee is ek met jou eens! Dalk stel ek my irritasie lomp :-o

    Tog jammer vir ‘n paar van jou opmerkings wat m.i. geen duit bydrae tot ‘n sinvolle debat nie.

  3. 3 Jan
    04/08/2008 at 03:38

    Thinux: Ek is baie bly ons is dit eens dat die gelofte primer gaan oor God se glorie. Die feit dat ek jou irritasie deel aangaande politikuste (aan ALLE kante)se misbruik behoort duidelik te wees uit my reaksie en dit spyt my dat dit gesien word as ‘n aanval suiwer gerig op jou as persoon. Dit was nie die intensie nie.

    Leiers die afgelope paar dekades het afbreuk gedoen aan die glorie wat God toekom deur die saak te plooi vir eie gewin, terwyl die huidige leiers geen gevoel vir die kern van die saak het nie. Hulle het die herdenking reeds omskep in iets wat die fokus verder verwyder en die potensiaal het om dit totaal te vernietig indien ons dit net lank genoeg verwaarloos.

    My punt is dat ons meer kan bereik deur die tyd wat ons sou gebruik om te kerm oor die politikuste van die verlede of te spekuleer oor politikuste van die toekoms eerder te gebruik om mense na die die kern van die saak toe terug te lei sodat gelowiges hule verder kan verootmoedig en hul geloof kan versterk in die wete dat God daar is as ons hulp vra, soos hy by Bloedrivier gedoen het. Juis dit kom nie na vore in jou oorspronklike stuk nie.

  4. 24/09/2009 at 22:44

    Die slag van Bloedrivier is baie gemitologiseer deur die jare. Dit het nie regtig presies gebeur soos dit oorvertel word nie. Nadat Retief en sy makkers byvoorbeeld om die lewe gebring is, het die Zulus verder nog moord en doodslag gaan saai onder sy trekparty. Dit was, om die minste te sê, carnage.

    Dit het die Voortrekkers ‘n JAAR geneem om te herstel daarvan. Dit was nie van: Bloedriver is ons wraak, God is ons gids, die gelofte lei ons nie.


Leave a Reply




almanak

December 2007
M T W T F S S
« Sep   Jan »
 12
3456789
10111213141516
17181920212223
24252627282930
31  

wie dink saam

Blog Stats

  • 3,967 hits

argiewe

tags